Veiligheid

Suid-Afrika

 

Die Veiligheids-Forum is ‘n nie-politieke, nie-regerings instansie wat uit ons eie sakke befonds word en probeer om ‘n positiewe bydrae tot vrede, veiligheid en voorspoed in ons pragtige land te maak. As u enigsins kan bydra, finansieël of andersins, sal dit baie waardeer word. Kontak asseblief die outeur by: plaasveiligheid@hotmail.com

 

Tuis | Huisveiligheid | Plaasveiligheid | Buurtwagte | Onderhoud | Boeke | Praatjies

Wenke en Diagramme | Gratis Vraelys | Benodigdhede | Kontak

 

 Algemene veiligheids- en wenke vraelys vir verbeterde beskerming van pondok, paleis, plot of plaas.

Gebruik dit wat u mag nodig kry en ignoreer die ander data wat nie op u van toepassing is nie.

 

1 Algemeen Dui u plaasgebied so volledig moontlik aan dmv. 'n eenvoudige skets. Dui die opstal, buitegeboue, stalle, skure, krale ens. aan. Dui die hoogste punt/e (H) en die laagliggende gedeelte/s (L) aan. Ook enige riviere, spruite, paaie en enige ander belangrike topografiese faktore wat u eiendom oor beskik. Dui benaderde afstande tussen sodanige items aan. Toon enige plantegroei/bosse/plantasies teenaan plaaspaaie, wat as wegkruipplek vir aanvalle en hinderlae gebruik kan word. Hoe ver is die opstal van die hoofpad (teerpad) geleë? Kan u die hoofpad van die woning af sien of nie? Deel nou hierdie skets 'n 'n reëlmatige ruitverwysingsraamwerk (blokke) op met 'n Alfabetiese skaal (A-B-C) van Wes na Oos en 'n Numeriese skaal (1-2-3) van Noord na Suid (soortgelyk aan wat padkaarte het) of ken u eie kodewoorde toe vir elke belangrike struktuur of punt van belang op die eiendom. Uself, u gesin en enige wagte moet nou hierdie kodewoorde aanleer tot hulle dit toe-oë ken vir latere gebruik oor die radio's of met telefoon-kommunikasie 

 

2 Begroting Wat se begroting het u beskikbaar om 'n goeie veiligheidstelsel op die plaas op die been te bring, of u bestaande een aan te vul en uit te brei, insluitende wagte, voertuie en toerusting?

  1. Geen (onaanvaarbaar)
  2. Tot R 10 000 uitleg plus R 1 000 / maand (redelik)
  3. Tot R 30 000 uitleg plus R 3 000 / maand (goed)
  4. R 30 000 - R 50 000 (of meer) uitleg en R 3 000+ / maand (uitstekend)

NB:- Onthou dat as u goeie samewerking met die bure het en wagte met hulle deel, kostes ook gedeel kan word en sodoende "groter" dienste vir "kleiner" individuele bydraes die gevolg kan wees. Streef dus altyd na goeie buurmanskap en samewerking ten spyte van onderlinge geskille vir en tot almal se gesamentlike voordeel. So kan elke drie tot vyf plase bv, of 'n groep landbouhoewes 'n selgroep/-struktuur vorm, waar hulle 'n aantal wagte deel wat op deurlopende grondslag (24 hr) hierdie gebied patrolleer. Dit kan wagte wees wat deur hulle self aangestel is en betaal word of andersins dié van 'n goeie sekuriteitsmaatskappy. So kan die totale koste/s van hierdie, gewoonlik duur maar baie noodsaaklike middel, opgedeel word tussen individuele lede en bekostigbare pryse vir elkeen tot gevolg hê. Voorkomende polisiëring deur hierdie wagte se deurlopende, sigbare patrollies is baie belangrik vir 'n gebied se pro-aktiewe veiligheidsmaatreëls, waar sterk mannekrag altyd op kort kennisgewing beskikbaar is, veral waar daar vrouens en kinders met tye alleen mag wees. Dink maar terug aan die magsvertoon van die "ou SAW” en die gemoedsrus wat dit geskep het as 'n groot aantal parate en goed toegeruste soldate 'n gebied beset het: Dit het enige misdadiger koud laat word tot in sy skoene!!! Kriminele versprei gou die woord as 'n sekere gebied "No-Go" is weens sy paraatheid, net soos hulle ook weet as 'n omgewing 'n sagte teiken is weens sy onbetrokkenheid en slaprug houding

