Dr. Bettie Conradie (1903-1939) se erflating

    Vrouedaglesing op haar verjaardag (10 Augustus 1998)

    deur mnr. Otto Liebenberg, kurator van

    die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum & Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein

    Hierdie lesing is hier gedupliseer vanaf die NALN se Webwerf, en word ook hier gehou vir die geval waar die NALN dit van hulle webwerf sou verwyder. Ons dank aan die NALN dat hulle hierdie lesing op die Internet beskikbaar stel.

  "'n Vergete legende en haar Bloemfonteinse spore" was die tema van mnr. Otto Liebenberg, kurator van NALN, se lesing wat hy by geleentheid van NALN se viering van Nasionale Vrouedag op 10 Augustus 1998 gelewer het. Die openbare vakansiedag het toevallig op haar verjaardag geval. Sy is op 10 Augustus 1903 in die distrik  Tulbagh gebore (op die plaas Boontjiesrivier, naby Wolseley) vanjaar (1998) 95 jaar gelede. Ons gee hier 'n samevatting en enkele uittreksels uit die lesing.

dr Elizabeth Conradie (1903-1939)Dr. E.J.M. (Elizabeth/Bettie) Conradie is byna 60 jaar gelede in die ouderdom van 'n skrale 36 jaar in die verre Nederland oorlede en begrawe. In daardie stadium het sy tydelik die  professoraat in Afrikaans aan die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam beklee, en was sy die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se verteenwoordiger in Nederland en België.

Dr. Conradie het 'n selfverterende gedrewenheid gehad om die onderlinge kulturele bande uit te bou, en het in dié proses die Suid-Afrikaanse Instituut (SAI) gestig, wat vandag steeds 'n belangrike rol speel.

In haar era was sy 'n lewende legende; vandag weet bitter min egter van haar. In die yuppie-era, waar baie mense om baie redes baie belangrik is, het sy in die waas van die verlede  verdwyn en nietig geraak.

* * *

Haar tasbare nalatenskap, bestaande uit kleding-stukke, 'n naaldwerksakkie, 'n aktetas en vulpen, en 'n beursie met 'n paar Suid-Afrikaanse seëls, kon in 'n enkele handkoffer gratis na haar moeder in Suid-Afrika verskeep word. Met die geld wat sy nagelaat het, sou daar 'n slagskaap of wat gekoop kon word: £3.15.9.

Maar dalk het die tyd nog steeds nie aangebreek om die kulturele erfenis wat sy vir die Afrikaanssprekende en die land as geheel nagelaat het, na volle waarde te bereken nie.

* * *

Om oor dr. Bettie Conradie te lees vanuit die perspektief van NALN, sy voorgeskiedenis en veral sy "argitek" en vormgewer, die legendariese woelgees prof. Petrus Nienaber, is 'n  fassinerende ervaring. Want wat oor hulle gesê kan word betreffende dinge soos roepingsgevoel, ondernemingsgees, toewyding, werk-ywer, dryfkrag, en dergelike, is feitlik uitruilbaar.

Aan UKOVS was die jong Nienaber 'n student van haar, en toe sy einde 1933 na Nederland is om te promoveer op haar baanbrekende proefskrif "Hollandse skrywers uit Suid-Afrika", was  hy ook op die skip, op pad om in Nederland verder te gaan studeer. "Die woord Africana het ek die eerste keer gehoor by dr. Elizabeth Conradie", skryf hy in sy beskrywing van NALN se geskiedenis. En dan herinner ek my verskeie verwysings na haar in gesprekke met hom: sy het 'n indruk op haar studente gemaak, sy was 'n mentor.

Briewe uit sy versameling in NALN getuig eweneens van hierdie verrykende mentorskap, wedersydse hulp en die deel van insigte en visie, insigte, oortuigings en benaderingswyses wat  in die lig van prof. Nienaber se aandeel aan die totstandkoming van NALN uiters insiggewend is.

* * *

Met die uitsig wat ons vandag het op die hernieude hegterwordende bande tussen Suid-Afrika en Nederland-België, spesifiek tussen Afrikaans en die Nederlandssprekende wêreldbevolking  van sowat 'n 40 miljoen mense, wil ek die voorspelling maak dat daar oor vyf jaar verder, wanneer Elizabeth Conradie se honderdste geboortedagherdenking in die jaar 2003 beleef sal  word, met gans nuwe oë na haar nalatenskap gekyk sal moet word.

