1954 VOORWOORD deur die opsteller H.L.N Conradie Die gegewens van hierdie werk is in die eerste plek gevind in De Villiers se Geslagsregister van ou Kaapse Families, wat baie Conradies aangee tot aan die begin van die l9de eeu, maar waar daar ook baie name en gegewens ontbreek. Vir 'n paar aanvullings hier is ek verskuldig aan Dr. Hoge van Stellenbosch. Die groot taak was egter om die periode van meer as 'n eeu te oorbrug en in diè tyd het die Conradies baie vermenigvuldig en oor die land versprei. Private persone is besoek, wat altyd gewillig was om te help. Predikante en Kerk-scribas was gewillig om die kerkboeke tot my beskikking te stel. Maar by dit alles het dit oneindig baie korrespondensie geverg en baie persone was gewillig om my briewe te antwoord. Aan al hierdie persone en liggame wens ek my dank te betuig. Maar die foute is dan ook nie almal myne nie. Vaders maak dikwels foute met hulle kinders se geboortedatums en selfs die kerkboeke bevat foute. 'n Geslagsregister sal altyd onvoltooid bly. Ek laat dan die voortsetting en verbetering aan andere oor. Baie gegewens kon ongelukkig nie aangeskakel word nie. As ek miskien aan sekere mans verkeerde vrouens gegee het, is dit daaraan te wyte dat daar so baie mans met dieselfde naam is, soos Pieter Jacobus of Alexander Floris. Ek het daarin geslaag om sowat 4000 name hierin op te neem, maar weet dat daar minstens nog 'n duisend moes gewees het, wat ek graag sou wou byvoeg, maar nie kon nie. Begin 1931 - 1e uitgawe voltooi 1954. VOORWOORD 1978-UITGAWE deur die opsteller H.L.N Conradie Die Register soos in 1954 gedruk se name is alles in 1969 deur my oorgetik en baie gegewens is bygevoeg. In 1974, toe ek byna 85 jaar was, het ek besluit om die taak weer op groot skaal aan te pak. Gedurende 'n kuier by my kinders op Bloemfontein, het ek die kerkargief deursoek vir Conradie-geboortes. Toe ek tuiskom op Parys, kon ek baie gegewens nie aanskakel nie. Ek het toe 'n beroep in Die Volksblad op Conradies in die Vrystaat gedoen om te help, maar toe die antwoorde maar skraal was, het ek 'n omsendbrief aan al die Conradies van die telefoongidse - meer as 600 - gestuur. Dit het goeie reaksie uitgelok. Maar die Conradies is so wyd versprei deur die jare dat daar nog baie is wat ek nie bereik het nie of wat nie tyd gehad het om te antwoord nie. Baie dankie egter aan diegene wat wel so familiebewus was, dat hulle die moeite gedoen het om te help. My tyd word kort. Ek het reeds op 8 Mei skielik 'n beroerteaanval in die kerk gekry sodat ek tot 'n groot mate verlam was. Maar in antwoord op gebed het ek wonderlik herstel, sodat ek die afgelope week weer baie gegewens kon aanlas. Die Geslagsregister en al my geskrifte oor Conradies wat ek geken het, bemaak ek aan Die Werda Komitee, wat ek vertrou, my werk sal voortsit. Groete van Oom Hennie. PARYS 4.6.1975. Die Conradie-lêer is in my besit maar die belangrikste gegewens is saamgevat in die boekie "Conradie-Saamtrekke". BEN CONRADIE. 25.4.1978. I N L E I D I N G deur die Werda-komitee Die Werda-komitee is in staat gestel om hierdie geslagsregister te publiseer deur die vriendelike hulp van 'n vyftal Conradies wat die uitgawe ruim geborg het. Hiervoor word hulle opreg bedank. Die fondse wat opgebou word deur die verkope van die register sal aangewend word vir die organiseer van die groot Conradie-fees in 1985 wanneer die familie reeds 300 jaar in Suid-Afrika sal wees. Die register word gedruk soos deur oom Hennie opgestel. Dit was 'n eenmanspoging waarvoor ons en die nageslag hom nooit na waarde kan dank nie. Dis sy monument. Die hoop word uitgespreek dat 'n jonger geslag die manne sal lewer wat die register verder sal uitbou en aanvul en veral sal konsentreer op die oorspronge van die Conradies voor 1685. Voordat die leser by die geslagsregister kom, veroorloof die Werda-komitee hom die vryheid om enkele historiese besonderhede by te voeg. Die komitee wil ook waarsku dat die register, soos