 

3 Woning

  1. Beskik die woning se vensters oor volle diefwering (Spaanse diefwering) binne/buite met 'n minimum dikte van 10mm, ronde- of vierkantige stawe?
  2. Het die buitedeure almal sterk sekuriteitshekke? Is hierdie hekke se skarniere sodanig dat dit nie oopgebreek kan word nie en is die hek ook versterk met ekstra slotte om dit te beveilig?
  3. Is daar 'n sterk sekuriteitshek in die gang om die slaapkamers af te sonder van die res van die woning, veral in die nag? Is hierdie hek se skarniere sodanig dat dit nie oopgebreek kan word nie en is die hek ook versterk met ekstra slotte om dit te beveilig?
  4. Het die huis 'n goeie alarmstelsel? Hoeveel PIR 'ogies' is daar en waar is hulle geleë? Is die alarmpaneel (alarmrekenaar) in 'n sluitbare kas/ingeboude kas geïnstalleer? Ongeveer watter datum was die alarm geïnstalleer en wanneer laas was dit gediens? Hoeveel paniekknoppies is daar en werk hulle almal? Werk die rook- en glasbreeksensors nog almal en wanneer laas was dit getoets gewees? Is die alarm se bystandbattery nog effektief as die krag skielik sou faal/afgesny word? Is die waarskuwingslig en sirene so hoog gemonteer dat dit nie maklik deur 'n persoon vanaf grondvlak beskadig kan word nie? Is die motorhuis ook van 'n PIR sensor/s voorsien en op die huis se alarm gekoppel? Kan u alarmstelsel vir u waarsku oor die radionetwerk of met een of ander elektroniese beller ("Tele-Dialler" of Cele-Dialler eenheid)?
  5. Is daar flitse met herlaaibare batterye op 'n permanente grondslag in alle slaapkamers beskikbaar? U kan nie na gewone batterye (of dié waarvan die suur uitgeloop het) soek in 'n noodgeval in die donker of 'n rookgevulde vertrek nie!
  6. Bestaan daar spreiligte rondom die woning wat in noodgevalle aangeskakel kan word om beter na buite te kan sien? Is daar ook 'n sterk sirene (hoog op die dak, of op 'n hoë paal geleë) wat met sekere tye aangeskakel kan word om 'n oorverdowende lawaai te maak?
  7. Het u 'n nood-veiligheidsplan wat in werking gestel kan word in 'n noodsituasie en weet al die gesinslede (insluitende die kinders) wat hulle te doen staan in so 'n geval?
  8. Het u 'n goed toegeruste Noodhulpsak/-tas binne maklike bereik in die huis? Ken die kinders die basiese tegnieke van bloedstelping en die A-B-C van noodhulp?
  9. Word daar goed na u honde se welsyn omgesien? Het hulle genoegsame kos, water en skuiling? Hoe gereeld staan u tyd aan hierdie diere af om bietjie aandag en liefde aan hulle te gee? Wanneer laas was hulle by 'n veearts gewees vir 'n algemene ondersoek?
  10. Het die woning 'n ontsnaproete uit een van die vertrekke uit, wat gebruik kan word as u binne in die huis vasgekeer sou word en/of 'n brand ontstaan?
  11. Is die skuifhek in die oprit so gemodifiseer dat dit nie van die glyspoor af getel/gelig kan word nie? Kan hierdie hek maklik op die huisalarm of sy eie alarm gekoppel word om 'n lawaai te maak as dit oopgebreek word?
  12. Het u ekstra beskerming vir die huis se (Aluminium) skuifdeure aangebring, sodat hulle nie sonder baie moeite en geraas oopgemaak kan word nie? Kan hierdie skuifdeure maklik op die huisalarm of hul eie alarm gekoppel word om 'n lawaai te maak as dit oopgebreek word?
  13. Watter van die bediendes en werknemers het toegang tot die huis en is hierdie toegang geregverdig of kan dit eerder meer beperk word?
  14. Word groot hoeveelhede kontant in die woning gebêre en watter alternatiewe bestaan daar om hierdie eerder op koverte wyse te hanteer en veral onopsigtelik en onwetend van die ander werknemers te vervoer?
  15. Is plantegroei en struike rondom die woning van só 'n aard dat dit 'n aanvaller maklik sal kan versteek? Hoe kan hierdie plantegroei teruggesnoei of hanteer word om skuilings te voorkom, sonder om dit noodwendig uit te roei? (bome se stamme kan bv. met wit PVA geverf word om sluipers in die nag te identifiseer)
  16. Wissel u u roetine elke dag af of volg u nog steeds 'n voorspelbare patroon van kom en gaan en werkswyses in en om die woning?
  17. Maak u 'n gewoonte om na sonsopkoms en voor sonsondergang, ten minste een maal om die woning te loop en na vreemde voetspore, die honde se gedrag/welsyn, onbekende merke en dinge wat algemeen uit plek uit is of onnatuurlik voorkom, op te let? Kan die area/s voor die slaapkamervensters gehark of gevee word om vreemde spore makliker aan te dui?

