|

|
Veiligheid
Suid-Afrika
|
Die Veiligheids-Forum
is ‘n nie-politieke, nie-regerings instansie wat uit ons eie sakke
befonds word en probeer om ‘n positiewe bydrae tot vrede, veiligheid en
voorspoed in ons pragtige land te maak. As u enigsins kan bydra, finansieël of andersins, sal
dit baie waardeer word. Kontak asseblief die outeur by: plaasveiligheid@hotmail.com

Tuis | Huisveiligheid | Plaasveiligheid | Buurtwagte | Onderhoud
| Boeke | Praatjies
Wenke en Diagramme | Gratis Vraelys | Benodigdhede
| Kontak

Plaasveiligheid behels 'n veel groter begrip as om net 'n
alarmstelsel in die huis en honde rondom die opstal te hê, in
teenstelling met meeste van die gevalle soos dit by wonings in die dorp of stad
voorkom. Weens die aard en omvang
van die boer se eiendom, naamlik dat dit afgeleë is en gewoonlik oor
etlike vierkante kilometer strek, moet daar dus na 'n meer intensiewe en ook 'n
meer omvattende plan gekyk word om dié spesifieke probleem aan te
spreek. So byvoorbeeld, moet kommunikasie
tussen individue en die sekerheidswagte wat veronderstel is om hulle te
beskerm, akkuraat en effektief oor groot afstande kan geskied. Vroegtydige waarskuwingsmiddele
moet ook sonder probleme oor tipiese afstande van een tot twintig kilometer kan sein, om die
plaasbewoner te waarsku teen moontlike hinderlae en aankomende of sluimerende
gevaar. Interne sekuriteit , naamlik die beskerming van die boer se eiendom
teen kwaadwillige beskadiging en diefstal deur sy eie werkers, is weer 'n veld
op sy eie, maar kan
en moet hierin ook geakkomodeer word. So moet die welstand en goeie uitrusting van die wagte pertinent na omgesien
word, om werksbevrediging en deurlopende goeie verhoudinge tussen
sekuriteitspersoneel en hul werkgewers te handhaaf. Hierdie is 'n faktor wat
gewoonlik in die sekerheidsbedryf afgeskeep word, met 'n gevolglike hoë
omset in dié tipe van personeel. Deur al hierdie take te delegeer aan
betroubare partye, kan
die boer van vandag wat onder groot druk werk en boonop met talle wetlike
vereistes gekonfronteer word, meer aandag aan sy werk, naamlik dié van
landbou skenk. Alvorens hy dit egter kan doen, moet hy gedwing word om eers te
gaan sit en deeglike beplanning saam met die relevante kenners op veiligheidsgebied
te doen, nadat hy natuurlik 'n behoorlike begroting daarvoor uitgewerk het.
Geen kortpaaie of die afskeping van sodanige beplanning en begroting is
toelaatbaar nie, daar een van hierdie twee foute hom of een van sy gesinslede
se lewens mag kos! Die boer moet
besef dat hy homself letterlik midde-in 'n oorlogsituasie bevind, waarvan die
offensief op verskeie vlakke op sy menswees, sy bestaan en sy identiteit ook
geloods word en daarom moet hy sodanig beplan en optree. Uiteraard sal die
omvang van die area en die individuele elemente wat ter sprake is vir 'n
omvattende sekuriteitsplan, noodwendig 'n groter finansiële implikasie vir
die boer tot gevolg hê, maar hy kan deur baie van die arbeid self te doen
en ook tuisontwerpe te gebruik waar moontlik, 'n
aansienlike besparing in kostes tot gevolg hê. Sedert
die vroeë negentigerjare, het daar 'n verskerpte aanslag op die boer in
Suid Afrika, sy gesin en hul eiendom begin plaasvind, wat oor die afgelope
dekade in alle felheid toegeneem het. Alhoewel die outeur nie by enige
politieke gesprekke rondom hierdie kwessie betrokke gaan raak nie, kan enige persoon net na
die beskikbare mediaberigte en statistieke kyk om die intensiteit en abnormale
hoë voorkoms van hierdie euwel te besef. Die algemene gevoel van die
breë publiek is egter dat hierdie aanvalle wel 'n politieke oogmerk het en
deur pionne uitgevoer word wat gemanipuleer en beheer word deur 'n duistere
mag, veel groter as wat ons dalk mag besef. Verskeie formele komitees en ondersoeke
is al na plaasaanvalle en die redes daarvoor geloods, maar sloer buitengewoon
lank in hul bevindinge en het ook weinig impak op hierdie misdaad tot
dusvêr tot gevolg gehad. Die moratorium wat deur die huidige regering in
die laat negentigs op statistieke rondom sodanige aanvalle geplaas is, het
beslis niks goeds vir die teenkanting daarvan voorspel nie maar eerder 'n
wantroue in die owerhede by Jan Alleman geskep. Enkele groepe, gewoonlik
nie-regeringsinstansies, probeer moedig om die statistieke rondom sulke misdade
beskikbaar en akkuraat te hou, 'n poging wat baie prysenswaardig is en alle lof
verdien. 'n Ander
feit
wat soos 'n paal bo water uitstaan, is dat hierdie aanvalle gewoonlik deeglik
beplan en met militêre presisie uitgevoer word op 'n uiters sagte en
weerlose gemeenskap. Hierdie "vuur" gaan egter net effektief met
"vuur" beveg word en so sal die boer dus militêre paraatheid en
-tegnieke moet inspan ter beskerming van huis en haard en moet hy ook alles in
sy vermoë doen om hierdie aanslag in sy guns te swaai, al is dit dan net
vir die doel van teen-propaganda. Alle beskikbare middele om hom te help in die
stryd teen hierdie gruwel, moet ondersoek en beproef word. Hierdie Webblad poog
om, deur middel van 'n tiental onderwerpe, die boer van vandag by te staan en
te bemagtig om hierdie aanslag af te weer, of dan ten minste hom te help om
enige aanval te oorleef met die minimum skade aan sy persoon of eiendom.
Beste wense in
hierdie uiters moeilike tyd
Leo du Toit