Toerverslag: Namibië 1997

Onderstaande is 'n poging, om so bondig moontlik, te vertel wat ons op ons toer van 6600 km ervaar het. Elna het die amptelike dagboek gehou, maar ons sal egter nie verwag dat enigiemand anders dit moet lees nie - dit is taamlik lywig!
Ons vertrek op 18 Julie, op die middag, uit Bellville, en slaap daardie aand in Garies se woonwapark teen R30 (met kragpunte). Die gerieweblokke was aansienlik uitgebrei, en sou nou beter voorsien vir die blommeseisoen. Teen skemer-oggend draf ek 5 km deur Garies se stil beligte strate. (My draf-sessies sou ek getrou vir ruim 50% van die dae van ons toer kon inpas - in Etosha het dit egter maar kwaai blaas gekos weens hoogte-bo-seespieël-suurstofgebrek!) Op Springbok loer ons in by Jopie Kotze se "Springbok-kafee",  met swart filterkoffie vir Elna, en Coke vir my draf-dors. By die grens gaan dit flink aan beide kante met die papierwerk, maar aan die Namibië-kant wil 'n soldaat sien wat in die bus én die sleepwa is, maar kry darem niks waaroor hy kon moeilikheid maak nie. Hierna wou ons wes al langs die Oranje rivier ry na Aus, en ek het ekstra brandstof nodig gehad daarvoor, maar toe is altwee vulstasies op Noordoewer droog, en moet ons Grünau toe vir brandstof, en ry dus oor Keetmanshoop na Lüderitz..

Narubis

My broer Louis het by geleentheid die wens uitgespreek, om weer besoek af te lê by Narubis, waar ons in die plaasskool was, en Pappa (st 2-5) en Mamma (sub A-st 1) die volle personeel van die skool uitgemaak het! Self was ek net een jaar daar - in st 4 - in 1958. Ons het hierdie keer tyd gemaak om weer na die plekkie te gaan kyk, en ek was voorbedag op 'n teleurstelling, maar die werklikheid was selfs erger! Van die skool, die seunskoshuis en die winkelgebou was daar skaars tekens van fondasies - alles platgestoot en weggery. Moontlik wou dit in mekaar val - ek kon nie 'n rede daarvoor kry nie. Louwtjie Van Staden, seun van die mense wat in ons tyd die plaas gehad het, boer steeds daar, maar was ongelukkig weg Keetmans toe, en ek moes tevrede wees om met sy 'voorman', Simon Jakobus Beukes te moet praat. 'n Boorling van daardie wêreld, wat reeds sy Saterdag snapsie gehad het, vuil en slordig voorgekom het, en sy handgerolde 'zol' gerook het. Hy is so 4 jaar jonger as ek, en bly sy lewe lank op die plaas - dus was hy so 8 jaar oud toe ek op Narubis gewoon het. Simon het ons binne die wildkamp ingeneem waar die 'dogterskoshuis' steeds staan en ons het dit 'n bietjie nader gaan bekyk. Op 'n stadium was 'n deel van hierdie gebou 'n winkel, en die naam staan op die buitekant van die gebou. Meeste vertrekke word tans as stoorplek gebruik - so is die deel wat Pappa en Mamma se 'sitkamer' was, tans tot oorlopensvol met kafbale gepak. Elders staan die geboue nog wat die hotel en mnr Wasserman se woonhuis was, maar is baie vervalle en dit het nou 'n halwe spookdorpie geword - die padwerkers se depot is egter steeds daar, en by die plaashuis van die Van Stadens self lyk alles baie netjies en vooruitstrewend. As kind was ek nooit daarvan bewus nie, maar Pappa-hulle is onder baie onaangename toestande in 1959 weg vanaf Narubis - toe die plaasskool onder druk van die department moes sluit. Die skoolouers wou omtrent vir Pappa hieroor stenig aangesien hulle geglo het dat hy instrumenteel in hierdie besluit was, maar hy het geen beheer daaroor gehad nie. Terloops, ek sien Nienaber & Raper se boek sê 'Narubis' is 'n Namawoord wat beteken "Plek waar die swart-ebbehoutbome staan."

