H.L.N
Conradie (1889-1979)
Oom Hennie, soos almal hom in sy latere jare geken het, was die groot stukrag agter die Conradie-geslagregister. Hy het vir ruim 45 jaar aan en af aan die register gewerk, en ongeveer 4000 stamlede se name in die register opgeneem. Hy het al die werk self met 'n tikmasjien gedoen, en moes verskeie kere die hele register oortik om nuwe name in te voeg. Gebore op 14 November 1889 op die plaas Elandsrivier, Prince Alfred Hamlet. Toe hy sewe jaar oud was, het sy pa na Prince Alfred Hamlet getrek. Daar is hy in 1902 oorlede en sy moeder in 1913. Oom Hennie het St. 7 op Prince Alfred Hamlet geslaag en daarna drie jaar op Ceres skoolgegaan waar hy die Junior Sertifikaat, Matriek en Pupil Teachers (T.C3) deurloop het (1907-9). In 1910 is hy na Stellenbosch waar hy die B.A. verwerf het. Hy het in 1914 op Caledon skoolgehou, was skoolhoof op Koppies vir ses maande in 1915, op Ficksburg 1917-22 skoolhoof op Excelsior 1923-27, skoolhoof op Luckhoff 1928-49, Saakgelastigde op Viljoenskroon 1950-1, onderwyser aan die Stofberggedenkskool 1952-59. Hy het vir die tweede maal op Parys afgetree. Kolportasiewerk gedoen vir die N.G.K. Boekhandel tot sy motor in 1969 ingegee het. Hier het hy sy eie tuin van 3/5 morg self bewerk tot sy vrou se been gebreek het en hulle na die Huis vir Bejaardes gegaan het. Op 1 Mei 1974 is sy oorlede en op 22 Februarie 1975 is oom Hennie weer getroud met wed. A.C. Steyn (sy eerste vrou met wie hy 52½ jaar saamgeleef het was Mary Ann van Heerden). Vanaf 1931 het hy 'n leidende aandeel geneem in die organiseer van vier Conradie-feeste en die opstel van die Geslagregister. Eers het hy al die afstammelinge van sy oupa Daniel Jacobus opgespoor en in 'n boekie laat druk en toe in 1954 die geslagsregister van net Conradies laat druk en verder voortgegaan met aanvullings tot 1975. 'n Ander stokperdjie waarmee hy op Parys begin het, was tapisseriewerk waarvan hy 22 stukke gedoen en toe na kelim oorgeslaan het en in sy 87ste jaar nog 'n paar stukke voltooi het. Ook het hy al die tyd volgehou met jukskei speel wat baie tot sy gesondheid bygedra het. Oom Hennie sê: "alles is genade" en aan genade het hy ook sy wonderlike herstel na 'n beroerte-aanval verlede jaar in Mei te danke. 0om Hennie getuig: "Hy het my gedra deur armoede en moeilikhede wat volop was, omdat ek 'n swakkeling was, maar Sy krag is in my swakheid volbring". Oom Hennie is in 1979 op die rype ouderdom van 90 jaar oorlede, en het tot enkele dae voor sy dood nog insette gelewer oor die ontwerp van die Conradie familiebond wapen. |
|
|
|
is laas op 26 November 2007 met Nvu (Composer) bygewerk deur |