'n Bespreking van sommige

    Conradie-Familieplase in die Westelike Provinsie

    se Grondbriewe

geskryf deur c2d4e8f13g11 dr. Daniel Jacobus (Droogte) Conradie (1900-1974). (Hy was die jongste broer van oom Hennie (c2d4e8f13g5) wat die dryfkrag agter die Conradie-register was.) Die skrywer was 37 jaar verbonde aan die U.S., en was 'n senior lektor in Ekonomiese Geografie. Vermoedelik is hierdie studiestuk rondom 1936 ("220 jaar na 1716" - sien inhoud) geskryf - sonder twyfel in antwoord op 'n broer-tot-broer versoek aan 'n man wat uitstekend gekwalifiseerd vir die taak was.

(1) Algemene Opmerkings

    Die informasie is glad nie so in besonderhede soos ek dit graag sou wou gehad het nie. Ek sou u baie meer interessante informasie kon gegee het, maar ek sal my bes doen. Die redes hiervoor is:-
    (i) Ek kon eers na die Universiteitseksamens begin werk. 
    (ii) In Stellenbosch was daar niks te kry i.v.m. die saak nie, en ek moes dus na Kaapstad na die Aktekantoor gaan. Daar is baie stof - so baie dat jy skoon verlore raak daartussen. Informasie i.v.m. elke duim grond in die Kaapprovinsie is daar te kry. Hierdie dokumente is egter nie mooi gesistematiseer nie. Daar is nie behoorlike referensies nie. 
    (iii) Ek het net die name van 'n paar plase geken, sonder om eers te weet wie hulle teenswoordige eienaars is of waar dat hulle geleë is.

    Dan nog 'n algemene opmerking: Die gevolgtrekkings wat ek maak, moet u onthou, maak ek van papier af, sonder kennis van die werklike omstandighede, daarom behou ek alle regte voor.


(2) Hoe te werk gegaan is.
    In die eerste plek het ek myself afgevra: Wat is 'n familieplaas? Of in hierdie meer spesifieke geval - wat is dan 'n Conradie Familieplaas, die plaas wat dan vir ons doel hier vandag van belang is, en wat ons nou hier interesseer.

    Volgens my opvatting: 'n Conradie-Familieplaas is 'n plaas wat die eiendom van verskillende opeenvolgende geslagte van Conradies gebly het deur bemaking van die plaas van een geslag aan die ander - en natuurlik dit vandag nog is, anders is hy nie so belangrik vir ons doel nie.

    Die kwessie van koop - wanneer die plaas onder lede van die familie gekoop en verkoop word maar tog op dié manier onder die familie gebly het. M.i. kan hy dan ook nog 'n familieplaas bly, maar miskien nie so suiwer volgens die algemene opvatting as in die eerste geval nie.


(3) Die informasie
[A] NIEUW MUNSTER
    I.v.m. hierdie plaas, het ek die interessantste informasie, miskien interessanter vir baie van u, wat die plaas beter ken as ek.  Die plaas, Nieuw Munster, is oorspronklik uitgereik aan Pieter Franz Swanepoel. Dit was op 12 Mei 1716 deur Goewerneur Mauritz Pasques de Chavonnes .... "Aldus verleend ende gegeven in 't Casteel de Goede Hoop dezen 12de Maÿ 1716". Geteken met sy persoonlike handtekening: "M.P.Chavonnes".
    Ek dink voordat ek verder gaan, is dit nodig om 'n kort opsomming te gee van hoe die meeste van ons hedendaagse plase ontstaan het. Ek het bewyse dat sommige van die plase waarvan ek nou hier iets gaan vertel, so ontstaan het; daarom hierdie verduideliking. Ek gebruik hier vir my informasie die boek: "Die Trekboer in die Geskiedenis van die Kaapkolonie" - deur Dr.P.T.van der Merwe. Hy is 'n erkende outoriteit i.v.m. die Leningsplaas en die uitbreiding van die Kolonie.
         
    Met die stigting van die Nedersetting aan die Kaap, het die Here XVII hulle nie die aanlê van 'n Kolonie ten doel gestel nie. Dit moes net 'n verversingstasie wees, waar die skepe vars kos en water kon kry, en waar die siek matrose verpleeg kon word.

    Die Landbou was dan ook hoofsaak by die Kompanjie en die Vryburgers moes hulle dus ook daarop toelê. Vee, het die Here l7 gemeen, kon van die Hottentotte geruil word. Selfs in die tyd van die twee van der Stels was dit nog so.