alle registers van die aard, nie volledig is nie. Die opsteller verstrek self die rede vir die stand van sake. Gebruik dan ook U kopie om U eie familie aan te vul en te bewaar vir die nageslag. Die Werda-komitee sal dit waardeer as sulke aanvullings onder sy aandag gebring kan word. Ons hartelike dank ook aan Mev. Susan Geldenhuys van die Strand wat die tikwerk en kontroleerwerk met aansteeklike en besielende ywer gedoen het. Mag U geloof gesterk word deur die wete dat die Conradies vir byna 300 jaar hier in Suid-Afrika deur ons Hemelse Vader bewaar en gebruik is. Ben Conradie, Sameroeper, Werda-komitee, Maraisstraat 58, STRAND. 7140. 24 April 1978. DIE CONRADIES SÊ DANKIE ! Die lede van die Werda-komitee wat nie betrokke nie nie, het voorgestel dat die volgende in die geslagregister opgeneem word:- "Hierdie Geslagregister sou nie moontlik gewees het nie as die volgende vyf Conradies nie die druk van die register gefinansier het nie en besluit het dat die geld wat deur die verkoop van die register geïn word in trust geplaas word vir die organiseer van die 300-jarige fees in 1985:- Zulch Conradie, Prince Alfred Hamlet, Frans Conradie, Kaapstad, Willem Conradie, Uitenhage, Danie Conradie, Prince Alfred Hamlet, Ben Conradie, Strand" KORT LEWENSKETS VAN H.L.N. CONRADIE. skrywer onbekend Gebore op 14 November 1889 op die plaas Elandsrivier, Prince Alfred Hamlet. Toe hy sewe jaar oud was, het sy pa na Prince Alfred Hamlet getrek. Daar is hy in 1902 oorlede en sy moeder in 1913. Oom Hennie het St. 7 op Prince Alfred Hamlet geslaag en daarna drie jaar op Ceres skoolgegaan waar hy die Junior Sertifikaat, Matriek en Pupil Teachers (T.C3) deurloop het (1907-9). In 1910 is hy na Stellenbosch waar hy die B.A. verwerf het. Hy het in 1914 op Caledon skoolgehou, was skoolhoof op Koppies vir ses maande in 1915, op Ficksburg 1917-22 skoolhoof op Excelsior 1923-27, skoolhoof op Luckhoff 1928-49, Saakgelastigde op Viljoenskroon 1950-1, onderwyser aan die Stofberggedenkskool 1952-59. Hy het vir die tweede maal op Parys afgetree. Kolportasiewerk gedoen vir die N.G.K. Boekhandel tot sy motor in 1969 ingegee het. Hier het hy sy eie tuin van 3/5 morg self bewerk tot sy vrou se been gebreek het en hulle na die Huis vir Bejaardes gegaan het. Op 1 Mei 1974 is sy oorlede en op 22 Februarie 1975 is oom Hennie weer getroud met wed. A.C. Steyn (sy eerste vrou met wie hy 52½ jaar saamgeleef het was Mary Ann van Heerden). Vanaf 1931 het hy 'n leidende aandeel geneem in die organiseer van vier Conradie-feeste en die opstel van die Geslagregister. Eers het hy al die afstammelinge van sy oupa Daniel Jacobus opgespoor en in 'n boekie laat druk en toe in 1954 die geslagsregister van net Conradies laat druk en verder voortgegaan met aanvullings tot 1975. 'n Ander stokperdjie waarmee hy op Parys begin het, was tapisseriewerk waarvan hy 22 stukke gedoen en toe na kelim oorgeslaan het en in sy 87ste jaar nog 'n paar stukke voltooi het. Ook het hy al die tyd volgehou met jukskei speel wat baie tot sy gesondheid bygedra het. Oom Hennie sê: "alles is genade" en aan genade het hy ook sy wonderlike herstel na 'n beroerte-aanval verlede jaar in Mei te danke. 0om Hennie getuig: "Hy het my gedra deur armoede en moeilikhede wat volop was, omdat ek 'n swakkeling was, maar Sy krag is in my swakheid volbring". DIE ONTSTAAN VAN DIE CONRADIE-FEESTE EN -REGISTER. deur die opsteller H.L.N. Conradie. Toe my neef, dr. David Gideon Conradie, omtrent 1907 van Dublin teruggekeer het, het hy 'n sterk nasionale gevoel gehad. Hy was ten gunste daarvan dat Afrikaans verhef word tot skryftaal. Dit weet ek omdat hy eendag op Koelfontein se stoep my die koerant ... ek meen dit was "Ons Land" gewys het waar hy sekere uitdrukkinge onderstreep het, wat, volgens hom, nie Nederlands was nie, maar 'n brousel van Nederlands en Afrikaans. Waarom kan ons nie ons eie taal skryf nie? Hy het my binne 10 minute bekeer tot A.T.V. en toe ek