Die besoek aan die Bontebokpark
was lekker soos altyd - hulle
het nou so baie bokke soos ons nog nooit gesien het nie, maar
gaan
nou weer verminder deur te verkoop aan privaatreservate. By Stilbaai
was ons te laat om die palings te sien kos kry. By Mosselbaai
neem
ons 'n rondawel by Hartenbos.
Bring 'n besoek aan die maritieme
museum waar die sentrale fokuspunt die Diaz karveelreplika is
wat
'n paar jaar gelede van Portugal gevaar het. Dit is skaars groter as 'n
visskuit, en om die groot eensame oseaan daarmee aan te durf moes
bepaald
'n goeie maat dapperheid geverg het.
Van Humansdorp is ons deur
die Baviaanskloof
na Willowmore -
hierdie pad loop deur 'n wildernisgebied wat deur Natuurbewaring
bestuur
word. Dit is meestal 'n tweespoor kronkelpaadjie oor die een bergpas na
die ander - met verruklike natuurtonele en volop dierelewe - koedoe's
en
ander bokke, bobbejane, blou-ape, skilpaaie (wat waterdriwwe
oorsteek!).
Dit is iets wat jy nie sommer vergeet nie. Ons sal dit nog baie beter
onthou,
want weens die reën van die vorige paar dae het die pad
treurig verspoel
- ons was van die eerstes daarop; en moes ekstra stadig ry op iets wat
op daardie stadium eerder 'n toetsterrein vir stewige 4-wiele was -
gelukkig
het ons nie die sleepwa saamgeneem nie - en die Toy-outa bus het al die
pad sy man gestaan!
Ons wou die aand by XXXX slaap, maar dit was 'n voorbeeld van 'n plattelandse dorpie waar alles aan die verkeerd gaan is, omdat die bestuur van die dorp deurmekaar is - daar was tot inwoners in die munisipale tennisbaan se huisie - by sommige huise bly daar ook mense in die motorhuise - anders gestel - die hele dorp is aan die agteruitgaan. Ons moes toe laat wiel om donkeraand in Graaf-Reinett staanplek te kry. Hierdie dorp is baie agtermekaar, met genoeg besienswaardighede om mens maklik 3 dae besig te hou - ons was twee nagte daar. Die eerste aand het ek nog vleis gebraai, en ons het eers 9:30 by eet gekom. Die volgende dag het ons die strate verken (daar is meer as 200 monument geboue in Graaf-Reinett - geen ander dorp in RSA kan dit nadoen nie). Gaan kyk ook die pragtige uitstallings in die Reinett museum waarvan die geskiedenis terugloop tot by die bekende stamvader predikant Andrew Murray van wie se nasate so baie NGK-predikante geword het, en een van die 4de geslag met dieselfde naam nou my kardioloog is. Die twee aand probeer ons die DESERT SPUR vir ete, en ondervind blitsige diens op 'n Maandagaand.
Terwyl
ons eerste
oes filmafdrukke by die plaaslike Foto Eerste ontwikkel word (pragtige
resultate!) ry Elna en ek uit om na die bekende Uilhuis
van Helen
Martins op Nieu-Bethsda
te gaan kyk. Dit is beslis die moeite
werd om dit te gaan kyk, maar agterna is dit moeilik om jou gevoelens
op
te som. Jy is verstom verslae hartseer ontsteld - alles deurmekaar. Sy
was behep met lig - binne in die huis het sy gemaalde glas en
spieëls
gebruik om lig in te bring - buite is 'n agterplaas vol beelde. Waar
ander
mense plante in hulle tuin het, het sy beelde gehad! Ek koop vir Elna
'n
sement-uil as aandenking - dit is in 1998 gemaak deur Koos Malgas - die
laaste man wat 'miss' Martins gehelp het met haar sementbeelde. Hy werk
tans nog daar om ondermeer instandhouding te doen.
Voort na die Bergkwaggapark, waar ons ook goeie kampeergeriewe kry; baie diere en mooi tonele sien. Ons sien hier vir die eerste keer die swartwildebees (baie na familie van die blouwildebees) wat spog met pragtige wit sterte!
