|

|
Veiligheid
Suid-Afrika
|
Die Veiligheids-Forum
is ‘n nie-politieke, nie-regerings instansie wat uit ons eie sakke
befonds word en probeer om ‘n positiewe bydrae
tot vrede, veiligheid en voorspoed in ons pragtige land te maak. As u enigsins kan
bydra, finansieël of andersins, sal dit baie waardeer word. Kontak
asseblief die outeur by: plaasveiligheid@hotmail.com

Tuis | Huisveiligheid | Plaasveiligheid | Buurtwagte
| Onderhoud | Boeke | Praatjies
Wenke
en Diagramme | Gratis Vraelys | Benodigdhede
| Kontak

'n Eenvoudige en goedkoop tuisgemaakte
alarmstelsel met meervoudige normaal-toe sensors in 'n "Ring-kring"
(ook bekend as
'n Serie- of Geslote kring).
Die
doel van bogenoemde alarm is dié van 'n goedkoop, tuisvervaardige
alarmstelsel vir rondombeskerming (vir u deure / skuifdeure / veiligheidshekke
/ kluise ens), as vroegtydige waarskuwingstelsel (die buitegeboue / skure /
krale / motorhuise / skuifhekke ens), as nagalarm (terwyl u slaap teen
nagtelike inbrekers ens) of as bystandsalarm (vir u bestaande huisalarm) maar
dit kan ook in al hierdie behoeftes gelyktydig voorsien (afhangend van hoe groot
u dit bou). Die beginsel van hierdie alarm is dat dit heeltyd aktief is en dat
u slegs die sones wat u nie gebruik nie, uitsny met die sogenaamde sjunt- of
uitsnyskakelaars. Die voordeel van hierdie stelsel is dat dit nie sleutelborde,
rekenaar mikroprosessors of ingewikkelde kodes en werkinge het, wat u een of
ander tyd hoofbrekens gaan besorg nie. Dit is dus die spreekwoordelike "Ford"
van alarms en een wat u gewoonlik ook self met "draad en tang"
sal kan
regmaak. Alle komponente (behalwe die PIR "ogies") is gewoonlik
redelik goedkoop bekombaar teen minimale koste. Die idee is dat 'n ou/erige
(maar betroubare) motor- of motorfietsbattery, gelaai deur 'n toepaslike
batterylaaier, die stelsel sal aandryf. Hierdie is gewoonlik op meeste plase of
in huishoudings beskikbaar, so ook die batterylaaier. Die relê kan nuut gekoop word,
maar tweedehandse kar-relês wat bv. uit motorwrakke kom, kan ook gebruik word.
Die spesiale uitsny- of sjuntskakelaars moet verkieslik aangekoop word van
elektroniese handelaars, sodat net sekere sleutels daarvoor beskikbaar is.
Vermy die gebruik van 'bedlampie' skakelaars in die plek van die uitsny- /
sjuntskakelaars, omdat enige persoon dan met hierdie tipe skakelaars kan werk of speel.
Sirenes is gewoonlik nie te duur nie, maar 'n gewone 12volt motortoeter kan ook in hierdie se
plek gebruik word. Meer as een sirene / toeter kan natuurlik gebruik word om 'n groter
geraas te maak, bv. een elk aan weerskante van die huis. Die voorgestelde draad
vir die stelsel is die tipiese 4-aar sekuriteitsdraad, wat vervang kan word met
die 4-aar "Quad" van die Telkom tipe, wat natuurlik baie sterker en
meer duursaam is. Die 0.2 - 0.4mm, 2-aar Ribcord is baie dun en breek maklik,
maar kan deur
gewone "speakerdraad" vervang word, as u 'n sterker tipe draad
hier verlang. Sensors soos PIR "ogies" en enige ander soos
magneetsensors, word almal in serie gekoppel, soveel as wat u verkies.
Vanweë dié seriekoppeling kan
die battery, relê en sirene sentraal geleë wees en al die
sensors dus afgeleë in hierdie geslotekring geplaas word, wat soos
'n slang oor etlike meters sal strek en kronkel. Die motorbattery se hoë
strome en spanning, maak dat u die draad in hierdie kring sonder erge weerstand
en spanningsvalle oor groot afstande kan
gebruik. Die kring kan
vanweë hierdie rede dus etlike sones dek, soos bv. die
hele woning, 'n aangrensende motorhuis/e en 'n nabygeleë buitekamer, of
woonstel ens.