in 1910 op Stellenbosch kom, het ek by die A.T.V. aangesluit, al was hulle 'n klein minderheid wat egter vinnig gegroei het. Neef David het 'n paar toneelstukke in Afrikaans vertaal bv. Piet Se Tante (Charly's Aunt). Maar neef David was ook bewus daarvan dat ons Conradies 'n familie in eie reg is, en hy wou die Conradie-geslagsregister opstel. Ek het in 1907 op Ceres by my oupa se halfbroer "Oom Dik Piet" en Tant Miemie loseer. Hulle het 'n register in hul Bybel gehad van hulself en hul kinders en ek moes dit vir neef David afskryf. Wat van die afskrif en die register geword het, weet ek nie; want toe ek later met die register begin het, was beide nie te vind nie. Jare het verbygegaan en ek het niks weer gehoor van die geslagregister nie. ONS EERSTE CONRADIE-FEES. In die begin van 1931 was ek op ons familieplaas, Koelfontein, Ceres en daar het ek gehoor dat dit in 1932 100 jaar sou wees dat Oupa Danie die plaas gekoop het. Neef David wou hê dat ons dit feestelik vier. Hy was toe Administrateur van S.W.A. en kon nie self teenwoordig wees nie en wou hê ek moes die leiding neem. Hy het dan ook sommer 'n soort program opgetrek vir 'n eendaagse fees. Ek meen dit was by die geleentheid dat hy vir my 'n afskrif gegee het van die Conradies uit de Villiers se Geslagregister. Ek het onderneem om al my oupa se afstammelinge op te spoor en het die 406, plus aangetroudes, in 'n boekie laat druk tot beskikking van die feesgangers. Dit het eers die afstamming van Oupa van ons Duitse stamvader getoon en dan Oupa se afstammelinge. Ek het 'n gedenkplaat laat maak wat in die muur by die voordeur ingemessel is met die destydse muntstukke, met 'n lys van al die Conradie-familielede wat die fees bygewoon het en 'n ander lys van al die besoekers wat teenwoordig was. By die verrigtinge is daarop gewys dat die plaas Nu Munster, naby Wolseley, nog langer in die familie is en ook is versoek om daar ook 'n fees te reël. Die eienaars van Nu Munster, wat ook Koelfontein se fees bygewoon het, het glad nie daarvoor kans gesien nie. Ek het later besluit om al die Conradies bymekaar te roep en wel in Desember 1939 in Die Strand, waar elkeen vir sy eie losies kon reël. Ons het dit Die Kwart Millenium-fees genoem, omdat ons gemeen het dat die stamvader in 1688 saam met die Hugenote aangekom het. Later het ons uitgevind, ek meen deur dr. Hoge, dat hy reeds in 1685 aan wal gestap het. DIE TWEEDE C0NRADIE-FEES In Desember 1939 het ons toe drie dae lank lekker saamgesels oor ons groot manne soos administrateur J.H. Conradie van Kaapland, adm. D.G. Conradie en ook oor die beroemde vrou, dr. E1izabeth Conradie, wat een van ons spreeksters sou wees, maar kort tevore in Amsterdam oorlede is. Ons het komitees in die lewe geroep: (1) Die Werda-komitee bestaande uit myself, Johan (later Speaker van die Volksraad en regter van S.W.A.) en Frans (tans L.U.K. Kaapstad). Die eerste twee was Voorsitter en Sekretaris van die Fees. (2) 'n Wapenkomitee om uit te vind watter van die vier Conradie-wapens, in omloop, ons stamvader s'n was. Ek onthou nie wie die lede was nie. (3) 'n Fondskomitee om die Conradie-fonds hier gestig te beheer. Die lede was Johan en ds. Jac. (4) Ek is gevra om voort te gaan met die geslagsregister. Die volgende Desembervakansie het ek en my seun Dolf (H.L.J.) 'n toer onderneem om kerkboeke na te gaan, op soek na Conradies nl. van Luckhoff, waar ek skoolhoof was, oor Colesberg, Noupoort, Graaff-Reinet, Jansenvillel, Uitenhage, George, Riversdal, Heidelberg, Swellendam, Ashton, Montagu, Robertson, Tulbagh en Ceres. Die meeste werk is egter gedoen met korrespondensie. DERDE CONRADIE-SAAMTREK 1945. In 1945 het ons drie dae lank in die saal van die Sentraal Hoërskool, Bloemfontein vergader en o.a. vertellings gehad van die eienaardige maar opregte Oom Jacob Conradie van Esterhuispoort, Richmond. Hier kon ek die geslagsregister al taamlik volledig behandel. In 1954 het ek die register met harde buiteband