'N BOERESKOOLMEESTER UIT DIE OU TYD(Hierdie skets oor David Conradie [c3d6e1f6 in die Conradie-geslagregister] is in 1915-16 deur Ds. W.J. Conradie [c2d5e1f2g4] geskrywe vir 'n reeks in die Burger getiteld "Schetsen uit het Boerenleven". Hierdie reeks in in 1943 uitgegee in boekformaat deur Nasionale Pers onder die titel "Sketse uit die Boerelewe" en die oorspronklike Kaaps-Nederlands is toe volledig ver-Afrikaans na die vorm waarin dit hieronder weergee word.)In die jaar 1886, toe ek nog maar kort in Namakwaland was, het wyle die heer A. N. Rowan eenkeer daar gekom om skole te inspekteer. Hy vra my toe of ek 'n familiebetrekking van die heer David Conradie was, wat as seun so 'n vreeslike ongeluk met 'n wa gehad het en as gevolg daarvan een van die beste onderwysers onder die boere in die distrik Calitzdorp geword het. Ek antwoord dat al die Conradies hul afkoms kan naspoor tot by ou stamvader Frederik, wat in 1702 burger van die Kaap geword het, maar dat gedurende die tweehonderd jaar sy nakomelinge heinde en ver oor die land versprei, en so van mekaar vervreem geraak het, dat ek nie kan sê hoe na ons aan mekaar verwant was nie. Nege jaar later (1895) ontmoet ek David Conradie, vir die eerste maal, toe ek op Sutherland gestaan het, en na Laingsburg gegaan het om ds. Wollie de Wet, saliger nagedagtenis, met Nagmaal te help. Ons het op die stoep gestaan toe 'n man van rysige gestalte die straat opkom. Sy gesig was vir die grootste deel met wit doeke omwind. Ds. De Wet sê: "Broeder, daar kom oubaas Conradie aan, 'n edel en goeie man wat my tot groot hulp is." Ons is aan mekaar voorgestel en het daarna dikwels mekaar se geselskap opgesoek. Hy het 'n treffende voorkoms. In daardie klein deel van sy gesig wat nie omwind is nie, lees 'n mens erns, beslistheid en orde. In daardie blou oog speel iets luimigs, net genoeg om die weemoedige uitdrukking te temper. As ek hom soms so bekyk, dan dink ek wat 'n fraai manspersoon sou hy gewees het, omtrent ses voet lank, slank en regop soos 'n populier, met fyn aristokratiese gelaatstrekke, met sy welluidende stem en hoflike maniere. Hoe jammer dat sy gesig so geskend is. Maar dan dink ek weer: sou die christelike deugde wat ek in hom bewonder, wel tot so 'n hoë mate van ontwikkeling gekom het as hy nie deur die vuur van die beproewing gegaan het nie? Ons het mekaar goed leer ken, veral toe die militêre my die eer aangedoen het om my na Laingsburg te verban in die eerste helfte van 1902. Oom Dawie en ek het op lang wandelinge uitgegaan, al die heuwels rondom die dorp beklim, of ons het ou mense en siekes gaan besoek. In later jare het ek nog baie geleentheid gehad om met die ou skoolmeester goed bekend te word, toe ek verskeie kere en soms maande agter mekaar vir my gesondheid of om die gemeente te dien in Laingsburg vertoef het. Op lang wandelinge in die veld het ons baie van die ou dae gepraat. Ek was lank baie huiwerig om hom te vra omtrent die ongeluk. Dit het egter gebeur dat hy een aand terloops daarvan gepraat het. 'n Kind in die buurt het 'n oog verloor, en dit het hom daartoe gebring om iets van sy geskonde oog te sê. Ek vra hom toe of hy my nie wou vertel hoe die ongeluk gebeur het nie, as hy dit nie onbeskaamd van my dink om dit te vra nie. Hy was volkome bereid om dit te doen. Ek was baie deur die verhaal getref en sê: "Eendag gaan ek hieroor skrywe, omdat ek daar seker van is dat dit sy nut sal hê." Dit is nou ses jaar gelede. Intussen het ons mekaar verskeie male weer gesien en het hy my so te sê sy hele lewensgeskiedenis meegedeel. David Conradie is omstreeks sewentig jaar gelede in die distrik Montagu op die plaas Eendracht gebore. Hy was omtrent tien dae oud toe sy ouers na die Klein-Roggeveld vertrek het. Toe hy veertien jaar oud was, het hulle na die Boland teruggekeer en in Robertson gaan woon. Dit was in die jaar 1859. Die ongeluk waardeur sy gesig vir altyd geskend is, die ongeluk waardeur hy die man geword het wat hy hom altyd betoon het, het gebeur op 21 Augustus 1860. Sy oom Hans Jordaan het met 'n wa en ses muile 'n paar sakke koring na 'n meul van 'n ou meneer De Kock gaan neem. Die plaas lê aan die Montagu kant van Robertson, omtrent anderhalf uur van die dorp. Toe hulle met die meel terugkom, het 'n sekere Jan Minnaar met hulle saam gery. Jordaan het die sweep aan Minnaar gegee en agter in die wa gaan sit. Dawie het die leisels gehou. By 'n steilte op die pad het Minnaar die esels wakker geklop. Toe hulle nou die ander kant van die hoogte afry, slaan die muile op 'n stywe draf en lig Dawie van die sitplek op. Daar was geen voetplank nie, sodat hy op die ewenaar moes vastrap. 