|
Die Conradies
se Duitse voorvaders
skrywer:
Pieter Conradie - eerste
opgestel 31 Augustus 1999
jongste
wysiging: 7 November 1999
BELANGRIK:
Die inligting in hierdie artikel is voorlopig
- die artikel bly onder konstruksie - en sekere stellings kan
net
getoets word met konkrete bewyse op papier -- wat moontlik reeds lang
gelede
vernietig is. Ek het eers lank gehuiwer om hierdie inligting algemeen
bekend
te maak, maar ek meen dat dit nou in die beste belang van die Conradies
is dat dit bespreek en kritiseer word, sodat die waarde van hierdie
inligting
bepaal kan word. Ek ontvang graag kommentaar, kritiek, insette en nuwe
inligting wat op hierdie onderwerp betrekking het. Ek verneem ook graag
van die gevolgtrekkings wat ander Conradies uit eie navorsing oor
hierdie
onderwerp (ons Duitse voorvaders) gemaak het.
Dit is bloot
natuurlik dat enige afstammeling van die
Suider-Afrikaanse Conradie stamvader Fried(e)rich Conradie, graag sal
wil
weet hoe die familielyn terug loop in Europa voordat ons stamvader hier
aangekom het.
Hierdie saak
is egter nie so eenvoudig nie! Kom ons kyk
watter inligting is beskikbaar as ons so 'n soektog sou wou begin:
- In
die eerste plaas beskik ons tans nie oor enige plaaslike
inligting wat die stamvader se geboortedatum
aandui nie.
- Ons
weet dat hy sy naam aan die Kaap as "Friederich Conradÿ"
geteken het. Dit bewys egter nie dat dit die korrekte spelling vir sy doopnaam
is nie, nog minder dat dit sy volledige doopnaam is.

- Vir
baie jare - tot in die laat 1970's - is allerweë
aanvaar ons stamvader in 1688 na die Kaap gekom het. Toe het nuwe
inligting
(bron was skynbaar dr. Hoge) aan die lig gekom, wat aangedui het dat sy
immigrasie-datum
1685 was, en dus is die Conradie DRIE EEUE fees op grond daarvan in
1985
op Stellenbosch gehou.
- Dit
was altyd bekend dat Friedrich Conradie uit Marburg
in Duitsland gekom het. Dit word reeds so in 1932 in die Koelfontein
afstammelinge
boekie aangedui. Ek vermoed dat die bron van hierdie inliging moontlik
die Geslacht-register der oude
Kaapsche Familiën van
C.C.de
Villiers (opgestel in 1894) kan wees, en op sy beurt moet die
oorspronklike
dokument in die Kaapse Argief wees.
Die
slotsom waartoe hierdie feite ons dwing, is dat, afgesien
van die Marburg konneksie, ons nie veel het om ons Conradie voorvader
in
Duitsland konkreet te gaan identifiseer nie! Tog, in die genealogie,
wil
en mag jy nooit ophou probeer nie.
Hans-Georg Bleibaum
se hulp
ingeroep
In
November 1975 het 'n selfopgeleide genealoog, die
Duitser Hans-Georg Bleibaum, in die Strand 'n besoek gebring aan Ben
Conradie,
toe die sameroeper van die Conradie Werda-komitee. Dit is duidelik dat
Ben by daardie geleentheid die behoefte, om meer van die Europese
herkoms
van die Conradies te weet, aan meneer Bleibaum geopper het.
Meneer
Bleibaum was 'n lid van die Duitse instituut vir
genealogie - by name "Sentralstelle für Personen- und
Familiengeschichte"
wat reeds in 1904 gestig is. Hy was die navorser in die afdeling vir
Suid-Afrika
("Sektion für Südafrika") wat hy self gestig het om
aansien aan
sy werk te gee, en het 'n besondere belangstelling gehad in die
geskiedenis
van Duitsers wat na die Kaap geëmmigreer het - en het dus ook
sy navorsing
gedoen in samewerking met die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika
(GGSA),
en by sy dood op 81 jaar op 23 Desember 1998 in die stad
Hameln,
Duitsland, was hy 'n erelid van die GSSA.