laat druk en gereed gehad vir verspreiding by die VIERDE CONRADIE-SAAMTREK IN DES. 1956. Hier in Die Strand het ek weer die geslagregister uiteengesit en die komitees moes verslag doen. Die wapenkomitee kon niks verder nie en later het ek self na Marburg, Duitsland geskryf en die antwoord wat ek gekry het was: Daar is vier Conradie-wapens en as ek kan sê watter een my stamvader s'n is, kan hulle vir my een stuur, so nie kan hulle vir my een opmaak. So is daar gesmokkel met wapens ook aan die Kaap. Regter Johan het, voor hy na S.W.A. gegaan het, die Conradie-fonds in die Kaapse Helpmekaar gestort. In 1969 het ek die hele geslagsregister oorgetik en heelwat aanvullinge gemaak en in 1974 het ek die saak op groot skaal aangepak en hoop om in my 86ste jaar dit heelwat meer op datum te bring. Baie dankie aan al die medewerkers. Ek bemaak my lewensproduk aan die Conradie-nageslag nl. aan die drie lede van die Werda-komitee wat nog in lewe is, nl. Francois Daniel L.V., Barend Jacobus (Ben in die Strand) en Ds. Frederik Johannes as eksekuteurs. VYFDE CONRADIE-SAAMTREK 1985. Besonderhede volg later in die openbare pers - veral in Die Huisgenoot. CONRADIE-SAAMTREKKE: 'n Nuttige verslag in boekvorm oor die werksaamhede van die gehoue saamtrekke is nog by Ben Conradie teen R4. verkrygbaar. (Ben is reeds oorlede - Piet) Herkoms van die CONRADIE naam ============================= Koenraad bevat die ou woord koen, Latyn genes, wat geslag of familiegroep beteken, hoewel party naamkundiges meen dat dit die sin het van koen, dapper. 'Raad' hier is 'n raadsman van sy mense; 'n wyse. Dit is derhalwe 'n 'dapper raadsman van sy familiegroep', soos die Griekse ekwivalent Thrasubulos. Afgelei hiervan is Conradie, en van die eerste lid: Coen, Koen, Kuhn, Kühn, Kohn, en Coenen. By Koenze, Coenze en Kuntze kry ons die verkleiningsuitgang. By Conradie, uit Konrad met 'n Latynse genitief, het ons al die woord Kuni vir geslag of familie gevind (kuni, en rat: raadsman - "Mog hy vir sy mense 'n raadsman wees!" In Koen, Coen, Kunze of Coenze het ons 'n verkorte vorm hiervan; Vol(k)raad ontstaan uit fulo-rat of volk-raad: en raadsman vir sy volk. BRON: Families, Familienaam en Familiewapens. deur: J.A. Heese, G.S. Nienaber, C. Pama. CONRADIE-FAMILIEWAPEN (1) deur die Werda-komitee Deur die jare heen was daar herhaalde kere navrae oor die outentieke Conradiewapen. Daar was selfs firmas wat dit as outentiek bemark het. Op navrae van die Werda-komitee waar die firmas aan die sogenaamde outentieke wapens kom, was daar tot dusver nog geen antwoord nie. Op gesag van 'n deskundige soos dr. C. Pama, konstateer die Werda-komitee dat daar geen sodanige outentieke wapen bestaan nie. Dr. Pama se raad aan die Werda-komitee is dat 'n wapen deur die Conradies ontwerp en in Pretoria geregistreer word by die Buro vir Heraldiek. Hierdie saak sal die aandag van die Werda-komitee geniet by 'n volgende vergadering. BEN CONRADIE. 11.5.1978. CONRADIE-FAMILIEWAPEN (2) deur Piet Conradie In die boek DIE GROOT AFRIKAANSE FAMILIE-NAAMBOEK deur C.Pama, en in 1983 uitgegee deur Human & Rousseau vir Leserskring, is daar 'n kleurplaat met die amptelike Conradie familiewapen. Die wapen is so mooi dat dit ook gekies is om op die agterkant van die boek se stofomslag te verskyn. Hierdie wapen word in 1946 vir die eerste keer vermeld, en toon 'n groot ooreenkoms met die van die gelyknamige Pruisiese familie. Die wapen word soos volg beskryf: Gedeel: I in silwer 'n groen eikeboom; II in silwer 'n swart adelaar met rooi bek en pote. Die regterpoot hou 'n degen (smal, reguit, buigsame wapen wat veral in skermkuns gebruik word) van silwer, en die linkerpoot 'n staf van silwer. Opgestel: 14.1.1999 AGTERGROND: EERSTE DUITSERS AAN DIE KAAP ingevoeg deur Piet Conradie [Duitsers wat na die Kaap gekom het in die tydperk 1652-1806 - vryelik uit Engels vertaal van Linda Zöllner se artikel in Familia 35/1998 No. 4] Ten minste een Duitser, Jacob