'n Bui reën het kort tevore die ewenaar en ook sy velskoene glyerig gemaak. Die gevolg was dat hy afgly tussen die agteresels met sy kop voor die hotvoorwiel. Die wiel het nie oor sy kop gegaan nie, omdat hy in die leisels verward was en vyftig tree ver langs die klipperige steilte afgesleep is, met sy kop as 'n remskoen voor die wiel. Dit geluk Minnaar, wat hom aan die bok van die wa vasklem, om met sy voet die voorleisels los te wring en in die hande te kry endie vooresels in 'n ghwarriebos te stuur. Die wiel staan toe op David se kop, en hy is in 'n bewustelose toestand uitgehaal. Hy het egter gou weer bygekom en met behulp van Jordaan en Minnaar op die wa geklim waar hy op Minnaar se jas gelê is. Na 'n uur se ry bereik hulle die plaas van Vaal Frans Conradie, digby Robertson. Daar word hy in die huis gedra, en hulle stuur om dr. Hamf van Robertson. Hy was uit, en dit het nog verskeie ure geduur voor hy gekom het om Dawie te verpleeg. Die dokter het nie die minste hoop gehad dat hy weer sou herstel nie. Sy linkerwang was weg, die linkerkakebeen en oogbene verbrysel, die oog het gehang waar die wang was, en die oor het aan 'n vel op die skouer gehang. Die vel van die skedel was tot op die helfte losgeskeur. "Maar," sê ek, "die pyn moes verskriklik gewees het." "Tog nie," sê hy, "deur die skok, die kwetsure en die bloedverlies was ek so uitgeput dat ek geen gevoel van pyn gehad het nie. Onder die behandeling het ek telkens aan slaap geval, sodat dr. Hamf my gedurig moes roep om te sien of ek nog lewe. Hoewel hy geen hoop gehad het nie, het hy die wonde van sand en gruis gereinig, my oog, hoewel verdraai, in die half weggeskeurde kas gesit en my oor weer vasgeheg." "Dit moes vir u ouers 'n hartverskeurende tyding gewees het." "Ja, en hulle was juis op 'n besoek by vriende in Montagu. Dit was byna middernag toe hulle die boodskap ontvang het, en die volgende oggend om vieruur het hulle by my bed gestaan, toe ek skynbaar sterwende was. In hierdie toestand het ek verskeie dae gelê, sonder veel pyn, maar dodelik swak. Ek kon net met moeite 'n bietjie melk of vloeibare voedsel verdra." "En het dit toe so sonder pyn altyd beter geword?" "Ag nee, vriend, 'n week na die ongeluk het die inflammasie in die wonde gekom, en ek het onbeskryflike pyn gely. Ek kon niks op die wonde verdra nie. Dit was asof ek met my kop in die vuur lê. Deur die nate van my skedel kon hulle die harsings sien klop. "Wel, uiteindelik het ek tog baie langsaam beter geword, en na drie maande kon ek met 'n stok tot in die tuin loop. Maar die ongeluk het nog 'n nasleep gehad. As gevolg van die kneusings en die dooie bloed wat agtergebly het, het ek 'n keelontsteking gekry en moes weer 'n volle maand in die bed bly. In daardie tyd het masels en koors groot verwoestings in Robertson aangerig. Ons hele gesin het masels gekry, en my dierbare moeder het daaraan gesterf. Ja, dit was 'n treurige tyd, maar die grootste beproewings en die swaarste verdriet gaan weer verby. Na 'n aantal maande het my vader weer getrou, met 'n weduwee Cloete, en ons het op haar plaas gaan woon. Daar was 'n skool op die plaas, en vir die eerste keer het ek begin Engels leer. Hollands kon ek lees en ook op 'n manier skrywe. In dié dae was dit nie maklik om 'n goeie opvoeding te kry nie. Na ses maande het ons onderwyser weggegaan en is ek op die dorp Robertson op skool gesit. Vir die boerdery was ek totaal ongeskik vanweë my swak gestel; daarom besluit my vader dat ek onderwyser sou word. Hy was nie bemiddeld nie en het ook min begrip gehad van die vereiste kennis wat die toekomstige onderwyser moes hê. Ek moes in drie jaar volleerd wees en my eie bestaan gaan soek. "Ds. A. McGregor, snr., was toe leraar in Robertson, en aan hom en sy waardige eggenote het ek baie te danke. Deur private onderwys ná die skoolure het hy geprobeer om aan te vul wat ek in die dorpskool nie kon