In Duitsland
het Hans-Georg Bleibaum vroeg in sy lewe
as amptenaar in die administrasie van die Lutherse Kerk begin werk.
Later,
tydens sy verblyf in die destydse Suidwes-Afrika, waar hy in diens van
sy kerk gewerk het, het hy opgemerk dat vele Afrikaanse families se
vanne
van Duitse afkoms was, en het hy, nadat sy dienstydperk verstreke was,
na Duitsland teruggekeer, waar hy begin het om navorsing oor die
herkoms
van die Suid-Afrikaanse Duitse families te doen. Vanaf 1970 het hy oor
'n periode van 25 jaar onvermoeid gehelp met navorsing oor 'n lang lys
van Suid-Afrikaanse vanne met Duitse stamvaders. Al hierdie werk het hy
sonder enige vergoeding gedoen. Dit was vir hom voldoende beloning
wanneer
hy die Suid-Afrikaanse nasate van 'n familie met hulle Duitse voorouers
kon koppel en verder terugspoor. Dit was altyd vir hom 'n groot
geleentheid
wanneer hy die resultate van sulke navorsing aan verteenwoordigers van
die plaaslike familie kon oorhandig.
Een van die
vanne was CONRADIE. In Mei 1976 het meneer
Bleibaum in 'n brief aan Ben Conradie berig dat hy 'n uitstekende
navorsingsresultaat
met die "Conradi-geslagte in Duitsland" behaal het deur op
die gebied
Hessen-Marburg te konsentreer - en dat hy ten minste 3 geslagte
opgespoor
het, en dat hy van plan was om 'n artikel oor die Duitse Conradi
voorgeslagte
en Suid-Afrikaanse nageslagte vir die Duitse genealogiese tydskrif op
te
stel. Hy het gehoop om die navorsing deur die loop van 1976 te voltooi,
en sou in 1977, met sy volgende verlof in Suid-Afrika, die resultaat
aan
die Conradie-familie oordra.
("Mnr
Bleibaum se navorsing en werk in talle argiewe is
bo verdenking. Ek was in 1983 by hom tuis as DAAD Navorser in
Duitsland"
- bron: Andre Conradie - c3d6e7f2g2h3i1).
Die
Marburger Sippenbuch
Vir
sommige Duitse dorpe bestaan daar 'n soort plaaslike
genealogieboek, wat bekend staan as 'n "Ortssippenbuch" of
"Dorfsippenbuch"
(Sippen = bloedverwantskap of familie, buch = boek). Hierdie plaaslike
geskiedenisse bevat omvattende genealogiese informasie aangaande byna
al
die dorp se vorige inwoners. So 'n boek begin gewoonlik met die eerste
dorprekords, wat gewoonlik dateer uit die 1500's of 1600's, en hou aan
tot by die 20ste eeu. Tipies lys hulle families rofweg in alfabetiese
volgorde,
met 'n van-indeks en 'n pleknaam-indeks. Indien 'n voorvader se dorp
die
onderwerp van so'n boek is, sal jy waarskynlik met min moeite die
voorvader
se voorgeslagte 'n paar generasies kan terugspoor. Hierdie boeke lys
gewoonlik
slegs families wie se lede in die betrokke dorp gebore, getroud of dood
is.
Die bron
waaruit meneer Bleibaum sy inligting oor die
Duitse voorgeslagte gekry het, is die Marburger
Sippenbuch.
Die Marburger Sippenbuch is 'n monumentale werk
wat uit 23 dele, plus 'n aanvulling bestaan. Die werk is alfabeties
georden.
Dit bevat gegewens oor alle persone en families wat in die Marburg
omgewing
geleef het gedurende die periode 1500-1850, en vir wie daar
argiefinligting
bestaan. Dit is 'n getikte manuskrip, waarvan daar slegs 4
kopië bestaan.