Cloete, het saam met Jan van Riebeeck na die Kaap gekom, en volgens Hoge in Personalia of the Germans at the Cape, was daar ongeveer 15000 wat aangekom het gedurende die periode van die Hollandse administrasie aan die Kaap, maar nie almal het aangebly nie. Jacob Cloete, of Jacob Cloutten van Köln, was 'n kleurvolle mens wat tragies gesterf het toe hy op 'n aand in 1693 in 'n Kaapstadse straat vermoor is. Die Duitse immigrante het van al die destydse Duits-sprekende state gekom. Die meeste het egter van die westelike gedeelte van Europa en die binneland gekom; die kleinste groep van Bavaria en Oostenryk. Die verklaring hiervoor was dat die suidelike Duitse state oorwegend Katoliek was, terwyl die noordelike state, van waar die meeste immigrante gekom het, oorwegend Protestants was. Die godsdiens bande tussen die Duitse grensgebied en Nederland was 'n sterk koppeling. 'n Aantal predikante wat na die Kaap gekom het was van Duitse afkoms, bv. die dominees Arnoldus Mauritius Meiring van Lingen. E. Arentsz van Emden, Meent Borcherds van Jemgum (oostelike Friesland), H.W. Ballot van Iserlohn en Petrus Kalden van Wesel. Die Dertigjarige Oorlog (1618-1648) het baie van die Duitse state in 'n swak ekonomiese staat gelaat. Gevolglik is baie Duitsers, insluitende oud-soldate, deur die voorspoed van Nederland aangetrek. Politiese grense was vir die mense in die grensgebiede nie 'n ernstige skeiding nie, en uit 'n taalkundige oogpunt was daar min verskil tussen Duits en Hollands. Dit was besonderlik waar van die streekdialekte in oostelike Nederland en westelike Duitsland, waar 'n sterk Saksiese invloed gegeld het. Daar is vandag steeds min verskil tussen die Plattdeutsch (Platduits) wat in Duits-Friesland en die Hollands wat in provinsies soos Groningen gepraat word. Die eerste Duitse immigrante was hoofsaaklik soldate in die diens van die Holland Oos-Indiese Kompanjie (HOIK), maar sommige het hul ontslag reeds so vroeg soos 1657 geneem om Vryburgers te word. Duitsers wat nie meer in die diens van die HOIK was nie, het nie almal op landbou, soos die meeste Hollandse Vryburgers en die Franse Hugenote wel gedoen het nie, maar het begin om 'n aantal ambagte en professies te beoefen. Spoedig was daar Duitse kleremakers, skrynwerkers, messelaars, boukontrakteurs, skoenmakers, ystersmitte, kopersmitte, geweersmitte, silwersmitte, meulenaars, bakkers, landmeters, aptekers, tuiniers en dokters aan die Kaap. Ongeveer die helfte van die geregistreerde privaat onderwysers onder die Hollandse regering, was Duitsers. Verskeie ou geboue wat deur Duitsers opgerig is, staan steeds, en silwerware wat deur Duitsers gemaak is, is gesog by versamelaars van ou Kaapse silwer. Duitse dames het alleen met uitsondering na die Kaap verhuis, met die gevolg dat die meeste Duitse mans met Hollanders en Franse dames getroud is. Duitse bloed het gou met Franse en Hollandse bloed vermeng. Die Duitse taal het plek gemaak vir Hollands, veral omdat, soos reeds genoem is, die Platduits wat die setlaars gepraat het, in iedergeval naverwant aan Hollands was. Ondertrouery tussen die kinders van sulke huwelike het die vermenging versnel, en Duits is dus al minder en minder gehoor, veral omdat Hollands die amptelike taal van die kolonie was. Daarby was die Duitsers versprei tussen die Hollandse setlaars wat die binneland bewoon het - hulle het dieselfde belange gehad en dieselfde terugslae beleef. Hierdie Duitsers het dus spoedig hulle eie identiteit verloor en op alle vlakke met die Hollanders gemeng. Dit word algemeen aanvaar die manier waarop die Duitsers en Franse Hollands gepraat het 'n beduidende rol gespeel het in die ontwikkeling van Afrikaans. 