Jy kan stof uitvee met 'n besem by jou agterdeur. Of jy kan dit opskop in die lug in met jou stoffer. Maar dit sal weer terugkom. Pest Control het feitlik alle peste onder beheer, buiten stof.
In die laat sestigerjare het die węreld 'n stowwerige verrassing gekry. Daar is 'n outjie gebore wat later tot heelwat konflik sou lei. Party sou skaam wees om hom te ken. Ander sou eers so skelm-skelm van sy werke lees en sodra die moed genoeg was, wel erken hulle lees Stof se werke. Ander sou oordeel dat hy nie binne die grense van normaliteit beweeg nie en dus nie saam met ordentlike skrywers op dieselfde verhoog hoort nie. Maar dit het Stof weinig gepla, want hy ly in elk geval nie aan die nare kwaal genaamd normaliteit nie. Van tonnelvisie kan jy hom ook nie beskuldig nie, want hy is trots daarop om met van die randeiers in die bedryf geassosieer te word. Hulle wat gewoonlik deur die formele resensente in 'n mindere genre geplaas sou word.
Stof smokkel al lankal met woorde. Danksy twee hoërskoolonderwysers, Susan van Zweel en Ansie Ras, het hy as skrywer selfvertroue gekry. Hulle het geglo in wie en wat hy is, en ondanks die feit dat sy werke dikwels buite die leerplan geval het, het hulle hom die nodige leiding gegee wat laterjare baie beteken het in sy loopbaan. Hy kon dus maskerloos eerlik sy denke gedokumenteer sonder om hom te laat inperk deur bepaalde vooroordele en irelefante skryfnorme, dinge wat die emosie in skryf dikwels probeer dooddruk.