Keetmanshoop

Ons slaap by die kampeerterrein van die Lafenis-vulstasie ongeveer 8 km voor Keetmanshoop. N$26 met kragpunt. Daar is lekker warm water, maar na twee selfsugtige (en ek vermoed nie-betalend!) besoekers, teen sonop die krane lank oopgehad het, was daar niks warm water oor vir 'n ander nie. Oppad na Lüderitz gaan ons verby 'n konvooi van 8 woonwaens met "Namibië 1997 Toer" plakkers op. Die laaste woonwa het 'n groot lang opgestopte materiaal stert agteraan vasgemaak gehad - duidelik die stert-ent van die konvooi!!!

Lüderitz

Op pad na Lüderitz, net binne die diamantspergebied, geluk dit ons om 'n klompie van die wilde Namib-perde redelik naby die pad te sien. Voor middagete kom ons op 'n lieflike sonskyndag op Lüderitz aan, en maak kamp in die munisipale kampeerterrein op Haai-eiland. (N$40 per nag, met kragpunt). Ons staan aan die hawe se kant, en het 'n mooi uitsig oor die dorp. Verskeie bote beweeg die hawe in/uit. Die middag het ek verskeie van die mooi geboue uit die Duitse era gaan fotografeer. Ons het ook 'n rit deur die ontspanningsgebied suid van die dorp gaan ry, en Diaz se kruis gaan besoek - waar die windjie baie sterk gewaai het, en dit onplesierig genoeg gemaak om nie langer te vertoef as wat nodig was nie. Die volgende dag wou ons Kolmanskop besoek, maar toe ons opstaan, hang 'n swaar mis oor die plek en dis koud, en ons besluit om weer koers te kry binneland toe. Dit was nogal 'n gelukkige keuse, want ons toe ons deur die woestyn terugry Aus toe, begin die wind al sterker van agter te waai, en toe ons ons kom kry, moet ons laat wiel om voor 'n reuse sandstorm te bly! Die vorige mooi dag is toe net mooi omgekeerd!

Aus na Duwisib-kasteel

By Aus aangekom, het ons die sandstorm ontwyk, maar nou het dit glad begin reën! Kort-kort sulke bietjies vir die volgende paar uur. Net soveel dat jy die ruitveërs moet aansit. 'n Paar kilometer oos van die dorpie gaan kyk ons na die oorblyfsels van die interneringskamp vir Duitsers gedurende die Eerste Wêreldoorlog - aangesien die geboue van kleibakstene was, is daar eintlik vandag min behalwe fondasies oor om te sien.

Halfpad tussen Aus en Helmeringhausen stop ons op die plaas van mnr Nieuwoudt vir middag-ete, en sommer ook om die snaakse windpomp kontrepsie daar te fotografeer - dit was onlangs ook in die Burger se bylaag. Mnr Nieuwoudt is besig om 'n padstal en kampeerplek daar op te rig - baie boere in Namibië het ook ontdek dat daar geld in toeriste se sakke is. Die man is baie vriendelik, en vertel my van sy plaas se watersake - van waar hy water pomp, loop sy pype 70 kilometer ver, die woestyn in, na die laaste drinkbakke toe! Die windpompkontrepsie wat al die aandag trek, is deur 'n Duitser, ene Schiebel gebou, en mnr Nieuwoudt vertel my dat die ding regtig water kan pomp, maar ek vermoed hy trek my been, want so ver ek kan vasstel is die bousel meestal uit bousteierwerkpype aanmekaar gesit. Heel boaan is wel 'n snaakse wiel wat nog windseile moet inkry en dan wel kan draai as die wind waai.

Later, in die plekkie Helmeringhausen, gooi ons gou 'n draai in die hoofstraat en kyk na die opelugmuseum van ou plaas implemente en ander toestelle. Heel oulik!