'n Goeie voorbeeld is Joachim Nicolas von Dessin, sekretaris van die Weesheer en boekversamelaar, uit wie se korrespondensie dit nouliks blyk dat hy 'n gebore Duitser was. Sy boekversameling het deur sy bemaking die eerste openbare biblioteek in Suid-Afrika geword. Gedurende die 17de eeu het die volgende bekende Suid-Afrikaanse families stamvaders van Duitse afkoms gekry: Albert Barentsz Gildenhuys van Bergen-Steinfurt, Diederik Janz Putter van Zierenberg, Barend Bürger van Lübeck, Jan Wessels van Hamburg, Matthys Greef van Magdeburg, Hendrik Venter van Hameln, Jan Herbst van Bremen, Jan Oosthuysen van Werden, Boij Booysen van Barlt en Frederik Conradie van Marburg. Bronne Hoge, J. Personalia of the Germans at the Cape 1652-1806. Archives Yearbook for South African History, 1946. Lantern Special Edition: The German contribution to the development of SA. Feb. 1992. Moritz, E. Die Deutchen Einwanderung in die niederlandishe Kapkolonie. 1652 - 1806. Ludwigsburg, 1943. Moritz, E. Die Deutchen am Kap unter der hallamdiche Heerschaft. 1652 - 1806. Weimar, 1938. Vertaal en opgestel 14.1.1999 AGTERGROND: DIE CONRADIE-GESLAGREGISTER deur die opsteller H.N.L Conradie Dit is bekend ons eerste stamvader, Friederich Conradi, uit Duitsland kom, van die dorp Marburg, wat geleë is aan 'n tak van die Rynrivier. Die dorp is geleë in die eertydse provinsie, Franconië wie se hertog, Conrad, in 1911 koning van Dnitsland geword het. By die bestudering van die Geskiedenis van die Middeleeue het ek tot die oortuiging gekom dat die Groothertoë van Franconië, wat ook as keisers van die Heilige Romeinse Ryk gekies was, die ou stamvaders van die Conradies was nl. Conrad I, Conrad II, Hendrik III, Hendrik IV en Hendrik V. Meer as 'n eeu het verloop en toe is die Huis van Hohenstaufen in 1138 weer gekies as Keiser Conrad III. Hy was van die provinsie Swabië, wat geleë was in die suide van dieselfde provinsie wat vroeër Franconië genoem was. Dit grens aan Switzerland of was in die teenswoordige Switzerland. Net soos die vroeër keisers, moes nou ook Conrad III, Frederik I (Barbarossa). Hendrik VI, Frederik II, Conrad IV, Manfred en Conradino 'n felle stryd voer teen die Pous - 'n stryd waarin die keisers soms die oorhand gehad het en dan weer die pouse. In die stryd is Sicilië, In Suid Italië, verower en een seun wat teen sy eie vader party gekies het, het die noordelike provinsie nl. Lombardië, as beloning gekry van die Pous. Dit verklaar o.a. die teenwoardigheid van Conradies in Italië. In die tyd toe Frederik na Suid-Afrika gekom het, het Lodewyk XIV Europa beheer, In die suidelike dele van Duitsland het die Franse dikwels invalle gemaak en, daar die bevolking grootliks Katollek was, het hulle vir Lodewyk verwelkom. Dit is dus moontlik dat ons ou stamvader, wat volgens sekere informasie, ook Kolonel in die Duitse leër was, om sy geloof moes vlug na Holland. Hier het hy waarskynlik kennis gemaak met Harmina Harmse van Dooywaart, die dame met wie hy later getroud is, nadat hy in Suid-Afrika gevestig was. Hier het hy in 1685 aangekom; hy het in 1689 sy eerste leningsplaas gekry nl. Niewendorp, geleë in Drakenstein, aan Simonsberg. 'n Ander plaas, Werda, geleë aan die groot pad van die Paarl na Drakensteinstasie, het in 1712 sy eiendom geword. Hierdie plase is teenswoordig deel van die Rhodes Fruit Farms en Nieuwendorp is die plaas waar Rhodes en later Sir Abe Bailey dikwels buiteverblyf gehou het. Ou vader Frederik moes al hoog in die jare gewees het, toe hy met die Nederlandse dame in die huwelik verbind is. Hulle het ook net twee kinders gehad, van wie een geen nageslag gehad het nie. Ons spruit dus almal uit Johannes Hendrik. Volgens gegewens van Dr. J. Hoge van Stellenbosch, het die weduwee van Ou vader Frederik, by sy begrafnis die sleutel op sy doodskis gesit as bewys dat sy die boedel nie aanvaar nie. Met ander woorde, die oubaas het nie 'n sukses van sy boerdery gemaak nie. Sy seun, Johannes Hendrik, is getroud met die dogter van die eerste eienaar van Nieuw Munster, naby Wolseley (wat vandag nog 'n Conradie-plaas is), Pieter Jacobus Swanepoel. Johannes Hendrik se kinders, is ook almal op Tulbagh gedoop vanaf 1744. L.W. + word gebruik vir "is getroud met" + + "is weer getroud met." Waar bekend word die geboortedatum van die aangetroude tussen hakies gegee, ook die sterfdatum. Die letters toon die verskillende geslagte aan bv. die C's is die derde geslag en kinders van b. H.N.L Conradie. 