opdoen nie. Omdat ek smaak en aanleg vir musiek gehad het, het mev. McGregor my met die eerste beginsels gehelp, sodat ek deur self-oefening later die harmonium kon bespeel. In later tyd het ek ook nog leer viool speel om my leerlinge by die sing te begelei. "Die drie jaar op skool het gou verbygegaan, en ek moes uit om skool te hou. Ag, hoe ongeskik en onbekwaam het ek my vir die werk gevoel. Maar ds. McGregor het weer raad geweet. Hy het welwillend aangebied om my te help. Die plaas van my stiefmoeder, waar ek my eerste skool begin het, met 'n salaris van 1 Pond 15s. per maand en alles vry, was omtrent een en 'n half uur van Robertson. Ek het dus een of twee maal per week na die dorp gery met 'n pak boeke vir my lesse. "Na agtien maande het ek 'n skool by die heer S. Malherbe naby Lady Grey (nou McGregor) geneem en moes tot my spyt my lesse en gereelde omgang met ds. McGregor staak. Maar die vrug en die seën vir my ganse lewe in die omgang van die dierbare godsman ontvang, daarvoor sal ek hom en die liewe God steeds dank. Die merendeel van die kennis wat ek besit, en die aandrif tot self-oefening waardeur ek later aan die hoof van 'n tweedeklasskool kon staan, dit alles en nog veel meer het ek aan die ou troue vriend en vader te danke. "Na ek 'n jaar op die plaas van die heer Malherbe gewerk het, het ek op aandrang van my vader, wat toe in Klein-Swartberg gewoon het, ook daarheen gegaan, omdat daar groot behoefte aan 'n skool bestaan het. Dit was in 1867 dat ek as rondreisende skoolmeester my werk op die plaas Buffelsrivier van Hans Nel begin het. Die drie ander plase was Rietvlei, Baartmansfontein en Floriskraal. Die skool moes met tafels, banke, boeke en meester elke ses maande van standplaas verwissel. Dr. Dale, die Superintendent van Onderwys, was baie toegewend, en daar was geen drukkende bepalings nie. Aan kinders het dit nie ontbreek nie; klein, groot, ja, selfs getroude kinders wat nog nie lidmaat was nie, het 'n tydlank skool-toe gekom. Met Engels is nie baie gesukkel nie; net die allernodigste moes onderwys word: lees, skryf, reken, Bybelgeskiedenis en kategismus. So het ek drie jaar van plaas tot plaas gegaan, totdat die skool verander is in 'n gevestigde skool op Rietvlei. Daar het ek nog ses jaar bly werk. In die jaar 1870 het ek met een van my skranderste en knapste skoolkinders getrou, met wie ek meer as ses-en-dertig jaar baie gelukkig gelewe het en by wie die Heer my vyf seuns en sewe dogters geskenk het, waarvan twee ons vroeg ontneem is. Iedereen sal kan verstaan dat ek, na wat ek in my jeug deurgemaak het, nooit 'n sterk man was nie en baie dikwels beswaarlik my werk kon doen. Maar die Here het my wonderlik gesterk, sodat ek dit bo alle verwagting byna dertig jaar lank volgehou het. "In 1876 het ons na Calitzdorp verhuis, waar ek byna veertien jaar gebly het, eers op die dorp en later op Janfourieskraal. Ds. Barry het baie vir die opvoeding in sy gemeente gedoen en was altyd die vriend en raadsman van die onderwysers. Hy en sy kerkraad het my ook 'n pragtige getuigskrif gegee toe ek in 1889 na Transvaal getrek het. In Christiana het ek maar twee jaar gebly. 'n Ou boom wil nie verplant wees nie. Ek het terug verlang na Swartberg, en in 1892 is ek aangestel in die A3-skool op Laingsburg, waar ek tot 1896 gewerk het met 'n salaris van 90 Pond waarby die kerkraad 18 Pond gevoeg het vir my werk as koster en scriba. Later het ek 'n bietjie meer gekry. Behalwe die drie oudste kinders moes almal nog skoolgaan. Ek moes ook my huishuur en die skoolgeld van my kinders betaal." "Ek verwonder my, oom Dawie, dat u 'n huisgesin van tien kinders so goed kon grootgemaak het met 'n salaris so klein dat 'n eenlopende persoon daar nouliks fatsoenlik van kan lewe." "Ja, dit het soms swaar gegaan. My hoogste salaris in die Kolonie was 150 Pond in Calitzdorp, maar my dierbare vrou wat ek in 1904 verloor het, was oppassend en spaarsaam. Ek self het met my hande baie van ons huisraad gemaak. Hier in Laingsburg het ek met die hulp van my seun Johannes en ander vriende oudste kinders het my baie gehelp met die opvoeding 'n paar erwe gekoop en 'n melkery begin. My drie van die jongeres. Almal is nou in goeie betrekkings oor die land versprei, en ek is alleen in Laingsburg." |