Een kopie word gehou in die Marburgse Argief, 'n tweede in die Hessiese
Staatsargief, 'n derde in die Universiteitsmuseum van Marburg, en die
vierde
kopie staan op die rakke van die Hessischen Familienkundlichen
Vereinigung
in Kassel. Die totale werk is gedoen deur Kurt Stahr oor 'n periode van
16 jaar (1950-1966). Hy het 'n omvattende samestelling gemaak van
argiefstukke
wat in die Marburgse stadsargief, sowel as by die Hessiese Staatsargief
beskikbaar was. Sy werk word as so ongewoon volledig beoordeel, dat die
standaard reël, naamlik om inligting op die oorspronklike
argiefstukke
te gaan kontroleer, as oorbodig beskou word.
Gegee die
leidraad dat die Conradie stamvader afkomstig
uit Marburg was, is dit nie verrassend dat 'n ingeligte genealoog soos
mnr. Bleibaum hom onmiddellik na Kurt Stahr se Marburger Sippenbuch vir
verdere inligting gewend het nie. Hier volg nou in Duits die inligting
soos wat mnr. Bleibaum dit uit die Sippenbuch onttrek het:
Mnr Bleibaum
se resultaat (in Duits)
SENTRALSTELLE
FÜR PERSONEN- UND FAMILIENGESCHICHTE
INSTITUT FÜR
GENEALOGIE
D 6 FRANKFURT
AM MAIN, DENHARDTSTRASSE 32
SECTION: SÜDAFRIKA
LEITER : HANS-GE0RG BLEIBAUM.
Stammreihe
D 2262 LECK
Friesenweg 12
CUNTZ /
CONRADI.
Telefon (04662)2526
Bankkonto:
Westbank, Leck.
Nr. 43/718312.
1977
Zeichen
: @ geboren, " getauft.
+ getraut,
o gestorben.
I. Cuntz, Andreas.
wohnhaft in Allendorf an der Lumda
in Hessen um 1600.
II. Cuntz, Heinrich, Luth.
Bäcker, kam vor 1627 von Allendorf
nach Marburg/Lahn,
Bürgerbrief 20.7.1627 - 1643
Vormund der Kinder des
Adolf Mei - 1643 Eigenkapitalbesitz
: 950 Reichsthaler -
6.8.1645 : lehnt Vormundschaft ab
- 1652 Stadtleutnant -
wird in Marburg ausdrüklich
als Sohn des verstorbenen
Andreas C. in Allendorf erwähnt
-
wohnt Ledergasse in Marburg.
@ Allendorf .... um 1605.
o Marburg ...... 1653/4.
+ Marburg ...... 27.9.1627.
mit Catharina Braun, Tochter des
Jacob Braun, u.d. ....
(I. + Marburg 9.12.1622 mit Johann
Wildner).
Kinder:
1. Jacob, "Marburg 20.6.1628,
konf. 1640.
2. Marie Catharina "Marburg
1.11.1629.
3. Johann Henrich, "Marburg
7.8.163l = III.
4. Anna Elisabeth, "Marburg
15.9.1633, konf. 1643.
+ Marburg 1.12.1651 mit Johannes Bauer.
5. Anna Catharina, "Marburg
16.2.1636, konf 1646.
+ Marburg 17.11.1664 mit Ruppert Eckel.
6. Marie Catharina "Marburg
29.9.1639.
7.
Elizabeth
"Marburg 9.5.1639.
III.
Cuntz / Conradi, Johann Henrich, Luth.
von 1669 bis 1688 Pastor/Pfarrer
zu Cölbe und Wehrda -
(beide Dorfer liegen unmittelbar
vor der Stadt Marburg)
wird ausdrücklich als Sohn
des verstorbenen Henrich C.
der als Cuntz nach Marburg kam,
erwähnt -
wohnung in Marburg / Haus der Eltern
Immatrikulation Marburg 1657 - Universität
-
Marburg 7.8.1631 o Marburg oder
Cölbe/Wehrda 4.5.1690
+ .... (Aufgebot in Marburg 22.9.1667)
mit
Anna Elizabeth Schneider, Tochter
des Friedrich Schneider,
aus Kirchhain bei Marburg.