Die volgende dag is een van
pragtige Oos-Kaap groen bergnatuurtonele
wat ons ondermeer neem deur Cradock,
Queenstown,
Molteno
en Burgersdorp
tot by Aliwal-Noord
(Mosselbaai sou glo Aliwal-Suid
wees, maar dit het nie posgevat nie). Ons sal later nog 'n
bietjie
meer na hierdie wêreld moet gaan kyk. Cradock en veral
Queenstown
het ons baie besig gevind - die Gautengers se skole het
gesluit en
hulle het laat wiel vir die kusstreke. In Aliwal-Noord staan ons by die
bekende spa se geriewe - hulle sekuriteit was die beste - wag by
geslote
toegangshek - maar die toestand van die geriewe vereis ernstige
opknapping
- soveel goed was stukkend dat sommige deure in die gerieweblok sommer
permanent gesluit was. (Gelukkig kan ons sê dat by alle kampe
ons
heerlike en voldoende warm water gehad het en lekker kon was) Die
volgende
dag kyk ons na die Anglo-boere-oorlog konsentrasie-kamp gedenkteken op
die rand van die dorp - dit sluit 'n ontstellende
kinderbegrafnisuitbeelding
in.
Die grootste gedeelte van hierdie dag is Elna en ek die enigste besoekers in die TUSSEN DIE RIVIERE wildreservaat. Dis aan die bo-oewer van die Gariepdam. Weer is die paadjies taamlik verspoel, maar daar is genoeg diere, en vir middag-ete braai ons 'n lekker vleisie onder perfekte piekniekbome. Die aand slaap ons by Gariepdam wat met groot gedreun oorloop. Ons neem 'n luukse woonwastaanplek wat beteken dat jy 'n eie kombuis en badkamer vir privaatgebruik het.
Die volgende dag, na ons 'n lekker ontbyt by Colesberg Ultra City geneem het, bekyk ons die netjiese Karoodorp van naderby. 'n Gawe tannie wil ons selfs innooi vir 'n koppie tee. Die dorp wemel van gastehuise, maar daar is nou sprake van 'n moontlike ooraanbod, aangesien te veel mense nou op hierdie wa wil ry. In een straatjie is al die huisies op 'n ry monumente, en elkeen is 'n gastehuis. Ek koop die Colesberg Advertiser (elke Vrydag) by vriendelike kêrel van 29 wat met sy koerantkarretjie deur die dorp loop en neem 'n mooi foto van hom. In die koerant is 'n berig oor die koedoe-gevaar op paaie - gemiddeld 3 botsings per maand in die Oos-Kaap. Wat ek eintlik wil noem is die natuurbewaarder se kommentaar wat meld dat jy nie van links na regs moet kyk wanneer jy bestuur nie, maar van regs na links - op die manier sien jy glo meer as andersom - dit is iets wat in natuurbewaringskursusse geleer word - eerste keer wat ek daarvan hoor...
Later
die dag sien
ons ook die Van der Kloofdam
verder af in die Oranje wat net soos
die
Gariep
oorloop
met miswolke waarin die dubbele reënboog wys. Daarna waag ons
dit
om by Orania,
die STRENG PRIVAAT dorp, in te ry. Naby die ingang
sit 'n klompie tannies in 'n tuin wat tee en koek verkoop. Ek is seker
ons sou welkom gewees het, maar ons het maar weer koers gekry, want ons
het pas klaar middagete by die dam gehad. By Douglas
spandeer ons
'n tydjie om na 'n groot klipplaat te kyk waarop gletserspore uit die
ystydperk
(250 miljoen jaar gelede) duidelik blyk. Die aand slaap ons by Kimberley
se Groot Gat woonwapark - een van die netjiesste wat ons al gesien het.
Van
Kimberley doen
ons dikwels plekkies aan wat met die sendelinge of reisigers te doen
het. Campbell
waar Livingstone vir die eerste keer sy aanstaande vrou Mary Moffat
ontmoet
het. Hulle is besig om die kerkie daar te restoureer - daar is 'n
gedenkteken
op 'n boomstam waaronder Livingstone sou gepreek het. In Daniëlskuil
vermaak die ouens hulle op 'n Saterdagmiddag deur met hulle
boerperde-resies
teen mekaar te hou. 40 km noord van die dorp gaan kyk ons na die grot
op
die plaas Wonderwerk. Die eerste blankes op die plaas het aanvanklik 'n
paar jaar in die grot gewoon voor hulle 'n huis gebou het. Die
museum-ouens
is nog besig om tans die grotvloer op te grawe - elke keer as hulle
daar
weggaan, ry hulle 'n bakkievrag diere-bene weg - dis nou die Boesmans,
ens wat lank gelede hulle kos daar in die grot geëet het.
By Kuruman
is die Oog in 'n pragtige toestand, die water helder
skoon en honderde visse sigbaar. Die aand hou die AGS se (mobiele)
KRUISPAD evangelisasie bediening 'n diens daar net langs die oog. (Die
kamp opsigter het my vóóraf ingelig dat iemand
ons gaan vertel
"wat ons kortkom". Hulle was taamlik vrolik en het baie musiek gemaak,
maar voor nege was alles stil en rustig - ons was net langsaan die oog
in die woonwapark. Die volgende oggend het ons na Moffat se kerk 5 km
noord
van die dorp gaan kyk. (Hy het 'n waterkanaal vanaf die oog
tot by
die kerk laat maak.) Dit is 'n baie interessante plek om te besoek. Dit
is hier waar Livingstone vir Mary om haar hand gevra het. Ek bespeur
ook
'n sonnewyser wat uit leiklip spesiaal vir Moffat se gebruik gemaak is.