    Gaandeweg, as gevolg van sekere faktore, soos veral die ekonomiese onaantreklikheid daarvan, het die akkerbou onpopulêr geword, en stadigaan laat die Koloniste hulle grond onbewerk lê, en begin hulle toelê op veeboerdery.  Die veeboerdery was dan ook baie aantrekliker, ekonomies en andersinds, as die akkerbou. Hier vind nou 'n definitiewe splitsing tussen die Koloniste in             twee klasse:- 
     

      (i) die wat die akkerbou bly beoefen en 
      (ii) die wat geen behoorlike bestaan daaruit kon maak nie, en hulle veral op die veeboerdery toegelê het.  Eers was die akkerbou en die veeboerdery aanmekaar gekoppel, maar weldra het die veeboerdery 'n selfstandige bedryf geword.


    Dit was dan die patriargale veeboer met sy gesin, dienaars en veetroppe, wat die eenheid van die uitbreiding van die Kolonie na die ooste geword het.

    Weldra vind ons onder die boere 'n stelsel van gemeenskaplike weiding. Dan, omdat die ou kwessie van Lot en Abram se veewagters hom weer voorgedoen het, kom die stelsel van weilisensies en veeposte. Hierdie laaste vind ons van ongeveer die jaar 1703.

    Met verloop van tyd is daar egter veeposte opgerig wat min of meer gereeld bewoon is, omdat veeboere wat nie eiendomsgrond besit het nie, langsamerhand ook van weilisensies begin gebruik maak het.

    Die gewoonte het nou ontstaan om die weilisensies te hernu, en so het die veepos in die veld met verloop van tyd die blywende woonplek van baie boerefamilies geword. Natuurlik word hierdie veeposte toe bebou. Weldra word die veepos ook bewerk. Die boer maal koring en plant groente vir sy gesin en werksvolk.

    Nog 'n verder ontwikkeling is dat die veeposte op die weilisensies en andersinds name begin kry het.

    Sodra 'n boer 'n wvepos begin bebou en bewerk het, is dit ook te begryp dat hy begerig sou geword het om rondom daardie punt uitsluitende weiregte te verkry.  So het die beginsel van partikuliere weiregte ontstaan, wat 'n verdere ontwikkeling was.

    Hieruit ontwikkel die Leningsplaastelsel.  Hierdie stelsel het noodsaaklik geword omdat die boere baie begin word het, en daar botsings begin plaasvind het, en ook deurdat die botsing met die Bantoes op die Oostelike grens, en met die Boesmans, op die Noordelike grens, die uitbreiding tydelik stopgesit het.  'n Minimum afstand tussen opstalle, wat beheers is deur sekere faktore, is nou           vasgestel. Dit blyk dat in die meeste gevalle, waar die betrokke opstalle een uur of meer se stap van mekaar gelê het, die gekomitteerdes die tussenruimte as voldoende beskou het.  Het die plase egter nader as 'n uurstap van mekaar gelê,  dan is die tussenruimte meestal as onvoldoende geag.

    Die wêreld is digter bewoon, en die opvatting het onder die boere ontstaan dat hulle plase nou min of meer sirkelvormig was met 'n halfuurstap as straal.  Daar was egter nooit 'n wet of regulasie wat dit vasgestel het nie.

    Met die groei van die bevolking het daar mettertyd, op 'n natuurlike manier deur verdeling van die weiveld tussen bure, bepaalde plase met vaste grense ontstaan.

    In 1813 het die Engelse regering besluit om nie meer grond in lening uit te gee nie, en om aan die eienaars van Leningsplase wat daarom aansoek doen, soveel grond as wat hulle voorheen wettig in lening besit het, in Altoosdurende Erfpag uit te gee.  Ook is voorgeskryf dat geen leningsplaas groter as 3000 morge mag wees nie. Die begrip van sirkelvormige plase het ook verdwyn, omdat, as plase op die manier uitgegee sou word, daar die gevaar sou ontstaan dat stukke onuitgegewe grond tussen plase sou bly lê.

    So, stel ek my voor, het die plaas Nieuw Munster ook ontstaan. Die oorspronklike kaart van die plaas is net 'n groot, min of meer reghoekige blok, maar een van die plase (Leeufontein) wat ek hier gaan noem, toon duidelik sy ontstaan. Daarom het ek hierdie uiteensetting noodsaaklik geag. Nieuw Munster was heelwaarskynlik eers net 'n veepos, wat in 1716 in lening deur Swanepoel verkry is, want op die grondbrief kom die woorde "Altoosdurende Erfpag" nog nie voor nie.