Sy het gesterf op die kulturele kruin aan die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog - waarmee die halfeeulange woestyntog van Afrikaans-Dietse verhoudinge ingelui is. Haar eeujaar sal  volg op die vooraand van die kulturele kruin wat bepaal sal word deur twee uiters belangrike en verreikende ontwikkelinge rakende die interaksie tussen die "Hollands-Afrikaanse" gemeenskap in Suid-Afrika en sy kulturele skakels in Nederland en België:

    1.  Die kumulatiewe kulturele effek van die Europese eenwordingsproses en die verhewigende taal- en kulturele identiteitsgevoel wat dit waarskynlik onder meer in Nederland en Vlaandere/België kan stimuleer (met hernieude post-koloniale gelykstatige uitreiking na vroeëre Nederlandse invloedsfere as moontlike resultaat); en
    2. Die effek van die tweede demokratiese verkiesing in Suid-Afrika wat, na vermoede, eers die éintlike afrikaniseringsfase van die land en spesifiek die "Afrikaanse" kultuurlewe gaan inlui   (waarbinne internasionale bande met Nederland, Vlaams-België en ander Nederlandssprekende gebiede nuwe aktualiteit sal wen).
Binne die nuwe wêreldorde sal Nederland en België belangrike poorte tot 'n magtige Europese supermoondheid wees, en Suid-Afrika waarskynlik die aanvoerder van 'n "Afrika-renaissance"   en adamante getalsterke Onverbonde Lande-konglomeraat in die VN en elders. Net die tyd sal dan kan leer wat die werklike rol en bate van uitbreidende, opbouende, effektiewe interaksie tussen die Afrikaanssprekende gemeenskap in Suid-Afrika en die Nederlandssprekende gemeenskappe in Europa en die res van die wêreld sal wees (daarmee saam ook nog die Afrikaanssprekende gemeenskapppe wat nou weens die Afrikaner-diaspora wêreldwyd aan die ontwikkel is).

Hierdie bate gaan uiteraard in die eerste plek vir die Afrikaanse gemeenskap wees, maar indirek potensieel ook vir die inklusiewe Suid-Afrika, ook in sy uitkringende affiliasies.

Die futiliteit al dan nie van 'n leier se strewe en sterwe word nie binne sig van sy/haar leeftyd bepaal nie, maar eers dekades, selfs eeue later. Dit is dus nie vreemd dat die legende van Bettie Conradie kon vervaag het nie, gereduseer tot grotendeelse sentiment in die herinneringe van haar enkele, gryserwordende tydgenote.

Kykende vanuit die uitsigloosheid van die kulturele woestyntog van die afgelope paar dekades, het haar ideale inderdaad na anachronismes gelyk. Vanuit die polities-korrekte vertrekpunte van die huidige is die Eurosentrisme daarvan dalk nog steeds ongemaklik. Maar daar is op sowel die Suid-Afrikaanse as die globale toneel staatkundige en kulturele kragte aan die werk wat die perspektief oor vyf jaar verder, vanuit 'n nuwe millennium, heelwat anders daar kan laat uitsien.

Die rol wat Bettie Conradie se nalatenskap in terme van byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Instituut gespeel het om selfs in  die era van uiterste isolasie basiese skakeling in stand te hou,  kan nooit onderskat word nie. Die uiteindelike waardebepaling sal egter eers eendag gedoen kan word wanneer die Suid-Afrikaanse Instituut en die ander fasette van haar nalatenskap se rol in die nuwe millennium geboekstaaf sal kan word.

Ek sien NALN duidelik as deel van haar indirekte nalatenskap, en as definitiewe rolspeler in die internasionale proses wat ek hierbo geskets het. Dáárvoor moet ons huidige geslag amptenare en ondersteunerspubliek hierdie instelling - naas vir talle ander grondvlakse gemeenskapsgerigte uitdagings - reg posisioneer. Daardeur sal ons betekenis gee aan die oënskynlike ontydige dood en vervaagde ideale van 'n formidabele vrou uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Met spesifieke verwysing na dr. Bettie Conradie, sal ek daarom graag wil sien dat die bande met die Suid-Afrikaanse Instituut (SAI) uitgebou word.

As simboliese aanduiding daarvan, sou ek aanbeveel dat NALN volgende jaar, by geleentheid van die SAI se 60ste bestaansjaar, 'n formele groeteboodskap aan die SAI sal stuur.

Verder stel ek voor dat NALN die inisiatief neem saam met die SAI en ander belangstellende instansies om, by geleentheid van dr. Conradie se 60ste sterfdag-herdenking op 27 Oktober 1999, 'n gepaste huldigingsgeleentheid en kranslegging by haar graf in die Nieuwe Oosterbegraafplaats in Amsterdam te reël.

 Hierdie samewerking behoort dan ook voortgesit te word met die oog op die viering van haar eeujaar in die jaar 2003 hier te lande én in Nederland.

stuur asb epos aan Piet Conradie by:
dieconradies@gmail.com
Piet se WebWerfGaan na die Bopunt van hierdie bladsyPiet se WebWerf
Hierdie bladsy
is laas op 26 November 2007 met
Nvu (Composer) bygewerk deur
Piet Conradie