 

4 Wagte

  1. Oor hoeveel wagte beskik u eiendom? Is hulle SIRA/SOB geregistreer met die nodige opleiding en/of ondervinding of kan gewone indiwidue effektief vir hierdie taak aangewend word? Is daar dalk betroubare, werklose of eks SAW- of SAP-lede met jare se ondervinding wat vir sekuriteitsdoeleindes in u omgewing gebruik kan word?
  2. Is u wagte goed toegerus met radios, telefone, verkykers, kleredrag en veral met spesiale baadjies ("webbing") vir al hul hordes los goed, soos wapens, boeie, batterye, sleutels ens, waarsonder hulle nie hul skoftaak kan doen nie?
  3. Hoeveel ure werk hierdie wagte op 'n slag? Kry hulle hul tee- en etenstye sonder die onnodige onderbrekings van hierdie tye?
  4. Het u wagte hulle eie voertuie (bakkies / pypkarre / knortjorre / motorfietse / fietse) om hulle algehele mobiliteit te verhoog?
  5. Beskik u wagte oor vinnige toegang tot Kits-; Video- of Digitale kameras om betreders, diewe, aanvallers en so meer te fotografeer vir uitkenningsdoeleindes of bewyse van misdadigheid? Word hierdie foto's op leêr geplaas en periodiek onder die bure gesirkuleer, om sodoende 'n (voorkomende) informasiestelsel van "moeilikheidsmakers" op te bou?

 

