|

|
Veiligheid
Suid-Afrika
|
Die Veiligheids-Forum
is ‘n nie-politieke, nie-regerings instansie wat uit ons eie sakke
befonds word en probeer om ‘n positiewe bydrae tot vrede, veiligheid en
voorspoed in ons pragtige land te maak. As u enigsins kan bydra, finansieël of andersins, sal
dit baie waardeer word. Kontak asseblief die outeur by: plaasveiligheid@hotmail.com

Tuis | Huisveiligheid | Plaasveiligheid | Buurtwagte
| Onderhoud | Boeke | Praatjies
Wenke en Diagramme | Gratis Vraelys | Benodigdhede
| Kontak

‘n Onderhoud met
die outeur van die boek omtrent Plaasveiligheid:
Vraag Wat het u laat besluit om hierdie boek te skryf? Antwoord Dit is die kulminering
van heelwat informasie waaroor ek beskik het om ons mense te help en etlike
jare se ondervinding, wat ek gekombineer het om ook in boekvorm uit te gee. Dit
moes dus 'n praktiese handleiding wees wat verskillende tipiese probleme
identifiseer en moontlike oplossings vir elkeen bied. Uit die aard van my werk
en ondervinding, was ek bevoorreg om bietjie tegniese kennis te kon deel wat
verskeie punte raak, soos bv. die bou van tuisgemaakte alarm- of vroegtydige
waarskuwingstelsels teen gevaar. Dit is egter sovêr moontlik in leketaal
geskryf om deur enigeen verstaan te word
Vraag Wat bedoel u met die tema van die boek ('n Holistiese benadering
deur die gebruik van diverse middele)? Antwoord Daarmee bedoel ek 'n omvattende
benadering (tot plaasveiligheid) deur die gebruik van verskeie middele.
Met ander woorde, om so 'n omvattende plan as moontlik saam te stel teen
aanvalle of enige beplande aanvalle. Die onderskeie onderwerpe in die boek moet
in hulle geheel gesien word om 'n omvattende, ge-ïntegreerde en ook 'n
interaktiewe geheel te vorm. Hierdie word gedoen deur middele so divers soos
mense, diere en (elektriese/elektroniese) dinge wat almal saamwerk om 'n sterk
veiligheidsring te vorm vir 'n uiters weerlose gemeenskap, wat aan die genade
van terroriste uitgelewer is
Vraag Watter algemene probleme het u ondervind in u stryd teen
plaasaanvalle? Antwoord Die grootste probleme bly ons boere se 'traak-my-nie-agtige'
houdings, die feit dat sekuriteit gewoonlik laaste op hul lys van prioriteite
is en dan ook dat hulle nie 'n maandelikse begroting vir hulle eie veiligheid
het nie. Daar kan
van geen persoon verwag word om na sy werkgewer se sekuriteit om te sien as
hulle nie redelike vergoeding daarvoor ontvang, of behoorlik met die nodige
toerusting en gereedskap uitgerus is nie. Verder word dieselfde foute telkemale
oor en oor herhaal, soos bv. brandstigting wat elke winter op dieselfde plek
begin word en skade aanrig, terwyl daar geen brandbane gemaak is nie en die
boer op die jagvelde sit!
Vraag Voel u dat boere moet bydra tot hul eie veiligheid en sekuriteit?
Is die Polisie- en Kommandostrukture nie voldoende nie? Antwoord Boere moet defnitief tot
hulle eie veiligheid bydra. My ondervinding toon dat die Polisiediens glad nie
in staat is om landelike geweld hok te slaan nie, die groeinde statistieke
alleen bewys dit! Klagtes en noodoproepe deur boere word met
onge-ergdheid en onverskilligheid begroet en baie Polisielede is uiters
vyandiggesind teenoor slagoffers wanneer hulle wel op misdaadtonele
opdaag. Die moratorium op misdaadstatistieke en die uitfasering van die
Kommandos, het beslis niks goed vir plaasaanvalle gedoen nie, maar eerder 'n
groot wantroue by die publiek geskep. Die Polisie se klaaglike mislukkings om
misdaad te bekamp is ook alledaags in ons dorpe en stede en veral die
wanwerking van die sogenaamde Polisiëringsforums, kan weekliks in die media gelees word! Daar het 'n ernstige vertrouensbreuk tussen die
publiek en hulle beskermers plaasgevind en hierdie kloof raak net al groter.
Feit is dat daar 'n groot skroef los is en boere (en ook die publiek) al hoe
meer gedwing word om in 'n groter wordende mate na hulle eie veiligheid om te sien,
'n las wat baie van ons nie kan dra nie!