1954 VIR VERDERE NAVORSING 'n Versoek deur die opsteller H.N.L Conradie In Mei 1977 het die heer Hans-Georg Bleibaum, die bekende genealoog, my die volgende gegewens oor die Conradies uit Duitsland gebring. Ek gee dit soos ek dit ontvang het en vertrou dat die saak verder nagevors sal word deur ons opvolgers. H.N.L. Conradie. o 0 o LEITER : HANS-GE0RG BLEIBAUM. Staminreihe D 2262 LECK Friesenweg 12 CUNTZ / CONRADI. Telefon (04662)2526 Bankkonto: Westbank, Leck. Nr. 43/718312. Zeichen : @ geboren, " getauft. + getraut, o gestorben. I. Cuntz, Andreas. wohnhaft in Allendorf an der Lumda in Hessen um 1600. II. Cuntz, Heinrich, Luth. Bäcker, kam vor 1627 von Allendorf nach Marburg/Lahn, Bürgerbrief 20.7.1627 - 1643 Vormund der Kinder des Adolf Mei - 1643 Eigenkapitalbesitz : 950 Reichsthaler - 6.8.1645 : lehnt Vormundschaft ab - 1652 Stadtleutnant - wird in Marburg ausdruklich als Sohn des verstorbenen Andreas C. in Allendorf erwähnt - wohnt Ledergasse in Marburg. @ Allendorf .... um 1605. o Marburg ...... 1653/4. + Marburg ...... 27.9.1627. mit Catharina Braun, Tochter des Jacob Braun, u.d. .... (I. + Marburg 9.12.1622 mit Johann Wildner). Kinder: 1. Jacob, "Marburg 20.6.1628, konf. 1640. 2. Marie Catharina "Marburg 1.11.1629. 3. Johann Henrich, "Marburg 7.8.163l = III. 4. Anna Elizabeth, "Marburg 15.9.1633, konf. 1643. + Marburg 1.12.1651 mit Johannes Bauer. 5. Anna Catharina, "Marburg 16.2.1636, konf 1646. + Marburg 17.11.1664 mit Ruppert Eckel. 6. Marie Catharina "Marburg 29.9.1639. 7. Elizabeth "Marburg 9.5.1639. III. Cuntz / Conradi, Johann Henrich, Luth. von 1669 bis 1688 pastor/Pafarrer zu Cölbe und Wehrda - (beide Dorfer liegen unmittelbar vor der Stadt Marburg) wird ausdrucklich als Sohn des verstorbenen Henrich C. der als Cuntz nach Marburg kam, erwähnt - wohnung in Marburg / Haus der Eltern Immatrikulation Marburg 1657 - Universität - Marburg 7.8.1631 o Marburg oder Cölbe/Wehrda 4.5.1690 + .... (Aufgebot in Marburg 22.9.1667) mit Anna Elizabeth Schneider, Tochter des Friedrich Schneider, aus Kirchhain bei Marburg. Kinder: 1. Friedrich Henrich @ ca. 1668 - 16.10.1682 Aufnahme auf das Gymnasium in Marburg 1688 Auswanderung nach Südafrika - 2. Catharina Christina "Marburg 14.11.1669. 3. Johann Ludwig, - 1732 Subdiakon, 1734 Archidiakon Marburg 4. Johann Engelhard - Pfarrer in Weitershausen. 5. Johannes "Marburg 7.3.l675. 6. Reinnard Henrich "20.2.1678. 7. Johann Georg, "11.3.1680 Pfarrer in Bacharach, Osthofen. Queue : Marburger Sippenbuch. OPMERKINGS OOR VOORAFGAANDE DUITSE GESLAGREGISTER deur Piet Conradie As 'n leek, en sonder om meer genealogiese inligting as dié hierbo tot my beskikking te hê, die volgende opmerkings: As ons aanvaar dat hierdie inligting korrek is: (1) Kan die Conradies hulle voorgeslagte reeds 400 jaar terugspoor tot by Andreas Cuntz wat rondom die jaar 1600 in Allendorf aan die Lumda in die Duitse staat Hessen gewoon het. Hy het 'n kind gehad met die naam Heinrich wat teen ongeveer 1605 in Allendorf gebore is. (2) Andreas seun Heinrich Cuntz het in 1627 verhuis na Marburg. Marburg, ook in die staat Hessen, is geleë langs die Lahnrivier. In die middeleeue was Marburg bekend vir sy leerlooiery langs die rivier. Marburg word die eerste keer in die jaar 1130 vermeld, en het in 1222 stadstatus gekry. Heinrich is op 27.9.1627 in Marburg getroud met Catharina Braun, dogter van Jacob Braun. Hulle het sewe kinders gehad, waarvan die 3de kind Johann Henrich Cuntz op 7.8.1631 in Marburg in 'n Lutherse gemeente gedoop is. (3) Henrich se seun Johann Henrich registreer as student in 1657, en aan die Marburgse Universiteit in 1631. (As uitvloeisel van die Hervormingsbeweging was dit die eerste Protestantse universiteit