5 Toegangsbeheer

  1. Bestaan daar 'n besoekersboek waar ALLE aankomelinge met/sonder 'n afspraak angeteken kan word met verwysing na hulle ID-Nommers, voertuig-registrasienommers, vuurwapen-nommers, woonadresse ens?
  2. Het u 'n databasis-stelsel van elke werknemer van u, met afskrifte van hulle ID-boekies, ID-nommers en verwante informasie? Het al u werknemers ID-kaarte en dra hulle dit terwyl hulle aan diens is? Word hierdie ID-kaarte op 'n veilige plek bewaar?
  3. Is daar 'n ordentlike sterk heining om die woning gespan? Is hierdie heining in twee kampe verdeel met 'n hond/e in elke kamp? Word hierdie heining se hekke altyd gesluit gehou?
  4. Is u kluis/e op die huis se (of hul eie) alarmstelsel bedraad om onwettige toegang (tot sodanige) met 'n lawaai aan te dui, self al het die dief die sleutel daarvan?
  5. Is die toegangspaaie direk om die woning van hekke voorsien wat ten alle tye gesluit gehou word en deur 'n wag beheer kan word?
  6. Is die plek waar die sleutels opgehang/gebêre word sodanig dat hulle nie deur vensters/veiligheidshekke bereik kan word nie? Is hierdie sleutels kode-gekleurd of genommer sodat vreemdes nie weet wat hulle oop/toesluit nie?
  7. Het u 'n metode (soos 'n ketting/plank met spykers in, 'n behoorlike sloot of enige ander vindingryke idee) om ongewenste persone en/of aanvallers se voertuie te immobiliseer en weg van u huis af te hou, veral in die nag? Ook enige planne om u eie voertuie te verhoed om as wegkom-voertuie gebruik te word na afloop van 'n aanval?

 

6 Kommunikasie

  1. Beskik u woning oor 'n MARNET- of soortgelyke basis-radiostel om kommunikasie met bure te hé? Hoeveel draagbare handradios het u om met die gesin/wagte te kommunikeer? Ken u kinders die basiese radioprosedures en die Fonetiese alfabet?
  2. Is daar 'n ekstra selfoon (sommer 'n ou, maar betroubare model met genoeg lugtyd op gelaai) op 'n veilige plek in die woning weggesteek vir nood-kommunikasie?
  3. Is daar ekstra telefoon-sokke geïnstalleer sodat meer as een persoon aan dieselfde gesprek kan deelneem en ook sodat die Telkom-telefoondiens bereikbaar is van meer as een vertrek, veral in noodgevalle? Onthou dat verskillende telefone wat op dieselfde lyn gekoppel is (bv. tussen 2 nabygeleë wonings, of selfs 2 fone op 1 lyn in dieselfde huis) ook as interkomstelsel gebruik kan word sonder enige ekstra onkostes!
  4. Is noodnommers, roepseine, die fonetiese alfabet en ander spesifieke informasie by ten minste een telefoon teen die muur vasgeheg vir gebruik in noodsituasies? Is hierdie dokumentasie met goeie plastiek beskerm of selfs gelamineer om die duursaamheid daarvan te verseker? Is hierdie informasie toeganklik vir ander se oë wat nie veronderstel is om dit te sien nie en wat dit dalk teen u kan gebruik?
  5. Het u gebied goeie Sellulêre opvangs of nie en kan 'n alternatiewe kommunikasiestelsel gebruik word in geval die Sel- en/of Telkomnetwerk sou faal? Is daar 'n kommunikasie-/waarskuwingstelsel van ligte/vlae met spesifieke kleure (of enigiets soortgelyk) in plek om 'n kondisie van een of ander aard oor 'n afstand aan te dui?

 

7 Vroegtydige waarskuwing

  1. Is daar enige vorm van vroegtydige waarskuwing (alarmsensors, tuisgemaakte alarms of geraasmakende toerusting, soos vislyn en blikke met klippe in) in die buitegeboue, stalle, skure, krale ens. om u in die huis te waarsku teen aanvallers of inbrekers daar?
  2. Is daar 'n sensor en klokkie/gonser-stelsel in die huis om aan te dui as iemand deur u hoofhek (by die teerpad) in aantog is na die opstal (indien finansies dit toelaat) of 'n wag wat die hoofhek kan dophou en u sodanig kan waarsku? Is daar 'n metode om ongewenste besoekers te verhoed om u woning ongesiens te bereik, u te verras en te oorval of u dalk te waarsku as sodanige besig is om te gebeur?
  3. Is daar 'n uitkykpos/wagtoring op die hoogste punt op u eiendom geskep vir een van die wagte om vroegtydige waarskuwing te maak teen aankomende voertuie, aanvallers, betreders, brande ensovoorts?
  4. Is daar 'n waarskuwingslig op u alarmstelsel gekoppel om aan te dui dat 'n alarm in u afwesigheid plaasgevind het, bv. terwyl u in die Kerk was? Is hierdie lig op 'n bepaalde plek weggesteek (sodat dit nie buite werking gestel kan word nie) waar dit waarskuwing slegs aan u en u gesinslede kan verleen?
  5. Het u klein hondjies in die woning wat gesteld is op die groter honde buite om die huis en wat op hulle geblaf (of ander vreemde geluide) sal reageer om sodoende dubbele waarskuwing aan huisbewoners te verleen?

