Die Conradie Streekfees 2000
    Die volgende foto's is vinnig 'gesteel' by geleentheid van die Conradie 2000 Streekfees, gehou op die pragtige plaas WERDA by Nuy (Worcester) op Saterdag 29 April 2000. 

    [LET WEL: Eintlik het ons te min foto's geneem van die wat moes geneem word, en is daar baie wat nog hier geplaas sou kon word - as iemand so iets het, kan hulle dit asb. instuur.]

    Frans Conradie, voorsitter van die Conradie WERDA-komitee (familie-bond) saam met sy vrou Philda. Frans is die 5de Conradie eienaar van die plaas Koelfontein, Ceres, wat reeds in 1832 in Conradie besit gekom het. Frans, wat hier sy das met die Conradie-wapen dra, het die Streekfees 2000 pragtig gelei, en almal dadelik tuis laat voel.

    Hier is Oom Topper Conradie (80), sekretaris van die WERDA-komitee aan die woord. Oom Topper was die ywerige dryfkrag agter die idee om 'n Conradie 2000 Streekfees te hou, en ons is dit almal aan hom verskuldig dat die fees plaasgevind het.

    'n Paar sprekers moes voordragte doen. Hier vertel André Conradie van Wellington meer van sy navorsing oor die Europese herkoms van die Conradie's. Ondermeer het hy genoem dat die Conradie's se voorsate eens op 'n tyd regte rowwe mense was, wat vandag bekend staan as die Vandale & Barbare - dus geen engeltjies nie!.

    Pieter Conradie moes meer vertel van die 'nuwe' Geslagsregister. Hy het verduidelik wat die voorgeskiedenis van die register was, en hoe die rekenaar en Internet nou gebruik word om die register reg te stel en verder uit te bou. En natuurlik soek hy meer inskrywings in die geslagsregister. Daarvoor maak hy staat op die familie se hulp!

    Oom Derick Conradie (76), geliefde oud studente-leraar van Stellenbosch, het die feesrede gelewer. Sonder 'n enkele nota, het hy 'n pragtige boodskap gebring - gebou op die gedagte dat die Conradie-van afstam van die noemnaam Konrad, wat "dapper raadsman vir sy mense" beteken.

    Hier is Willie Conradie (60), boer van Lichtenburg, Wes-Transvaal in gesprek met Pieter Conradie oor Willie se familie in die geslagsregister. Willie het die groete van al die Conradie's in sy kontrei by die Streekfees kom oordra. 

    Feesgangers kyk na die inligtingsbord wat André Conradie so netjies vir die fees voorberei het. Ondermeer was daar die Conradie-familie bondswapen; 'n kaart van die deel van Duitsland (Marburg) waarvan die Conradie's kom, foto's van die keiserlike grafkerk en baie ander inligting.

    'n Algemene blik in die pragtige omgewing van WERDA se tuin.

    Nog 'n algemene uitsig in perfekte weersomstandighede op die feesgangers  in gesprek

    Hier bestudeer Willie Conradie (De Liefde, Wolseley), sy vrou Sanet, en sy moeder Hettie, 'n kopie van die Conradie-geslagsregister, om te sien of hulle inligting op datum is. Die bevinding? Alles is nie op datum nie! Feesgangers kon vorms neem waarop hulle later hulle besonderhede kan pos - in antwoord ontvang hulle 'n toepaslike uittreksel uit die register.

    Ons was besonder bevoorreg om twee geslagte van Oom Hennie (HLN) van die geslagsregister, se nageslag op die streekfees teenwoordig te hê. Hier verskyn HLN se seun, Oom Dolf Conradie (75), wat spesiaal vir die geleentheid vanaf Bloemfontein gereis het. Agter hom staan sy seun, Ryno. Oom Dolf het as skoolseun dikwels sal met sy vader gedurende skoolvakansies gereis - dis nou so in 1940 se omgewing - wanneer hulle op soek was na Conradies in doopregisters, huweliksregisters, en wanneer hulle sommer huisbesoek by Conradies gedoen het.

    Frans van Koelfontein het in 1999 vier portrette laat skilder van die eerste vier eienaars van die plaas Koelfontein. Frans het hierdie 4 pragtige werke op uitstalling by die fees gehad, en ons weet nou ons moes hom saam met die 4 werke gefotografeer het. Pieter (*1946) was gou om homself met die 'oudste' man te laat afneem, want die man op die prent hier is sy oor-Oupagrootjie - Daniël Jacobus *24.07.1809 - het in 1832 die eerste eienaar van Koelfontein geword.

stuur asb epos aan Piet Conradie by:
dieconradies@gmail.com
die CONRADIE familie se WebBladGaan na die Bopunt van hierdie bladsyPiet se WebWerf
Hierdie bladsy
is laas op 26 November 2007 met
Nvu (Composer) bygewerk deur
Piet Conradie