Kinder:
1. Friedrich Henrich @ ca.
1668 - 16.10.1682 Aufnahme auf
das Gymnasium in Marburg
1688 Auswanderung nach Südafrika -
2. Catharina Christina "Marburg
14.11.1669.
3. Johann Ludwig, - 1732 Subdiakon,
1734 Archidiakon Marburg
4. Johann Engelhard - Pfarrer
in Weitershausen.
5. Johannes "Marburg 7.3.l675.
6. Reinhard Henrich
"20.2.1678.
7. Johann Georg, "11.3.1680
Pfarrer in Bacharach, Osthofen.
Quelle
: Marburger
Sippenbuch.
Mr Bleibaum
se resultaat in verwerkte formaat
Kom
ons omskrywe nou in Afrikaans mnr. Bleibaum se inligting
na die formaat van die Suid-Afrikaanse Conradiegeslagregister:
A1.
Andreas
CUNTZ
gebore voor 1600
Hy was rondom
die jaar 1600 woonagtig in die Duitse staat Hessen
in die dorp Allendorf aan die Lumdarivier.
A1B1.
Heinrich
CUNTZ
geb. ongeveer 1605 in Allendorf.
Hy het voor
1627 van Allendorf na Marburg aan die Lahnrivier
gekom volgens 'n burgerbrief van 20.07.1627. Hy het in Ledergasse in
Marburg
gewoon. Hy was lid van die Lutherse kerk en 'n bakker van beroep. In
1643
word hy voog vir die kinders van Adolf Mei. Sy kapitaal toe was toe 950
Reichsdaalders. Op 06.08.1645 is die voogskap afgegee
(beëindig).
In 1652 word hy stadluitenant. Hy word in Marburg rekords uitdruklik
vermeld
as die seun van die gestorwe Andreas CUNTZ van Allendorf. Hy is tussen
die jare 1653/4 in Marburg oorlede.
Hy is op
27.09.1627 in Marburg getroud met Catharina Braun
(Dogter van Jacob Braun) (sy was voorheen in Marburg op 09.12.1622 met
Johann Wildner getroud). Sewe kinders word vir hulle aangegee:
A1B1C1.
Jacob
CUNTZ, geb. 20.6.1628 in
Marburg, kerkaanneming
1640.
A1B1C2.
Marie
Catharina CUNTZ, geb. 01.11.1629
in Marburg.
A1B1C3.
Johann
Henrich CUNTZ
/ CONRADI,
geb. 07.08.163l in Marburg.
Hy was ook lid van die
Lutherse kerk en was van 1669 tot 1688 'n predikant
vir Cölbe
en Wehrda
- beide dorpe is teenaan
die stad Marburg geleë.
Johann Henrich word
uitdruklik vermeld as die seun van die afgestorwene
Henrich wat as CUNTZ na Marburg gekom het. Hy het in Marburg in die
huis
van sy ouers gewoon. Hy het in
1657 as student aan die Marburgse
Universiteit geregistreer.
Hy het
sy van Cuntz na Conradi verander het tydens
sy graadverkryging in Teologie aan die Universiteit van Marburg. (Vir
rede
sien die bespreking hier onder)
Hy is op 04.05.1690 in
Marburg of Cölbe/Wehrda oorlede. (Andre
Conradie [c3d6e7f2g2h3i1] kon in 1983 steeds die kerkie vind waar
hierdie
Conradie voorvader gepreek het, maar kon nie sy begraafplaas opspoor
nie.)
Johann Henrich was
getroud met Anna Elizabeth Schneider, dogter van
Friedrich Schneider - Die Schneiders het in Kirchhain naby Marburg
gewoon.
Die twee se huweliksgebooie is op 22.09.1667 in Marburg opgegee. Hulle
het 7 kinders gehad:
A1B1C3D1.
