Veiligheid

Suid-Afrika

 

Die Veiligheids-Forum is ‘n nie-politieke, nie-regerings instansie wat uit ons eie sakke befonds word en probeer om ‘n positiewe bydrae tot vrede, veiligheid en voorspoed in ons pragtige land te maak. As u enigsins kan bydra, finansieël of andersins, sal dit baie waardeer word. Kontak asseblief die outeur by: plaasveiligheid@hotmail.com

 

Tuis | Huisveiligheid | Plaasveiligheid | Buurtwagte | Onderhoud | Boeke | Praatjies

Wenke en Diagramme | Gratis Vraelys | Benodigdhede | Kontak

Vir verbeterde veiligheid in dorpe en stede, moet inwoners so spoedig moontlik hulle eie buurtwagte en beskermingseenhede op die been kry. Waar daar goeie samewerking tussen die publiek en die polisiediens bestaan met polisiëringsforums wat regtig werk en 'n verskil aan misdaad maak, kan inwoners van hierdie diens gebruik maak. Die ondervinding dat sulke forums meerendeels nie werk nie en net 'koffie, koek en twakpraatsessies' is, kom egter algemeen voor en die skandalige bakleiery tussen die polisiediens en die publiek op sulke forums, word al hoe meer in die media waargeneem. Daar moet natuurlik altyd gestrewe word na goeie samewerking met die polisiediens en om bestaande probleme wat sodanige in die wiele ry, onverwyld uit die weg te ruim, maar dit is ongelukkig ook nie in alle gevalle moontlik nie. Waar die publiek dan verkies om eerder hul eie strukture op die been te bring, moet dit onverwyld, doelgerig en regmatig geskied. Die volgende riglyne kan gebruik word in die oprigting en daarstelling van 'n veiligheidsgroep uit die inwoners van 'n sekere gebied of straat:

  • Dit mag raadsaam wees om 'n sekere maatskappy, trust of enigiets dergeliks te registreer om hierdie veiligheidsaksie se doen en late te administreer en daagliks te bestuur. Persone uit die gemeenskap met die nodige kennis kan daarvoor ingespan word, wat die verdere voordeel het dat hierdie mense in die gebied/straat bly wat hulle moet beskerm en dus toegewyd aandag aan só 'n organisasie sal gee. Administratiewe-, wetstoepassende- en regspersone uit die omgewing wat direk by die aksie betrek kan word, kan dus genader word om hulle insette, ondervinding en ondersteuning te gee
  • Goeie kommunikasie vir sodanige veiligheidsgroep is van uiterste belang. Daar sal dus 'n aansienlike aantal radiotoerusting aangekoop moet word, waarmee soveel moontlik betrokkenes effektiewe kommunikasie onder mekaar kan hê. Goeie tweedehandse twee-rigting radios of selfs betroubare "CB-radios " kan hiervoor gebruik word. Hierdie moet in beide die inwoners se motorvoertuie en ook hul wonings gebruik kan word en permanent aangeskakel wees om die nodige waarneming en monitering te doen. Enige verdagte persone of voertuie wat in die straat opgemerk word, kan dan aan soveel moontlik mense weergegee word en die nodige reaksiespan kan terselfdertyd opgekommandeer word.
  • Dit is verkieslik dat 'n senior of verantwoordelike persoon as leier vir elke blok of straat aangestel word. Hy/sy sal dan die nodige ko-ordinering met ander persone doen en ook die bevel vir 'n gegewe probleem of situasie voer. 'n Sekondant wat nou met hom saamwerk, sal wanneer hy/sy uitstedig is, die bevel oorneem. Betroubare persone met bewese getuigskrifte wat hul gemeenskap dien sonder om eers na aansien en vergoeding te kyk, is hier van uiterste belang en moet daarom dus voorkeur geniet. Hulle mag dalk yl gesaai lê maar daar is wel van hulle in meeste gemeenskappe te vinde
  • Elke eienaar of huurder van 'n perseel, moet egter verantwoordelikheid vir sy eiendom aanvaar. Die nodige voorkomende maatreëls soos diefwering, gekoopte of selfgemaakte alarmstelsels en vroegtydige waarskuwingstelsels moet deur hom in plek gestel word om sy eiendom te beveilig. Effektiewe kommunikasie tussen hom, sy onmiddelike bure en die reaksiegroep moet ook dan deur hom in plek gestel en gereeld toegepas word. Wanneer al hierdie komponente in plek is en daar ontstaan 'n noodgeval, kom die reaksiespan se verantwoordelikheid dan eers ter sprake
  • Elke leier van sy groep/straat, moet sorg dat elke lid van hom oor sy naaste buurman se telefoonnommers, roepseine en sulke derglike informasie beskik, wat natuurlik gereeld opgedateer moet word. Enige noodgevalle word dan direk aan die leier gekommunikeer, sowel as aan enige bure weerskante van die noodsituasie. Die groepleier sal egter die bevel voer en die nodige aksie neem wat hy dink goed mag wees. Goeie buurmanskap en kommunikasie, beteken dat 'n hegte gemeenskap tot stand kom wat enige probleme, groot of klein vinnig kan identifiseer en ook netso vinnig kan oplos. Dit is raadsaam om elke woning se straatnommer, Telkom foonnommer, een of twee selfoonnommers ens. op 'n behoorlike kaart aan te dui en in elke woning by die twee-rigtingradio of telefoon te hê. Mediese toestande van ouer of sieklike inwoners, kan ook op hierdie kaart aangedui word, sowel as die betrokke persone se huisdokter of hospitaal se besonderhede. In noodgevalle word hierdie informasie dan vinnig met een oogopslag opgeroep en kan 'n toepaslike reaksieplan in werking gestel word. Die effektiewe kommunikasiering waar een persoon twee ander skakel in noodgevalle en elk van hulle twee ander (en so aan), doen ook baie om boodskappe gou onder die hele groep te versprei. Persoonlike voorkeure, behoeftes en enige ander diverse sake, sal egter dikteer watter stelsel beste werk en elke groep/straat kan self besluit watter een hul beter pas
  • Al mag sommige inwoners van die groep/straat wel oor private reaksiemagte soos Chubb, ADT, IMC ens. beskik, kan hulle nog steeds 'n veiligheidsgroep uit die gemeenskap ondersteun en ook self lede daarvan wees. Hoe meer lede daar is, hoe meer oë is daar vir 'n straat of blok en hoe groter is die paraatheid vir daardie groep. Soos alreeds genoem, word hegte bande ook gesmee in só 'n gemeenskap wat almal nou saamwerk teen misdadigers en die woord sal gou die rondte doen dat dié spesifieke area taboe vir kriminele is. So leer gemeenskappe weer om hulle bure te ken en ook om saam te staan in noodgevalle, soos dit behoort te wees.

 

 

 

D’Alamo Beheerstelsels

Vir Outomatisasie, Sekuriteit en Beheerstelsels

Met Rekenaars, Mikroprosessors en PLC’s

08-297-297-23 alle ure

Ultravox Kommunikasie

Vir Oudio en Video in Analoog of Digitaal

Vir Tuis-, Sekuriteits of Ontspannings-gebruik

07-33-69-95-96 alle ure