    Ongelukkig kon ek die oorspronklike grootte van die plaas op die ou grondbrief nie uitmaak nie, maar dit sal dig by 3000 morge gewees het.  Dit is jammer dat die skrif so moeilik te lees is. Die ink en papier is nog goed, 'n merkwaardige feit as ons daaraan dink dat dit ruim 220 Jaar gelede geskrywe is.

    Onderaan is die naamtekening van Goewerneur de Chavonnes, nie 'n afdruk daarvan nie.

    Die eerste keer wat hierdie plaas, sover ek kon uitvind, onder die Conradies gekom het, was in 1818, toe Lord Charles Somerset goewerneur was.

    Ek het gedeeltes woordeliks afgeskrywe wat ek hier aanhaal:- "Door zyn Excellentie, den Hoog Ed. Geb. Generaal Lord Charles Henry Somerset ...." (nog 'n boel titels) ".... word door dezen in altoosdurende erfpaght gegeven aan de Wed Petr. Coenradie zeker stuk land, gelegen in het Distrikt van Tulbaght, groot in zyn grond 474 mor. 510 vk. rd., strekkende - aan de Lenings Eigendom Plaats van I. Moller - naar de Breede Rivier, aan het verzogte lyfpachtland van P. du Plessis aan de Mosterdshoek".

    Sy moes jaarliks 45 Rykadaalders aan die regering betaal vir die plaas, en sou die plaas behou, sy en haar nageslag, solank as wat die geld betaal word.

    Verder..... "en zal gehouden zyn (volgens de existerende Wetten dezer Volksplanting) zorge te dragen, dat de limieten behoorlyk worden gemerktekend, en het land in zulk een staat van cultivatie gebracht worde, als waartoe hetzelve bekwaam magte wezen, en zulks binnen den tyd van de eerste drie jaren.

    Aldus verleend en gegeven onder myn Hand en Zegel aan de Kaap de Goede Hoop, den 25 Juny 1818".

    Dan volg sy persoonlike naamtekening:  C.H.Somerset.

    Hier is sekere dinge wat interessant is:-
     

      (1)  Die grondbriewe van hierdie tyd kom tweetalig voor, nl. in Hollands en in Engels. So ook met hierdie een. Dit is opmerklik as ons daaraan dink dat  dit in die tyd van Lord Charles Somerset was.  Albei taalgedeeltes, die Hollandse, sowel as die Engelse, is deur hom onderteken, en dit het my vooroordeel teen hom heelwat minder gemaak.

      2)  Die plaas word nou in altoosdurende erfpag aan die weduwee gegee. Ek dink dit was die eerste keer dat dit so uitgegee is, aangesien die Engelse Regering eers in l813 bepaal het dat plase vanaf daardie jaar net in altoosdurende erfpag uitgegee sou word.

      (3) Die van van die weduwee word met 'n eksta "e" gespel. Dit kan 'n spelfout wees, wat in die Staatskantoor gemaak is, maar dit is 'n ongewenste fout om te maak, veral as ons daaraan dink dat daar werklik 'n Coenradie, ook van Duitsland, gekom het so ongeveer 100 jaar na stamvader Frederik Conradie. Dit is nie onbekend dat vanne destyd nie baie suiwer in die Staatskantoor gespel is nie.  Selfs in dieselfde grondbrief kry ons die van Möller sonder die umlaut.

      (4) Die plaas was toe in die distrik van Tulbagh.  Van Wolseley was daar in 1818 nog geen sprake nie.

      (5) 'n Interessante verskynsel is die grootte van die plaas. ... "groot in zyn grond 474 morgen 510 vk. roeden".  Die oorspronklike plaas moes digby die 30O0 morge gewees het.  Wie sou dan 400 morge grond neem as die bepaling sê jy moet net nie meer as 3000 morge neem nie.  Een van twee dinge kan hier gebeur het: 
      (i) Die oorspronklike Nieuw Munster kon reeds opgedeel gewees het, of
      (ii) dit kan wees dat die plaas kleiner opgegee is, as wat hy werklik was, om te te veel  jaargeld te ontduik. Hiermee wil ek geensins ons voorouers moedswil1ig van bedrog beskuldig nie, maar ek wil net daarop wys dat volgens navorsers i.v.m. hierdie sake, plase somtyds kleiner opgegee is, as wat hulle werklik was, om sodoende die betaling van te veel jaargeld te ontduik.  Dit is bale waarskynlik dat dit hier die geval was, aangesien die teenswoordige eienaars ook meen dat die plaas destyds ongeveer 1200 morg moes gewees het.