Friedrich
Henrich CONRADI
gebore ongeveer 1668
in Marburg
Hy is op
16.10.1682 in geskryf in die Gimnasium (skool) in
Marburg. (Emmigreer in 1688 (eintlik 1685?) na die Kaap. Hierdie nota
moet
mnr. Bleibaum se eie wees - dit is te betwyfel dat dit so in die
Sippenbuch
sou verskyn?)
A1B1C3D2.
Catharina
Christina CONRADI gebore
14.11.1669 in Marburg.
A1B1C3D3.
Johann
Ludwig CONRADI
Hy word in
1732 'n onderdiaken en in 1734 'n hoofdiaken in
Marburg
A1B1C3D4.
Johann
Engelhard CONRADI
Hy word
predikant Weitershausen.
A1B1C3D5.
Johannes
CONRADI, gebore 07.03.l675 in
Marburg.
A1B1C3D6.
Reinhard
Henrich CONRADI, gebore 20.02.1678.
A1B1C3D7.
Johann
Georg CONRADI, gebore 11.3.1680
Hy word
predikant in Bacharach, Osthofen.
A1B1C4.
Anna
Elisabeth CUNTZ, geb. 15.9.1633
in Marburg, konf.
1643, en getroud in Marburg op 1.12.1651 met Johannes Bauer.
A1B1C5.
Anna
Catharina CUNTZ, geb. 16.2.1636
in Marburg, konf
1646, en getroud in Marburg op 17.11.1664 met Ruppert Eckel.
A1B1C6.
Marie
Catharina CUNTZ, geb. 29.9.1637
in Marburg.
A1B1C7.
Elizabeth
CUNTZ, geb. 9.5.1639 in Marburg.
Argumente
voor en teen
Ons
kom nou by die punt waar ons hierdie feite moet
weeg om die waarskynlike korrektheid daarvan te bepaal - onthou, ons
kan
nie absoluut seker wees nie, want ons het behalwe sy naam Friedrich en
Marburg nie veel om op te gaan nie!
Marburger
Sippenbuch
Ons kan
aanvaar, veral aangesien die Marburger
Sippenbuch alfabeties georden
is, dat meneer Bleibaum vir ons die enigste
moontlike Marburgse stamvader kandidaat
uitgewys het.
Dit is nou aan ons oorgelaat om hom te aanvaar of verwerp! As ons hom
verwerp,
sal ons die man wat ons soek nie by Marburg vind nie, maar elders - in
'n ander gebied se "Sippenbuch". Maar dan verwerp ons ons belangrikste
leidraad, naamlik "Marburg"!
CONRADI
versus CUNTZ
Ons vind die
teenwoordigheid van die van CUNTZ
vreemd. Waarom sou die Conradie van dan van Cuntz afstam? Blykbaar
was
hierdie verskynsel nie vir mnr.
Bleibaum vreemd
nie - en waarskynlik vir hierdie
rede, het hy dit ongelukkig nie vir
ons toegelig nie. Iemand met kennis mag dit asseblief vir ons opklaar.
Intussen bied ek die volgende verklaring gegrond op my eie
ondersoeke:
In die eerste
plaas is dit 'n feit, dat die grootste massa
van Duitse familiename (dus die van), eers gedurende die jare 1400 tot
1600 ontstaan het. Hierdie familie naamgewing het eerste in die stede
begin,
en die landelike gebiede het eers later die voorbeeld gevolg.
Daar was 'n
tyd toe iemand net geken is aan sy naam, en
om hom beter te kwalifiseer is sy vader se naam gebruik. Dus is
gesê:
"hy is
Johannes, kind van Conrad (of Konrad)".
Nou moet u
daarop let dat Duitse woordeboeke vermeld dat
Kuntz die verkortingsvorm vir Konrad is, dws Cuntz is die verkorting
van
Conrad. Dit is amper soos om ipv "Konrad se" te sê
"Kon se".
Gevolglik beteken
"hy is
Johannes, kind van Cuntz (of Kuntz)".
dieselfde
as
"hy
is Johannes, kind van Conrad (of Konrad)".