Voort na Duwisib-kasteel, waar die reënerige wolke steeds my fotografie-pogings belemmer! Ons kyk gou deur die binnekant van die kasteel, waar die oorspronklike meubels nog vertoon word. Wat my aandag die meeste trek is die kopergeraamde katels, en die twee enorme groot klerekaste in een van die 22 kamers van die kasteel. Dit is nogal interessant om die storie van die kasteel se oorsprong en geskiedenis op te lees, maar is ongelukkig te lank om hier oor te vertel. Ons neem daar naby een van die kampeerplekke. Geen beligting nie, en die water is slegs floutjies lou, maar dit was darem beter as niks. (N$64 saam met toegang tot die kasteel)

Maltahöhe na Swakopmund

Die volgende dag op Maltahöhe kom ons weer by 'n vulstasie sonder brandstof. Die rede daarvoor blyk toe dat daar 'n brandstofprysverlaging in die weer was, en dat vulstasie-eienaars dan nie sommer hulle tenks volmaak terwyl hulle dit later goedkoper moet verkoop nie - ongeag die probleem wat dit vir die verbruiker skep! Gelukkig was daar 'n ander vulstasie in die dorp wat my kon help. Van hierdie dorp ry ons noord en gaan deur 'n poort in die Naukluft-gebergte. Hierdie deel was werklik fantasties wat natuurtonele aan betref, en ek moes net kort-kort stop om net gou nog 'n foto te steel! Anderkant hierdie poort het ons 'n pad na regs geneem om 'n roete te volg wat ons oos van die Gamsbergpas sou plaas. Laasgenoemde is Namibië is langste en hoogste pas en die ver tonele tot in die Namib was werklik die moeite werd.

Onder die pas, en nou in die Namib is ons stomgeslaan deur die verruklike tonele van geel wuiwende grasvelde, en weer is dit stoppe vir foto's, maar jy kan nie die uitgerektheid daarvan op film vaslê nie! Nou  kom ons by die aansluiting van die pad tussen Sesriem en Walvisbaai, en beland op die ergste sinkplaatpad van die hele toer, en ek wil net af van die pad, en neem 'n ander roete deur die Namibwoestynpark, maar teen donker staan ons net buite 'n hek van die park (die ingange is onbeman, maar jy mag nie sonder permit binne slaap nie) op die plaas Ruimte. Vir die eerste keer slaap ons alleen in die veld, en vir die volgende 15 uur kom daar nie 'n enkele voertuig verby nie, maar ons weet darem dat so 5 km verder 'n padkamp van twee stootskrapers is.

Vir die eerste keer op die toer is dit tyd vir 'n vleisiebraai, en die vleis wat ons op Maltahöhe gekoop het, was ook die heel sappigste van die toer! Lekker stil en donker in die woestyn, met net die gebrom van 'n wilde volstruis iewers hoorbaar. Vroegoggend is daar 'kwaak' geluide - dié kom weer van woestynkorhane. Na 'n rustige ontbyt is ons weer op pad Walvisbaai toe - omtrent 60km van die dorp ry ons in die Weskusmisbank in, en toe begin die rooi liggie vir 'jou-petrol-is-amper-op!' ook te brand - so ons sluip Walvis in met skaars 6 liter in die tenk. Dit was nou as gevolg van die Gamsberg ompad, maar nie werklik 'n krisis nie, want ons het al die pad sedert Keetmans 'n ekstra 20 liter saamgery.

By Walvisbaai eet ons middagete langs die wêreldberoemde strandmeer-lagune waar derduisende voëls saamgetrek is. Meestal flaminke. Op die oomblik is daar egter groot kommer oor die voortbestaan van die lagune, omdat dit om een of ander rede aan die toe-slik is - en dit word voorgestel dat die lagune uitgebagger moet word.

Hierdie soort nuus het ons verneem via ons radiogeselskap vir  die grootste deel van Namibië - "Kanaal 7" wat feitlik in elke dorp op FM hoorbaar is en ook vir lang afstande op die pad - hulle het plaaslike nuus uit die dorpe, pragtige Christelike musiek (baie Afrikaans wat ons nog nie gehoor het nie), geestelike praatjies, getuienisse en onderhoude. In Suid-Afrika het ons net eenvoudig nie die ekwivalent daarvan nie, en hulle is ons op die gebied ligjare voor daar.