 

8 Brandvoorkoming

  1. Het u ten minste een goeie brandblusser in die huis beskikbaar, veral naby die slaaparea? Is daar alternatiewe blusmiddels byderhand, soos sand, water ens.?
  2. Is u brandbare vloeistowwe en gasse toegesluit in 'n aparte, veilige hok/vertrek, soos deur NOSA vereis word?
  3. Is 'n brandwag veral in die nag en gedurende die winter, permanent op diens?

 

9 Reaksie

  1. Is die Plaas-nommer op u woning se dak nog duidelik leesbaar geverf? Kan hierdie nommer in die nag in 'n noodgeval belig word? Kan u ook 'n groot roterende of flitsende lig (met rooi/oranje lens) op die dak aanbring wat veral in die nag oor groot afstande, die ligging van die opstal vir noodvoertuie of selfs vlieënde tuie kan aandui
  2. Bestaan daar 'n veilige (oop) plek naby die opstal waar 'n tydelike landingsplatvorm vir helikopters ingerig kan word vir die afvoer van beseerdes en/of die soek na aanvallers ens?
  3. Is u hoof-hekke en ingange van behoorlike kennisgewingsborde voorsien met die plaas se naam/nommer en ten minste een kontaknommer (telefoon/selfoon) vir bereikbaarheid na ure en gedurende noodgevalle? Word hierdie nommer/s 24hr/dag beman deur 'n betroubare persoon/e?
  4. Is daar 'n wag/persoon wat in noodgevalle met hoë spoed en mobiliteit tussen die opstal en hoofpad kan beweeg om Ambulans-; Brandweer- en Polisiedienste of Kommandomagte te begelei na/van die teerpad en die probleemarea/misdaadtoneel? Onthou dat goeie kommunikasie, korrekte informasie en behoorlike aanduidings krities is in noodgevalle waar erg beseerdes bereik moet word binne slegs een uur (die goue uur) na 'n noodgeval?
  5. Bestaan daar 'n alternatiewe roete tussen die opstal en die hoofpad sou u gewone plaaspad versper of ontoeganklik gemaak word vir een of ander rede, of kan so 'n "nood-roete" maklik geskep word?
  6. Is daar ten minste een persoon/wag op die plaas wat ondervinding het van noodhulp en wat gereeld opknappingskursusse in dié verband bywoon?
  7. Het u 'n spesiale baadjie met baie sakke ('n visvang-baadjie, sekuriteitsvest of militêre- of veiligheids-"webbing" of soortgelyk) waar al u sleutels, selfone + ekstra batterye, draagbare radio/s + ekstra batterye, sekere dokumentasie/informasie, ekstra magasyne/ammunisie, 'n paar goeie mediese drukverbande, skryfgoed ens. permanent in gehou kan word? In 'n noodgeval EN VERAL IN DIE NAG, is al u noodsaaklike middels bymekaar, hoef u net hierdie baadjie te gryp in die hardloop en nie 'n desperate soektog op tou te sit na al hierdie diverse middele nie. Leer ook die plasing van hierdie goed toe-oë ken sodat u selfs in die stikdonker weet in watter sak byvoorbeeld, die ekstra magasyn/e of ammunisie is!!!
  8. Hoe gereeld hou u veiligheids- en inligtingsessies onder die bure om algemene probleme, intelligensie of misdaadtendense in u omgewing te bespreek? Is u ook ingeskakel by u area se Nood- en Ramp bestuursgroep (die "ou" Burgermag-groep) Funksioneer hierdie Nood- en Ramp bestuursgroep effektief of moet 'n alternatiewe vorm van sekuriteit (private sekuriteitsmaatskappy / plaaslike sekuriteit dmv, u eie wagte / groepsekuriteit of selstruktuur bestaande uit aantal plase) daargestel word?