Agtergrond- Die voordeel van 'n geslote kring in
sekuriteitstoepassings, is vir die eenvoudige rede dat selfs wanneer die drade
daarvan geknip word, die Alarm nog steeds sal skree. Daar bestaan dus 'n tipe
van 'ingeboude beskerming' wat met die moontlike sabotasie van die stelsel, dit
outomaties na Alarmkondisie laat oorslaan, om die inbreker of Saboteur se
planne in die wiele te ry. Dit is waarom daar ook van die 'ou' metode van
Sensors met normaal oop kontakte, hedendaags eerder Sensors met normaal toe
kontakte gebruik word, of selfs Sensors met 'n kombinasie van die twee. Dit
beteken egter nie dat Sensors met normaal oop kontakte nie effektief en goed
aangewend kan
word in sekere situasies nie. Die onderstaande is 'n praktiese en werkende
kring, wat ontwerp is om so goedkoop en effektief moontlik beskerming te
verleen. Dit kan
so klein gebou word (met een Sensor) om bv. 'n enkel motorhuis in die nag teen
inbrekers te beskerm, of met twee tot drie Sensors in, wat 'n woonstel kan beskerm en dan drie tot vier (of meer) Sensors, wat
selfs die gemiddelde grootte woning kan
beveilig. In hierdie geval word dit aanbeveel as 'n toevoeging tot 'n bestaande
alarmstelsel, of om op sy eie gebruik te word om veral in die nag huisbewoners
wat in die woning slaap, teen nagtelike inbrekers te waarsku, iets wat al hoe
meer plaasvind. Dit kan
egter heeltemal as onafhanklike alarmstelsel ook funksioneer. Alle Sensors en
komponente word slegs met een stel, 4-aar draad (die sogenaamde
"4-Core" of "Quad") bedraad in 'n totale serie- of geslote
kring wat eenvoud en effektiwiteit waarborg. Die hele idee is egter dat dit in
samewerking met sterk sekuriteitshekke op elke slaapkamer se deur of een hek
gebruik word wat al die slaapkamers van die res van die woning afskei. Dit dien
veral dan as waarskuwing teen inbrekers wat alreeds die woning betree het,
alhoewel die huisbewoners nie maklik bereikbaar is nie, weens hulle afsondering
agter sterk veligheidshekke. Dit kan
egter op baie ander scenarios ook toegepas word. Huiseienaars moet natuurlik
altyd poog om inbrekers (dag of nag) eerder buite die
woning te hou, alhoewel dit nie altyd 100% moontlik is nie
Werking: Drie (of meer) sensors met normaal-toe kontakte
word in serie bedraad
aan 'n 12volt relê (R), wat dan die heeltyd bekrag (onder krag) gaan
wees. 'n Sirene (S) of gonser word nou tussen een van die normaal-toe kontakte
(wat nou oop gaan wees) van die relê (R) en 'n motorbattery (B) wat die
heeltyd gelaai word (L), bedraad. Sodra enige van die sensors 'n inbreker
bespeur, sal sy kontak oopmaak wat die relê (R) sal laat uitval, en
dié se kontak sal laat toeslaan om die sirene (S) te laat skree en die
huisbewoners te waarsku. Hierdie sal gebeur solank daar beweging is, maar die
kring sal homself outomaties weer herstel sodra die beweging opgehou het.
Uitsny of sogenaamde 'sjunt' skakelaars word parralel oor die sensors se
kontakte bedraad sodat die huisbewoners bv. deur die nag die badkamer/kombuis kan gebruik sonder om
die alarm te laat afgaan. Hulle skakel dan die 'sjunte' na toe, om die
sensorkontakte te kortsluit, voor hulle die kamer verlaat. Sodra hulle terug in
die kamer is, skakel hulle die sjuntskakelaar eenvoudig weer oop om die kring
nogeens aktief te maak.
Notas- 1) Sekerings ('Fuses') word nie aangetoon nie. Voeg sekerings
(± 5A) op gepaste plekke in die kring in. 2) Diodes word nie aangetoon
nie. Koppel 'n 1N4148 diode (of soortgelyk) teenvoorgespan in, op die basis
('Coil') van die Relê om beskadiging daarvan te voorkom! 3) Stel
die batterylaaier op drup-laai ('Trickle-charge') en sorg dat dit ingeprop en
die muursok permanent aan is! Gaan die battery se spanning en
watervlakke gereeld na! 4) Sensors se toevoer word nie aangetoon nie:
Onthou dat elke sensor ook sy eie 12V Gs-toevoer moet kry. Hierdie kan alles parallel van
een sensor na die volgende oor mekaar gedoen word. 5) Dit is raadsaam om die sjunt-skakelaars in elke slaapkamer só weg te
steek, dat onbevoegde persone nie 'n idee van hulle ligging verkry en dit kan saboteer nie!