Later die middag boek ons by Swakopmund se munisipale kamp in en neem 'n 2-man 'vissermanhuisie' teen N$66 vir die nag. Dis nou regtig 'n winskoop, maar daar moes 'n vangplek wees. Twee beddens met beddegoed, stoele, tafel, klerekas, opwasbak, tweeplaatstofie, rakke, koelkas met vrieshok, ens. ens. Die vangplek? O... die stort, toilet en handewasbak is alles in 'n geteelde kamertjie effens groter as 'n standaard toilet vertrekkie - so as jy stort staan jy in die ruimte tussen die wasbak en die toiletbak - alles word dus nat, en moet weer drooggemaak word as mens klaar is - maar vir die prys aanvaar 'n mens dit sonder kla.

Swakopmund dag 2 en 3

Die volgende oggend verlaat ons Swakop met 'n geldige permit om weer die woestynpark te besoek en ook daar te kan oornag. Die eerste deel van die dag neem 'n roete wat ons in Julie 1983 ook saam met Oupa en Ouma verken het. In ons album is 'n foto waar Oupa besig is om op sy maag te lê terwyl hy 'n foto van die 1500 jaar oue Welwitschia plant neem. Dit is nou onmoontlik om naby daardie plant te kom - dit is in 'n groot draadkamp afgesper, en 'n uitkyktoring is langs die draad gebou sodat mens tog die plant van bo-af kan sien sonder om die draad in die prentjie te hê. Die plant het glo oppervlakte-wortels, en word bedreig deur mense wat te naby kom - ons het dit nie in 1983 geweet nie. Later die dag kom ons by Bloedkoppie uit waar ons die aand sou kampeer. Dit is 'n baie gewilde kampeerplek, en daar is baie kampeerplekke, maar ons het aanvanklik gedink ons is alleen, maar toe ek in 'n stuk sandpad ry wat eintlik net vir 4x4's bedoel is, en ek sommer net na regs uitswaai op 'n paadjie, beland ons op die werf van 'n geselskap van drie van gemelde tipe voertuie. Hulle het almal met oop monde gestaar na hierdie verskynsel wat nou by hulle aangekom het, maar ek het net een lang es gegooi en weer dieselfde pad terug gevat om tog net uit die sand te kom - so'n stuk van amper 'n kilometer ver - eers terug op die harde grond het ons 'n kampboom gekies. So weer alleen in die veld, maar mense naby! Op 'n staptoggie in die veld trap Elna byna op 'n addertjie wat net soos die grond lyk, maar sien dit genadiglik betyds. Daar's tekens van Gemsbok en Hiëna-mis, maar dis alles horing-oud. Iewers brom 'n volstruis weer, maar ons kan dit glad nie sien nie. Natuurlik weer tyd vir 'n lekker vleisie braai onder die skitterende sterre.

Na ontbyt neem ons weer rustig die pad Swakop toe, om daar weer 'n ander vissermanshuisie te betrek - sien daar is nie warm storte in die woestyn nie - so die huisie pas ons nou weer goed! Ons skeep voorraad in by Swakop se Shoprite, en vind veral hulle verskeidenheid en gehalte van vars (groente, vrugte) produkte uitstekend. Elna soek nog ryskoeke, maar die het hulle nie, maar gelukkig vind ons dit in die Clicks winkel net langsaan. Die middag besoek ons ook die Nasionale Akwarium, en dit is baie kalmerend om voor 'n groot glaspaneel te kyk na rustige swemmende visse, maar hulle het nie lank so gebly nie, want dit was voedingstyd, en sommige visse het gewys dat hulle so blits kan swem.