Later is die
"seun van" weggelaat, en is net die
tweede naam as "van" geskryf, dus
Johannes
Conrad
Johannes
Konrad
Johannes
Cuntz
Johannes
Kuntz
Saam hiermee
het 'n alternatiewe vorm ontstaan, naamlik
om 'n "i" agter aan Konrad (Conrad) te heg om die "kind van"
verwantskap
aan te dui, dws Johannes Conradi het dus aangedui Johannes, seun van
Conrad.
Hierdie vorm het ontstaan gedurende die Humanisme* periode, toe Latyn
die
taal van opgevoede persone geword het - hier is Latyn se
tweede naamval
(die "-i" vorm) van die noemnaam vir die van of familienaam gebruik -
voorbeelde
is Jacobi, Nicolai, en natuurlik Conradi. (Humanisme = "Geestestroming
in die 14de tot 16de eeu, wat hom gekenmerk het deur 'n hernieude
belangstelling
in die wetenskap en kuns" - Bron=HAT)
[Nota:
Hierdie Latynse
kennis is al lank bekend aan die
Conradies - die volgende verskyn op die eerste blad van die 1932
publikasie:
STAMLYS van die NAGESLAGTE van DANIEL JACOBUS CONRADIE (Koelfontein
re-unie
eeufees): "Die (noem)naam was oorspronklik Coenraad -- Conrad of
Konrad.
In die middeleeue is daar 'n Latynse uitgang aangevoeg, dus Conradus,
waarvan
die patronymium (familienaam) die genitief Conradi is, dus Jan Conradi
(filius) beteken Jan die seun van Conrad. Die uitgang -e is in
Suid-Afrika
aangevoeg."
Soortgelyke inligting
verskyn ook op bladsy 194 van Heese, Nienaber
& Pama se FAMILIES, FAMILIENAME EN FAMILIEWAPENS (uitgegee in
1975
deur Tafelberg) ]
Let nou asb
op dat A1B1C3.
Johann
Henrich CUNTZ / CONRADI,
geb. 07.08.163l
in Marburg.
in
1657 as student aan die Marburgse Universiteit registreer.
Hy word dus nou 'n geleerde man, en sou gou bewus geword het dat hy nou
sy van (CUNTZ wat 'n afkorting van CONRAD is) op die Latynse manier
(CONRADI)
behoort te skrywe, en bewerk so sy familienaamwysiging! Hy het dus sy
naam
van Cuntz na Conradi verander het tydens sy graadverkryging in Teologie
aan die Universiteit van Marburg.
Wat ek dus
probeer sê, is dat die Conradie van afstam
vanaf 'n voorvader met die eienaam Konrad, en dat gedurende die tydperk
waarmee die Marburger Sippenbuch begin, die vaste gebruik van vanne se
spelling nog nie 100% gevestig was nie, sodat sy afstammelinge wat
hulle
vanne as Konrad, Conrad, Kuntz, Cuntz, Konradi of Conradi op
'n bepaalde
oorgangstadium bloedverwante kan wees, soos dit blykbaar in mnr.
Bleibaum
se uittreksel wel voorkom.
Spellings
wêreldwyd van vanne wat afstam van die
eienaam Konrad, is ondermeer Conraad, Conrad, Conraed, Conräd,
Cunrads,
Cunrath, Conradi, Conradie, Conrads, Conradson, Conradt, Conrade,
Conrath,
Conratt, Conratty, Conred, Conrod, Conrat, Cunrad, Konraad,
Konräd,
en nog baie meer.
Toets teen
geslagregister se Doopname
Gedagtig aan
die reël, dat die ou voorvaders
byna sonder uitsondering, altyd hulle eerste seun na die kind se oupa
aan
vaderskant vernoem het, is die volgende toets wat ons kan doen, om die
doopname wat in ons aspirant Duitse voorvader se geslagregister
voorkom,
te vergelyk teen die doopname wat eerste in die Suid-Afrikaanse
geslagregister
voorkom:
b1. Johannes
Hendrik (1710), die eerste seun
van
ons stamvader heet inderdaad na sy vermeende oupa A1B1C3.