Verskeie toepassings vir
die voorafgaande kring:
1 Motorhuis/e
Die sensor/s word teen die dak in die hoek/e geplaas. Daar moet natuurlik 'n
kragpunt vir die stelsel in die motorhuis beskikbaar wees. Die battery en sy
laaier moet verkieslik weggesteek of in 'n behoorlike kas toegesluit wees. Die
sirene kan enige plek weggesteek word waar dit
buite sig en bereik van diewe sal wees, maar tog baie lawaai kan maak. Die uitsny- of sjuntskakelaar,
moet dan so geplaas word dat u die stelsel kan afskakel voordat u die
motorhuis oopmaak, anders sal vals alarms veroorsaak word. Steek dié
skakelaar ook weg of gebruik 'n silinderslot-tipe skakelaar, waarvoor net u die
sleutel het. Stel die alarm aktief veral gedurende die nag of as u uitstedig
gaan wees, selfs gedurende die dag ook!
2
Woonstelle/buitekamers Die idee van die stelsel, is dat dit (veral in
die nag) beskerming verleen as iemand in die woonstel slaap. Die twee (of meer)
sensors word dan aktief gestel om die inwoner/s, wat ook nog agter 'n sterk
traliehek beskerm is in die slaapkamer, te waarsku sou iemand probeer inbreek
of alreeds binne die woonstel verkeer! Sou die inwoner/s bv. die kombuis
wou gebruik in die nag, word daardie spesifieke sensor uitgesluit, totdat hulle
weer veilig in die slaapkamer is, waarna dit weer aktief gestel word. Daar kan
ook 'n sensor in die slaapkamer geïnstalleer word, wat natuurlik altyd
uitgesluit moet word as iemand daar slaap, maar aktief gestel kan wees as die
woonstel leeg staan deur die dag, bv. wanneer almal by die werk is.
3
Wonings en huise Die idee van die stelsel, is dat dit (veral in die nag)
beskerming verleen as iemand in die woning slaap. Die drie (of meer) sensors
word dan aktief gestel om die inwoner/s, wat ook nog agter 'n sterk traliehek
beskerm is in die gang, te waarsku sou iemand probeer inbreek of alreeds binne
die woning verkeer! Sou die inwoner/s bv. die kombuis wou gebruik in die
nag, word daardie spesifieke sensor uitgesluit, totdat hulle weer veilig in die
slaapkamer is, waarna dit weer aktief gestel word. Daar kan ook 'n sensor in elke slaapkamer
geïnstalleer word, wat natuurlik altyd uitgesluit moet word as iemand daar
slaap, maar aktief gestel kan
wees as die huis leeg staan deur die dag, bv. wanneer almal by die werk is. In
'n huis met 'n gang kan 'n sensor selfs ook in die gang
aangebring word, wat natuurlik deur elke inwoner van elke kamer uitgesny moet
word, as hy bv. die badkamer gaan gebruik in die nag, maar weer aktief gestel
word sodra hy terug is in die slaapkamer. Vir huise sonder gange, soos sommige
ouer wonings bv, word een sterk traliehek vir elke slaapkamer se deur voorgestel,
met een sensor buite elke slaapkamer en dan een of twee ekstra sensors
vir die sit-, eetkamer en kombuis geïnstalleer, om
sodoende groot areas te
dek.
'n Tipiese bedradingsdiagram vir die voorafgaande, tuisgemaakte
waarskuwing- en alarmstelsel Gebruik die regte gekleurde draad vir die
toepassing, bv. Rooi; Swart; Groen en Wit 4-aar draad
("4-Core of Quad") Gebruik die rooi slegs vir die positiewe been van
die stelsel en swart slegs vir die negatiewe been. Die groen en wit drade kan in hierdie geval
saam gebruik word vir die seinbeen, omdat net drie drade eintlik nodig is in
hierdie spesifieke toepassing. Gebruik die 2-aar Ribcord baie versigtig,
aangesien dit ultra dun is en maklik kan
breek as dit te hard getrek word. Wees ook versigtig waar die Ribcord om skerp
kante van mure of ander voorwerpe gespan word. Alle bedrading en 'ogies' kan effektief met die
warm gom van 'n gompistool, ("glue-gun") teen mure geheg word. PIR
'ogies' word gewoonlik in hoeke naby die plafon gemonteer om 'n effektiewe
90° bespeuringsboog te verleen, maar kan ook plat teen die middel van 'n
muur gemonteer word om 'n effektiewe bespeuringsboog van 110° te gee. Stel
die 'ogie' se elektroniese kringbordjie vir 'n lang bespeuringsveld vir
maksimum beskerming en skroef dit dan stewig in daardie posisie vas