      (6) Dan i.v.m. tot waar die plaas hom uitgestrek het: "de Lenings Eigendoms Plaats van I. Moller, dan naar de Breede Rivier, dan aan die ander kant tot aan de verzochte lyfpachtland van P. du Plessis en ook tot aan de Mosterdshoek". Die plase van die Conradies en die Möllers het aanmekaar gegrens, en dit toon vir ons waarom die twee families ondertrou het. Mostertshoek, verstaan ek, is dle hoek van die berg waar Michell'spas vandag deurgaan.  Die pas was waarskynlik toe nog net 'n voetpaadjie of uiters moeilike wapad soos maar meeste passe destyds was.

      (7) Ook is dit interessant, om daarop te let, dat 'n plaas wat vandag seker      seker etlike duisende ponde werd is, daardie dae jaarliks net 45 riksdaalders erfpaggeld voor betaal is.

      (8) Dan is daar sekere voorwaardes : 

        (i) Die plaas moes behoorlik afgebaken word en 
        (ii) dit moes bewerk word binne drie jaar van die datum op die grondbrief aangegee. Daar staan vandag nog sommige van die oorspronklike bakens. Hulle is seker kort na 1818 opgerig.
    Hier is nog informasie wat ek by die teenswoordige eienaars ingewin het:- Hulle reken dat na die weduwee die plaas behoort het aan Pieter Jacobus Conradie. Sy seun, Willem Stephanus Conradie het die plaas van hom geërf. Hy het nog goewernementsgrond beygekoop. Na hom het die twee seuns, Hendrik Francois en Willem Stephanus die plaas geërf.

    Hulle het die plaas egter nie opgedeel nie, maar broederlik saamgewerk.  Na hulle dood is die plaas egter onder hulle sewe seuns verdeel, naar net in twee dele.  Twee van die seuns is uitbetaal, maar vyf het bly boer.

    So kom ons by die teenswoordige elenaars van Nieuw Munster;
     

      (i)  Seuns van Willem Stephanuus Conradie:-
        Willem Stephanus, Pieter Jacobus Hugo, en Gabriel Francois.
      (ii) Seuns van Hendrik Francois Gonradie:-
        Willem Stephanus en Pieter Jacobus.


    Dit is dan hoedat dit gebeur het dat twee eienaars van die plaas feitlik op dieselfde werf woon, en neefs is.

    Ek het nog 'n grondbrief bestudeer, nl. die van Welgemeend, omdat dit onafskeibaar is van dié van Nieuw Munster.  Tussen hakies, hierdie grondbrief kom net in Engels voor, en sy datum 1817.

    Die grondbrief van Welgemeend is ietwat ingewikkeld. Byna al die name van die vroeëre eienaars van Nieuw Munster kom daarin voor, selfs die van 'n Engelsman, John Tall, van wie ek 'n interessante staaltjie gehoor het i.v.m. die plaas.

    Welgemeend dan, volgens die grondbrief, is in die veldkornetskap van Breede Rivier, en in die afdeling van Tulbagh.  Die plaas is 551 morge 55 vk. rde. groot. Dit is saamgestel uit drie dele:- 
     

      (a) Twee stukke grond saam 481 morge 354 vk.rde., wat oorspronklik in altoosdurende erfpag uitgegee is - die eerste stuk grens aan Nieuw Munster en was deel van die ou Nieuw Munster, die tweede stuk is oorgedra aan Hendrik Francois Conradie op 25 Jan. 1906 en was deel van Almansberg.  Hierdie stuk grond volgens die grondbrief het voorheen behoort aan John Tall.  Hy het dit verkry op 23 Feb. l874 op, soos die huidige eienaars van Nieuw Munster my vertel, 'n slinkse manier.  Dit was voorheen onuitgegewe goewermentsgrond, en die destydse eienaar van Nieuw Munster, waarskynlik Hendrik Francois Conradie, het die reg verkry om koring op die grond te saai. John Tall het die grond van die regering in elendom verkry, en die Conradies moes die grond van hom koop om hul eie koring te kan oes.

      (b) Dit is ook 'n stuk wat deel was van die ou Nieuw Munster - 43 morge. 

      (c) Bestaan uit twee stukkies wat in die grondbrief Annex Nieuw Munster genoem word - groot 27 morge 197 vk. rde. Dit was oorspronklik die eiendom van hendrik Francois Conradie en die wettige verteenwoordigers van wyle Willem Stephanus Conradie.
       

    Opsommend kan ons dan net byvoeg, dat ons in hierdie grondbrief, die name van die volgende Conradies het wat hier grondeienaars was.
     