By Kathu
se
vulstasie staan een van die Sishenmyn se vragmotors op permanente
uitstalling.
Daar is min mense wat kan verbyry sonder om te stop. Die ding is amper
3 verdiepings hoog! Die bande is meer as 2 meter hoog. Die wiele word
elektries
aangedryf. Die enjin dryf eintlik 'n elektriese kragopwekker aan, wat
krag
maak vir die wiele. By die myn kan die vragmotor vir lang stukke aan
oorhoofse
kragdrade koppel word - dan hoef dit nie sy eie brandstof te gebruik
nie.
Dit werk dus soos 'n kombinasie van 'n elektriese en 'n
diesel-elektriese
lokomotief.
By Upington kuier ons by die eiland-oord wat loshande die mooiste woonwapark is wat ons op die toer besoek het. 'n Klomp pronkerige manne wys wat hulle met hulle kragbote en waterponies op die vol Oranje kan doen, maar ons is non-beïndruk deur hulle totale ignorering vir mekaar se veiligheid, en dit is gelukkig dat ons nie 'n ongeluk gesien het nie.
Op Pofadder
is daar 'n vriendelike gesels in die winkel met 'n
vrou wat ons erg aanbeveel na Pella se museum. Sy, haar man, haar
dogter
en die se man was erg betrokke by die opstelling van die museum. Sy
waarsku
my egter teen die 20km grondpad na Pella
- dié is sleg. Dit
is toe ook so - die sinkplaat is so erg; dit skud die voertuig tot
stilstand!
Op die end het ons darem daar gekom, en op die buitewyke van Pella
onder
'n skadu-boom ingetrek. 'n Vuurtjie is gemaak en die heerlike Pofadder
(wors) is gebraai terwyl jy 'n uitsig van barre berg, palmbome en
donkies
gehad het - jy kon jou maklik verbeel jy is nou in 'n Bybelse land. 'n
Plaaslike inwoner ry verby en skree: "Geniet die tydjie, meneer!"
Sowaar,
ons het! Na ete ingeloer by die katedraal wat biskop Simon in 1893 met
'n boek as handleiding gebou het. Sy graf is te sien in die
linkerkantse
vleuel van die gebou. Binne die katedraal was die kinders
besig om
te oefen met sang en die optog vir die komende Paasfees.
Hierna
het sister Theresa Hendrietta (Cloete) ons ook deur die Museum geneem.
Sy is al 67, het al oog-operasies gehad, en kan nie so goed sien nie,
maar
sy wys ons die drie bergpunte in die omgewing waarop vader Simon elk 'n
kruis opgerig het. Die museum is baie interessant. Daar is die
oorspronklike
kansel, voorbeelde van die driehoekstene waarvan die pilare in die
katedraal
gebou is en die verskillende klede van die priester wat ongelooflike
fyn
naaldwerk vertoon - een met Namakwalandse gousblomme!
Die aand eet ons Kentucky op Springbok, en daarna koffie ons in Jopie Kotzé se karaktervolle Springbok Kafee.
Die volgende dag gaan kyk ons na die murasie van Bowesdorp se kerk - dit is waar Kamieskroon eers was. Hierna word nog 'n ou sendingstasie by Leliefontein oos van Garies besoek. Voor die geskiedkundige kerkie was die gemeentelede besig om "uit te spring vir die Waarheid" (soos een van die vrouens dit gestel het). Hulle het die kerk en straat behoorlik gebesem, want die naweek gaan daar 'n groot konferensie wees, en die mense se klere moet tog nie vuil word nie! Agter die pastorie is ook 'n baie ou sonnewyser.
Laat
middag drink
ons koffie in Nieuwoudtville
se 'Smidswinkel'. 'n Pragtige atmosfeer
wat 'n meneer Van Zijl uit Kaapstad 5 jaar gelede daar geskep het. Hy
het
ook al 3 gastehuise in die dorp. Ek was veral geïnteresseerd
in sy
boekversameling in 'n glaskas. Meestal botanies van aard, met baie
boeke
oor plante en blomme.
Hierdie bladsy op "Piet se WebWerf" is laas op 26 November 2007 met Nvu (Composer) bygewerk deur
Piet Conradie (dieconradies@gmail.com)