Swakopmund na Twyfelfontein

Saterdagoggend toe ons noordwaarts uit Swakopmund moet vertrek, het die Weskusmisweer nogmaals die oorhand gehad. Na ontbyt gaan loer ons gou by die NGKerk se basaartent in en gesels 'n bietjie met die baie aangename predikantsvrou. Daarna in die pad, deur Hentiesbaai, wat geweldig uitgebrei het sedert ons dit 14 jaar laas gesien het - daar is nou meer as 1000 woonhuise. Steeds verder noord na Kaap Kruis waar die robbe is, maar waar ek nie bereid was om N$30 te betaal om 'n kort rukkie na die robbe te kyk nie en ons dus by die hek omgedraai het sonder om enige rob te sien. Op verder tot by die Skedelkuspark se hek waar jy 'n permit (N$36) kry om deur die park te mag ry - iets wat ons omtrent 4 uur geneem het. Ons het daar ook 'n paar interessanthede gesien, maar in die algemeen was dit 'n ervaring om te sien hoe bar en verlate dit daar is. Kort nadat ons by Torrabaai weggedraai het na die binneland, het die pad baie klipperig geword, en aan die hoeveelheid buite-bande langs die pad, was dit duidelik dat baie bande hierlangs stukkend gesteek word. Ek het maar asem opgehou, maar gelukkig is ons heelhuids deur. Die aand voor sononder naby Twyfelfontein geluk dit ons om 'n enkele woestyn-olifant te sien - die eerste een wat ons ooit teengekom het. Die kampeerplek naby Twyfelfontein (Aba-Huab) is baie primitief, en ek besluit dat ons maar ewe maklik weer in die veld kan staan - dit sou nie veel verskil wees nie. Tyd vir 'n vleisie-braai, maar 'n stormsterk aandwind waai amper alles, insluitend die vuur weg. Nogtans kom die vleis gaar, en ek en Elna sit binne in die bus en eet. (Ons het sover elke aand in die bus geslaap - effens min plek, maar as jy al so lank saam met jou maat skuur, is dit nie te veel van 'n probleem nie!).

Die volgende oggend is dit eerste gou na die Orrelpype en die Verbrandeberg daar naby, en toe 'n besoek aan Twyfelfontein se rotsgravures. Danksy 'n baie onderhoudende gids ('n Damara-vrou genaamd Auguste Hilotoka van Khorixas) met 'n aangename persoonlikheid voel ons dat baie waarde tot ons besoek daar toegevoeg word - al was ons sowat 12 jaar gelede ook daar. Nou word dit laat en ons dreun verby die versteende woud, en bereik Khorixas met 'n nog meer rooi petrollig as die vorige keer! Gou middagete met poeding uit 'n blik - dis immers Sondag - en dan die teerpad looi om Okaukuejo in Etosha betyds te haal!

Etosha

Die volgende tien nagte staan ons ons tent op in die drie kampe van  Etosha. Koste vir ons was N$80 per nag. Die plantegroei en natuurlewe in die park was in puik kondisie en ons het dit selde nog so mooi aangetref. Diere volop. By een gat (Okondeka) kon ek byna 1000 diere om elf-uur in die oggend tel. 'n Paar keer het ons lank na leeus gekyk en op so'n afstand dat jy mooi kon sien wat hulle doen - hulle het dinge gedoen en nie net lê en slaap nie. Saans was daar baie (tot 5 op 'n keer) renosters by die watergate. By Halali se watergat het 'n mooi luiperd in die donker kom waterdrink. Relatief min olifante is gesien, maar tekens van hulle was egter volop, en op ons laaste middag was ons baie tevrede om 13 olifante, insluitende 'n baie kleintjie, by 'n watergat te sien. Verder het ons 105 soorte voëls in die park gesien.