      (i)   Wed. Petrus Conradie        25 Jan. 1818  -  Tulbagh.
      (ii)  Willem Stephanus Conradie   12 Des. 1890.
      (iii) Hendrik Francois Conradie   25 Jan. 1906.
    Van die volgende plase weet ek nie veel af nie.  Ek kon net een grondbrief i.v.m. elk raadpleeg, maar hierdie grondbriewe is van groot belang omdat hulle i.v.m. die betrokke plase uitgereik is voordat hulle opgedeel is.


    [B] KOELEFONTEIN:

    Die grondbrief lui as volg:

    "I do hereby grant, on perpetual quitrent, unto David Malan and Petrus Jacobus Conradie a piece of land, 2965 morgen and 328 sq. rds., situated in the district of Worcester, Field Cornetcy, Over Hex River; being the land called Koelefontein, extending to Vinke River and ........govt. ground..."

    Die eienaars moes elke 12 mnde die som van 30 riksdaalders(rixdol.) betaal.

    Dan is daar nog die gewone twee bepalings: " ... and be bound (according to the existing laws of this settlement) to have the boundaries properly traced out, and the land brought into such a state of cultivation, as it is capable of within the first three years".

    Dit is geteken  C.H. Somerset, en is uitgereik op 21 Nov. 1823.

    Enkele opmerkings:
     

      (i)   Ons let daarop dat die grond in Altoosdurende Erfpag uitgereik is in 1823, en dat die plaas twee eienaars had.  Net een van hulle is natuurlik hier vir ons van belang nl. Petrus  Jacobus Conradie.  Ek reken en sy afstammelinge woon nou nog daar, maar ek weet nie of die Malans nog 'n deel van die plaas besit nie.
      (ii) Hulle mees jaarliks 30 riksdaalders betaal.  Vgl. dit met die huidige waarde van die plaas of met sy jaarlikse opbrengs.
      (iii) Dan kry ons die gewone twee bepalings.
      (iv)  Let op die grootte van die plaas.  Miskien is daar nie vandag nog so 'n groot plaas in die Worcester-Distrik nie.  Die Koelefontein van vandag is seker heelwat kleiner.
      (v)   Die grondbrief kom net in Engels voor.


    [C] LEEUFONTEIN

    I.v.m. hierdie plaas het ek nie veel te sê nie. Die oospronklike grondbrief is uitgereik op 8 Maart 1832 aan Maria M. van Heerden en Christian Gabriel Theron, en die plaas was destyds baie groot, 4542 morge.  Dit is uitgereik gedurende die tyd van Goew. Sir 0. Lowry Cole.

    Wat die plaas vir my van besonder belang maak, is die ou tekening van die plaas.  Ons vind die sirkel met die strepe wat die straal van 'n halfuurstap in alle rigtings aantoon.   Buitekant op die sirkel is daar 'n vierkantige figuur getrek. Dit is 'n onteenseglike bewys vir ons dat die plaas ontstaan het soos ek  in die begin uiteengesit het.

    Volgens hierdie tekening moes die ou plaashuis van Leeufontein dan ongeveer in die middel van die teoreties ronde plaas gewees het. Dit was mos die oorsprong van die ronde plaas. (Hier verskil die plaas van Nieuw Munster, want dit lyk vir my of die plaashuis van Nieuw Munster aan die een kant is. Dit kan wees dat die eerste ou plaashuis nie meer bestaan nie, en dat die oudste woonhuis veel laeraf, nader aan die lopende water, was.)

    Wanneer het hierdie plaas dan die eiendom van 'n Conradie geword?  Op die ou grondbrief staan in potlood aangeteken;

    "Granted to J. Conradie 30/10/l875".  Vermoedelik behoort die plaas van daardie tyd af aan nog altyd aan Conradies.  Dus ook 'n familieplaas. Ek is jammer dat ek nie die tyd had en die grondbrief van 1875 op te spoor nie.



    [D] DE LIEFDE

    Van hierdie plaas het ek ook net die oorspronklike grondbrief gesien.  Ek het maar gehoor dat hy 'n familieplaas is, maar ek het geen bewyse daarvoor nie. 

    Dit is namelik in Altoosdurende Erfpag uitgereik aan Pieter Jacobus Hugo (Piet seun) op 17 Junie 1848.   Die plaas was toe 1710 morge groot. Die eienaar moes 5 Pond per jaar erfpaggeld daarvoor betaal.   Dit was in die tyd van Sir Henry George Wakelyn Smith.


stuur asb epos aan Piet Conradie by:
dieconradies@gmail.com
Piet se WebWerfGaan na die Bopunt van hierdie bladsyPiet se WebWerf
Hierdie bladsy
is op 26 November 2007 met
Nvu (Composer) bygewerk deur
Piet Conradie