 

10 Vee-verliesbeheer

  1. Het u 'n veewagter/s wat voltyds (24hr/dag) na u vee kan omsien en hulle kan bewaak? Het hierdie wagter/s 'n betroubare kommunikasiemiddel met die woning of een van die wagte sou hy 'n noodgeval ondervind? Het hy 'n vervoermiddel om mobiliteit tussen/om die veekuddes te verseker?
  2. Het u al die gebruik van 'n Anatoliese skaaphond oorweeg teen veeverleise?
  3. Het u al beproefde middele soos klokkies en/of gifhalsbande om u diere se nekke beproef of selfs elektroniese sendertjies wat aandui as hulle aangejaag word?
  4. Kan die Wagtoring/uitkykpos op u eiendom, die weidingsgebied van u diere waarneem en hulle bewegings voltyds monitor?

 

11 Aanduidende tekens (beplande misdaad)

  1. Is daar 'n skielike verandering in die houding van u werknemers teenoor u of enige lede van u gesin? Word enige van die werkers met die dood of ernstige aanranding gedreig om informasie uit hulle te verkry? Het u 'n aansporings- en vergoedingstelsel (finansieël of andersins) om werknemers wat u waarsku teen gevaar of selfs aanvallers kan identifiseer, te beloon?
  2. Het u onlangs 'n vreemde voertuig/voertuie opgemerk wat vir tye oënskynlik doelloos geparkeer staan naby die plaashek of selfs naby die woning? Alternatiewelik kan indiwidue per fiets of te voet ook verkenning van die plaas se roetine, die bewoners se doen en late of vir 'n moontlike aanval doen. Wees dadelik bedag en voorbereid vir moeilikheid, veral as sodaniges met verkykers/kameras betrap word waar hulle die gebied dophou/fotografeer. Onthou dat kriminele met nuwe tegnologie selfone (dié met ingeboude kameras in) maklik strategiese- en sleutelpunte op u eiendom kan fotografeer met hierdie tipes fone en dit binne minute versprei onder hulle misdadiger vriende!!!
  3. Is daar 'n skielike toename in "werksoekers" en/of voornemende "kopers" van diere, plaasprodukte ens? Wees ook bedag op "bedelaars", "verkoopsmanne", "predikante", "werkers", "diensleweraars" en dies meer wat (veral) sonder afspraak opdaag
  4. Sukkel u skielik met u bediende/s se gedragspatrone en/of 'n verandering in hulle werkswyses, soos deure/hekke wat nou oop gelaat word terwyl dit op u uitdruklike instruksies toe moet wees?
  5. Het u onlangs dreigende, naamlose oproepe ontvang of selfs waar die foon neergesit word sonder dat die persoon aan die ander kant praat?
  6. Is die telefoon wat gewoonlik goed werk, skielik afgesny en/of sporadies "af" vir kort periodes om daarna weer "aan" te kom?
  7. Ondervind u of u eggenote dalk dat 'n voertuig met 'n aantal persone in (of met verdonkerde ruite) u met seker tye of op sekere plekke 'agtervolg' of agter u aanry om dan ewe skielik en sonder waarskuwing te stop of af te draai?
  8. Het daar skielik klipstapels, stokke en plastieksakke, selfs afgeslagte wilde diere in/op/naby heinings, ingange, plantegroei of enige ander plek verskyn wat lyk of dit 'n bepaalde vorm, teken of aanduiding kan wees? Indien sodanig, fotografeer hierdie 'aanduidings' uit 'n paar verskillende hoeke, verwyder dit op diskrete manier en bespreek dan DADELIK (dieselfde dag nog!!!) met 'n kenner.