Vooraf het ons nie vir enige plek bespreek nie, maar met ons besoek aan Etosha was dit duidelik dat dit meer wenslik sou wees om te enige tyd vir die park te bespreek. Behalwe vir Halali, was kampering elke dag oorbeset. Tans, in Julie/Augustus, was maklik 90% van die besoekers aan die park buitelanders - amper almal hiervan Duitsers, maar ook Franse en Portugese. Besoekers uit Suid-Afrika was maar enkelinge. Hierdie oorsese mense ry feitlik almal met Windhoek registrasie voertuie - later raak jy slim om die tipe voertuie uit te ken om te weet dat dit huurvoertuie is - daar is hope wat eenders lyk - 4x4's, bakkies met kappies - met slaaptent wat oopvou bo-op die dak, Venture-bussies, Kombi's, Golfs, ens, ens... Baie van hierdie mense is nou daar met hulle kinders - want hulle het lang skoolvakansie in Europa. Namibië (en RSA) is natuurlik vir hulle gewilde bestemmings, want weens die wisselkoers kry hulle baie goeie waarde vir hulle geld. Nie al hierdie mense het gunstige indrukke op ons gemaak nie - praat luidrugtig; as jy van vooraf in 'n paadjie verby 'n groep van hulle moet gaan, loop hulle jou maklik van die pad af; meer as een keer het ons gesien hulle loop nie na 'n gerieweblok om hulle te verklee nie - hulle maak net die deur van die voertuig oop, en staan en wissel hulle klere daar tussen die oop deure. Dis nou mans- én vroumense wat so maak. En dan praat ek nou sommer van sulke lelike pienk boude. So die standaarde is duidelik anders by party van die besoekers - onthou ek sê weer almal is so nie - net 'n paar - meer as een keer.

Terug huistoe!

Oplaas kom die tyd wanneer jy ook weer die voertuig se neus huistoe moet rig. Ons het toe besluit om die beplande nag in die Waterberg uit skakel, en het die eerste aand van die terugtog by Hardap se kampeerterrein geslaap (N$70). Die volgende dag het ek al my bankkaarte by 'n vulstasie naby Keetmans verloor - kom dit eers op Grünau agter. Bel terug maar niemand weet van iets. Gelukkig is dit tog gevind, en Zelma se nommer was toevallig by die kaarte en die man was so vriendelik om vir Zelma te kontak. Terug by die huis wou ek die kaarte kanselleer, maar dit was wonderlik om te verneem dat dit nou nie nodig is nie. Terug oor die grens kyk al Namakwaland se blommetjies ons nou vol in die gesig en watter vreugde is dit nie! Maar niemand het ons nog vertel van al die muggies wat saam(?) met die blomme gaan nie. Op Steinkopf is die voorkant van die bus reeds swart van hulle. As jy uitklim is dit in jou hare, oorgate, gesig - orals... Op Springbok maak ons gou 'n kitsstop by KFC (Kentucky) vir 'n warm aand-ete sakkie en toe vort na Garies.

Wéér Garies!

Die laaste aand van die toer op Garies is heerlik stil en rustig. Elna neem 'n lekker warm bad. Daarna gaan besoek ons 'n ou skoolmaat Louwna. Haar man Cor Hoving is Garies se skoolhoof. Hulle is nou net 6 personeellede wat 180 kinders van Sub A tot Matriek moet opvoed - dis gewis moeilike tye. Juis die aand toe ons daar was was daar vergaderings tussen die skool en die kleurlingskool se beheerrade oor moontlike samesmelting - wat eintlik maar seker is. Ewenwel, daar is land en sand gesels en gou het dit laat geword. Terloops, Louwna is die skool se sekretaresse. Cor het net 6 vry periodes in die week - en moet meeste van sy skoolhoofwerk na skool doen - gelukkig kan Louwna meeste van die korrespondensie en admin wegvat. O ja, soos die ou geskiedskrywers na die en daai jaar verwys het, praat hulle in Garies van 'Kubusjaar' - dit was gewis 'n baie goeie jaar vir baie mense in Garies.

Vrydag 8 Augustus was ons weer veilig terug in Bellville en baie dankbaar daarvoor. Oor die hele toer geneem, was dit baie aangenaam, ons het heerlike weer - soms baie warm - geniet, en omtrent oral waar  ons gery het was dit 'n pragtig reënjaar en die veld en natuur uitsonderlik mooi.

10 Augustus 1997

Jy is welkom om Piet Conradie met kommentaar te epos by: dieconradies@gmail.com

Gaan na Piet se WebWerf se Hoofblad

Hierdie bladsy op "Piet se Webwerf" is laas op 26 November 2007 met Nvu (Composer) bygewerk deur
Piet Conradie (dieconradies@gmail.com)