Vraag Alarmstelsels beslaan nagenoeg een derde van u boekie. Waarom gee u
soveel aandag aan hierdie spesifieke onderwerp? Antwoord Baie wonings beskik oor
veiligheidstelsels, maar dit word nie reg hanteer nie, wat groot
"gate" in hierdie veiligheidsmondering veroorsaak. Installeerders
jaag gewoonlik ook om stelsels geïnstalleer te kry net om die fondse te
kollekteer, met 'n gevolglike gebrou in hulle werk. Verder is baie sogenaade
"tegnici" en installeerders van alarmstelsels nie bevoeg om hulle
werk te doen nie en rig meer skade aan stelsels aan as iets anders, veral
wanneer hierdie uitgebrei word. Andersins is stelsels baiemaal nie voldoende
vir die area/s wat dit moet dek nie en vir alle praktiese doeleindes slegs 'n
"verwarmer" wat hitte dissipeer, maar verder weinig min beteken. Ek
probeer om al hierdie probleme aan te spreek deur algemene foute uit te wys,
oplossings te bied en goeie praktiese raad in hierdie verband te gee. .
Vraag Die onderwerp 'Onobtrusiewe Obserwasie' in u boek is baie
interessant. Kan
u vir ons meer daaroor vertel? Antwoord Die doel van Onobtrusiewe Obserwasie is
die verkenning van stategiese punte, sleutelposte of enige sagte teikens op die
eiendom, dmv. gekamoefleerde of vermomde obserwasieposte, beman deur versteekte
wagte. Met ander woorde, 'n uitkykpos wat bv. soos 'n watertenk of 'n rots
vermom is of selfs 'n sement-waterpyp wat begrawe is, bevat wagte (of
geslotebaan kameras) wat binne-in versteek is om probleempersone of -gebiede te
monitor, vroegtydige waarskuwing van aankomende verkeer/voetgangers te verskaf
of bewyse van misdadigheid op kamera/video vas te lê. Die waarde van
vroegtydige waarskuwing aan huisbewoners terwyl aanvallers in aantog is, kan egter nie genoeg
beklemtoon word nie. Bogenoemde is maar net drie voorbeelde van
Obserwasieposte, maar die boer kan
enige idee gebruik wat hy weet uit ondervinding goed werk. Hy mag dalk
beproefde metodes in sy Weermag- of Polisiedae gebruik het, wat hy ook op sy
eiendom kan
aanwend ter beskerming van hom en sy gesin
Vraag Wat is die doel van 'Alternatiewe Voertuie' in u boek en hoe stel u
voor dat dit gebruik kan
word mbt. plaasveiligheid? Antwoord Gewone voertuie is baie
duur en kosbaar om sommer so in ruwe terrein gebruik te word vir patrollies,
verkenning of agtervolging. Die gebruik van Sandmaster pypkarre,
veldmotorfietse en knortjorre ("Go-karts") of enige ander
geskikte alternatiewe voertuie is sterk aan te beveel, sodat die gewone
voertuie op die plaas gespaar en net vir hulle werk beskikbaar gelaat
word. Verder is hierdie alternatiewe voertuie gewoonlik ligter op brandstof as
'n gewone bakkie en het hulle 'n goeie krag-tot-gewigsverhouding. Wanneer daar
nie gepatroleer word nie, kan
hierdie voertuie boonop vir ligte werkies rondom die opstal gebruik word, wat
ekonomies sin maak met die huidige hoë brandstof- en dieselpryse. Verskeie
maatskappye bestaan tans hier en in buurlande, wat alternatiewe- en
veld-rekreasie voertuie bou wat goed deur boere aangewend kan word vir plaasveiligheid
Vraag Verduidelik vir ons u idee omtrent die verhouding van en balans
tussen die onderwerp 'Mannekrag' en plaasveiligheid Antwoord Omdat plase so
afgeleë en yl bevolk is, is hulle uit die aard sagte teikens. Meeste aanvalle
is dus ook maklik uitvoerbaar omdat daar 'n tekort van mense is wat plase
'beset' en dit kan
verdedig. Verder is afstande gewoonlik baie groot tussen bure en noodhulp- en
reaksiespanne dus baie tydsaam om op krisisse te reageer, ten spyte van hul hoë
spoed en mobilisasie. Baie kundige en betroubare mense in verskeie areas en
vlakke van die samelewing, verloor weer daagliks hulle betrekkings deur
regstellende aksie of een of ander derglike rede. Dit is raadsaam om hierdie
tipe mense te kry om weer die plase te vul en ons platteland te bevolk. Hulle kan dan aangewend word
om verskeie take op die plaas, maar veral dié van plaasveiligheid te
behartig. Die spreekwoord van "sterkte in getalle" is hier van
