'n Ope brief aan alle ConradiesBelangstelling in die Genealogie (studie van voorgeslagte) is tans 'n wêreldwye verskynsel, en daar is baie redes voor, waarop ek nie hier wil ingaan nie - daar is genoeg inligting op die Internet beskikbaar om dit te bewys. Vir baie mense het dit nou die vorm van 'n gewilde stokperdjie aangeneem. Om jou voorgeslagte aaneen te kan skakel, gee iets van die bevrediging van 'n legkaart bou, maar dit is 'n tydsame proses, en die volle prentjie is nooit volledig nie, wat die geslagregister kry elke jaar 'n klomp nuwe lede by! Ook in Suid-Afrika is hierdie soeke na die voorgeslagte aan die orde van die dag. Daar het reeds 'n goeie aantal familiestambome/geslagregisters in boekvorm verskyn en baie meer is in wording. Ook die Internet word ingespan om inligting te versamel en versprei. Gedurende die afgelope jaar of twee het 'n hele aantal Afrikaanse families in hierdie verband 'n teenwoordigheid op die Internet verkry - as jy meer hiervan wil weet, gaan kyk op Die Knoop vir webskakels onder die afdeling Genealogie en Familieblaaie. In die geval van die Conradies, word daar reeds sedert 1932 aan die geslagregister gewerk. (Die hele geskiedenis hiervan, kan in die agtergrond dokument gevind word.) Oom Hennie (HLN Conradie 1889-1979) was vir meer as 40 jaar die dryfkrag agter die opstel van die Conradie geslagregister, en toe sy lewenswerk in 1974 in boekvorm verskyn het, was daar sowat 4000 Conradies in die register. Sedert 1974, en na Oom Hennie op 90 jaar oorlede is, was dit vir niemand moontlik om die register oor te neem en aan te vul nie - die taak was net te oorweldigend. Fasiliteite het egter oor die jare verander - waar Oom Hennie met 'n gewone tikmasjien moes werk, het ons nou byna almal in een of ander vorm toegang (al is dit miskien deur 'n kleinkind!) tot 'n rekenaar, skandeerders, en die Internet. Alhoewel dit nie nou sin maak om die register sommer weer in boekvorm te publiseer nie, dink ek dat die Internet 'n gerieflike werktuig is om die Conradiegeslagregister (dit behoort aan ons almal!) aan die Conradies te versprei, sodat die inligting nie verlore sal gaan nie. Die 1974 Conradie-geslagregister is aan die begin van 1999 op die rekenaar in teksformaat ingeskandeer, en het verskeie prosesse deurgegaan om die inligting te verbeter - bv. duplikaat inskrywings is verwyder - dit was voorheen per tikmasjien feitlik onmoontlik om te vind! Daarna is verskeie eie familiebronne (ek is met 'n nooi Conradie getroud - so ons het 'n dubbele Conradie belangstelling) en ook dié van die Conradie Werda-komitee (alle aanvullings ingestuur sedert 1974) gebruik, om die aantal Conradie stamlede in die register op te stoot tot meer as 4300. Ons is bewus dat daar nog baie gate in die stamregister is. Dit geld vir Conradies in alle dele van Suid-Afrika, maar veral in die Vrystaat en die ou Transvaal. Daarom sal ons dit waardeer as Conradies, waar hulle bewus word van die bestaan van die geslagregister, ook self te voorskyn sal kom, en hulle inligting instuur. As jy weet dat iemand in jou familie die moeite gedoen het om jou Conradie familie se geslagregister op te skryf, sal ek dit waardeer as jy sal sorg dat daardie inligting nie verlore gaan nie, maar behoue bly vir die nageslag deur dit beskikbaar te stel vir die die jongste Conradie meestergeslagregister wat hier vanaf die Internet afgelaai kan word. Maak 'n afskrif van die inligting, en pos aan Piet Conradie of e-pos dit
aan my in teksformaat of geskandeer by: Ook staaltjies, geskiedenis en foto's (geskandeer) is welkom. Jou moeite, hulp, bydrae, kommentaar en voorstelle word altyd waardeer. Conradiegroete vir jou! Piet Conradie |
|
|
|
is laas op 26 November 2007 met Nvu (Composer) bygewerk deur |