Johann
Henrich CUNTZ / CONRADI,
geb. 07.08.163l
in Marburg.
Johannes
Hendrik gaan inderdaad voort om een van die gewildste
doopname onder Conradies te word! Hierdie b1. se eerste seun c1. Frederik
Hendrik (geb ongeveer 1738-1743)
heet weer na sy vermeede oupa A1B1C3D1(ons
aspirant stamvader!) hierbo.
Friedrich
Henrich CONRADI
gebore ongeveer 1668
in Marburg
Ook
Frederik Hendrik gaan voort om een van die mees gewilde
Conradie doopname te word. Dat dit alles klop, lyk nou na geen
toevalligheid
nie! Ook mr. Bleibaum sou hierdie toets gedoen het. As ons die
inligting
aanvaar, moet ons stamvader, wat sy naam as "Friederich
Conradÿ" op
Kaapse argiefstukke geteken het, se werklike doopname inderdaad Friedrich
Henrich wees. Die "e" wat hy in
sy naam in die handtekening invoeg,
is waarskynlik reeds 'n ver-Hollandsing van sy naam. (Nota:
Conradÿ
word dieselfde uitgespreek soos by Conradie.)

Wehrda versus
Werda - is dit toevallig?
Nog 'n
verrassing in mr. Bleibaum se navorsingstuk,
is die voorkoms van die woord "Wehrda". Ons weet dat een van
ons
stamvader Friederich se plase die naam Werda gekry het, en daarna het
dit
'n tradisie geword om die naam aan Conradieplase toe te ken.
Die
leser sou reeds gemerk het dat die Conradie familie se belange behartig
is deur die Werda-komitee (nou die Conradie-familiebond) en dat die
leuse
wat op die bondswapen verskyn "WERDA" is.
HAT beskryf
'werda' as 'n woord van Duitse afkoms wat
gebruik word as 'n uitroep van 'n militêre wag - betekende:
"Wie's
daar?" In hierdie sin sou dit 'n goeie betekenis wees vir 'n komitee
wat
die bekende en onbekende lede van 'n familie moet vind en uitsorteer,
en
waaksaam oor die familie se belange waghou. Die betekenis maak egter
nie
sin om te verduidelik waarom Friederich Conradi hierdie naam aan sy
plaas
sou gee nie.
Dit kan wees
dat Friederich se plaasnaam 'Werda' 'n ver-Hollandsing
is van die Duitse naam 'Wehrda', wat verwys na die klein dorpie Wehrda,
buite die stad Marburg, waar Friederich se vader Johann
Henrich predikant was tot 1688.
Wehrda was in daardie tyd waarskynlik
nouliks meer as 'n kerk omring deur 'n relatiewe digbevolkte
landbougebied.
Mense het die
gebied Wehrda reeds sedert die steentydperk
bewoon, en dit word die eerste keer in 1232 vermeld. Daar was reeds
lank
'n vesting "Weißenstein" wat in 1249 ineengestort het. 'n
Deel van
die dorp se beskermingsmure dateer uit die 15de eeu. Wehrda moes ook
aan
die eienaar van die kasteel in Marburg dienste lewer - in 1751 is bv.
209
werkdae gelewer. In 1974 is Wehrda by Marburg ingelyf.
Die naam
'Wehrda' stam af van die Oudhoogduitse woord
'werid' wat 'klam grond aan 'n rivieroewer of op 'n eiland' beskryf. In
die geval van Wehrda by Marburg beskryf dit die gebied tussen die Lahn-
en Mühlgartenriviere. Dit is dus aanneemlik dat Friederich aan
hierdie
gebied kon gedink het toe hy sy plaas hier in Drakenstein die naam
'Werda'
(ver-Hollandsing) gegee het.
Aanvaar of
Verwerp?
Die leser sal
duidelik merk dat die skrywer probleme
het om die Marburger Sippenbuch inligting af te skiet! Ek laat dit nou
by die leser om die saak verder uit te maak. Ek verneem graag
van
verdere argumente wat vír of téén
hierdie saak uitgemaak
kan word..
|