toepassing. In die natuur groepeer soortgelyke diere bymekaar en terwyl een
klomp eet, hou die ander klomp wag en ook andersom, 'n eenvoudige beginsel wat
uitstekend werk! 'n Simbiotiese
samewerking tussen twee groeperinge, wat op die oog af mag verskil maar tog
baie in gemeen het, word dus geskep tot albei partye se voordeel. Die twee
"vlieë" van veiligheid en welsyn, word dus met die
spreekwoordelike "een klap" getref. Baie boere word bv. aangeval
wanneer hulle van die Kerk af terugkom, nadat misdadigers ingebreek en hulle in
die huis voorgelê het, juis weens die feit dat die plaas verlate in
dié tydperk gelos word. Persone wat deurentyd op diens is op die plaas,
die gebied patrolleer en gereeld met die boer en sy gesin kommunikeer, kan
hierdie euwel hok slaan en 'n groot bydrae lewer om aanvalle só te fnuik
Vraag Vertel asseblief vir ons meer van 'Vroegtydige Waarskuwingstelsels'
en u raad omtrent die toepassing hiervan? Antwoord Vroegtydige
Waarskuwingstelsel is enige gekoopte of self-vervaardigde komponente, produkte
of selfs planne wat gebruik word om enige persoon te waarsku teen enige
moontlike aanval of inbraak. Middele kan
so eenvoudig as vislyn en blikkies vol klippies wees wat op strategiese plekke
gespan word. Vir diegene wat 'n aansienlike begroting het, kan
duur elektroniese stelsels gekoop word wat oor afstande van etlike kilometer kan sein dat iemand in
aantog is, bv. by die plaas se hoofhek (by die teerpad). Ander stelsels wat
koordloos werk, kan
in die buitegeboue, store, skure en krale versteek word om inwoners in die huis
te waarsku van betreders in aantog na die opstal. Diere moet nie ontsien word
as baie effektiewe en betroubare Vroegtydige Waarskuwingstelsels nie.
Pligsgetroue wagte wat oor goeie verkykers en twee-rigting radio's beskik en 'n
hoë punt op die eiendom beset, is uitstekend as Vroegtydige
Waarskuwingstelsels toegerus. Die belangrikheid van Vroegtydige
Waarskuwingstelsels kan
nie genoeg beklemtoon word nie. Dit maak huisbewoners voortydig attent op
gevaar en verseker sodoende voorkomende (pro-aktiewe) maatreëls, wat die
verrassingstaktiek in die guns van die plaasbewoners swaai en die
spreekwoordelike "mat onder aanvallers sal uitruk"!!!
Vraag U het genoem dat goeie
kommunikasie baie belangrik is, Brei asseblief vir ons meer hieroor uit Antwoord
Kommunikasie word oor die algemeen gruwelik afgeskeep op plase, met 'n
gevolglike hoë syfer in misverstande, gespanne verhoudings en skade aan
eiendom of lewens. Deur te leer om onderling goed met mekaar te kommunikeer en
dit deurlopend toe te pas, word die sneeubaleffek van 'n klein probleempie wat
al groter en groter word, uit die weg geruim. Deur goeie kommunikasie deurentyd
toe te pas, kan ons "enige berge
oor", of nog beter, kan
ons hierdie "berge versit". Swak kommunikasie laat egter molshope
onnodig gou in berge omsit as dit nie spoedig aangespreek word nie. Dit is
ondenkbaar dat die mens wat sulke hoë-tegnologiese kommunikasietoerusting kan bou wat binne sekondes halfpad om die wereld kan kommunikeer, somtyds self so kan sukkel om met sy eie te praat.
Effektiewe kommunikasie moet van kleins af aangeleer word terwyl daar ook altyd
na die verfyning van bestaande kommunikasiestrukture deur belanghebbendes
gestreef word. Veral plaasbewoners, wat gewoonlik oor groot afstande moet praat
en van verafgeleë instansies afhanklik is in noodgevalle, moet 'n
kommunikasie- en inligtingstelsel uitwerk vir hulle eie doel en dit inoefen tot
tweede natuur. Dit verskaf onmiddelike inligting aan alle belanghebbende
persone en onderskraag alle gesinslede om 'n sterk en hegte band tussen hulle
te vorm . Deur die gebruik van enige vooraf-afgespreekte kode- of wagwoorde of
gebare van een of ander aard, kan
enige lid van die gesin dadelik onraad vermoed en versterkings ontbied, voordat
die probleem krisisafmetings aangeneem het. Plaasbewoners bevind hulle onteenseglik
in 'n oorlogsituasie en moet kommunikasie geensins afskeep nie, maar tot hulle
eie voordeel en vir hulle beskermimg aanwend!!!