in Duitsland, en is reeds in 1527 begin met 11 professors en 30 studente. Marburg was ook die plek waar Luther en Zwingli in 1529 hulle waterskeidende godsdiensgesprek oor die Nagmaalleerstellings gehou het.) Johann het as 'n Lutherse pastoor/predikant van 1669 tot 1688 in Cölbe en Wehrda gearbei - beide dorpies is naby die stad Marburg. Hy is oorlede in Marburg op 4.5.1690. Hy het op 2.9.1667 huweliksgebooie laat afkondig om te trou met Anna Elizabeth Schneider, dogter van Friedrich Schneider van Kirchain naby Marburg. Hulle het 7 kinders gehad, waarvan die eerste seun Friedrich Henrich (beide oupas se name) was, en wie teen ongeveer 1668 gebore is. (4) Johann Henrich, het mettertyd sy van Cuntz na Conradi verander. [sien opmerkings oor die betekenis van Conradie naam in 'n vorige opskrifhoof - moontlik het die verandering iets te doen gehad met die feit dat hy 'n predikant was, en deur die gemeenskap as 'n 'raadsman' gesien is.] (5) Johann se seun Friedrich Henrich is op 16.10.1682 opgeneem in die Gimnasium (hoërskool?) in Marburg. Dit is vermoedelik dieselfde man wat as Conradie stamvader in 1685 na Suid-Afrika gekom het. In die Suid-Afrikaanse Conradie familieregister word die stamvader se naam net as Friederich (met 'n ekstra 'e') aangegee, maar let op dat sy eerste seun Johannes Hendrik (b1) se name 'n ver-Hollandsing is van die seun se oupa se name [Johann Henrich in (3) hierbo] en dat die volgende geslag se eerste seun se name Frederik Hendrik (c1) 'n ver-Hollandsing is van sy oupa (die Suid-Afrikaanse Conradie stamvader) se waarskynlike volle name soos dit uit Bleibaum se inligting blyk. (6) Die stamvader se eerste leningsplaas se naam was Werda. Dit is moontlik dat dit vernoem is na die dorpie Wehrda (naby Marburg in Duitsland) waar sy vader predikant was. (Sien aparte item oor 'Werda' vir meer inligting. (7) Aangesien ons uit ander bronne ook verneem dat die Conradie stamvader uit Marburg gekom het, en saam met die inligting hierbo, soos deur die genealoog Bleibaum deurgegee, het ons waarskynlik hier die korrekte inligting, en is daar nie tans rede om die teendeel te vermoed nie. Piet Conradie BELLVILLE 14.1.1999 WERDA - VAN WAAR DIE WOORD? deur Piet Conradie Die leser sou reeds gemerk het dat die Conradie familie belange behartig is deur die Werda-komitee. Al word dit nie hier pertinent gemeld nie, kan ons aanvaar dat die naam 'Werda' gekies is na aanleiding van die Conradie stamvader se gelyknamige leningsplaas. HAT beskryf 'werda' as 'n woord van Duitse afkoms wat gebruik word as 'n uitroep van 'n militêre wag - betekende: "Wie's daar?" In hierdie sin sou dit 'n goeie betekenis wees vir 'n komitee wat die onbekende lede van 'n familie moet vind en uitsorteer. Die betekenis maak egter nie sin om te verduidelik waarom Friederich Conradi hierdie naam aan sy plaas sou gee nie. Ek wil graag glo dat Friederich se plaasnaam 'Werda' 'n ver-Hollandsing is van die Duitse naam 'Wehrda', wat verwys na die klein dorpie Wehrda, buite die stad Marburg, waar Friederich se vader Johann Henrich predikant was tot 1688. Wehrda was in daardie tyd waarskynlik nouliks meer as 'n kerk omring deur 'n relatiewe digbevolkte landbougebied. Mense het die gebied Wehrda reeds sedert die steentydperk bewoon, en dit word die eerste keer in 1232 vermeld. Daar was reeds lank 'n vesting "Weißenstein" wat in 1249 ineengestort het. 'n Deel van die dorp se beskermingsmure dateer uit die 15de eeu. Wehrda moes ook aan die eienaar van die kasteel in Marburg dienste lewer - in 1751 is bv. 209 werkdae gelewer. In 1974 is Wehrda by Marburg ingelyf. Die naam 'Wehrda' stam af van die Oudhoogduitse woord 'werid' wat 'klam grond aan 'n rivieroewer of op 'n eiland' beskryf. In die geval van Wehrda by Marburg beskryf dit die gebied tussen die Lahn- en Mühlgartenriviere. Dit is dus vir my aanneemlik dat Friederich aan hierdie gebied kon gedink het toe hy sy plaas hier in Drakenstein die naam 'Werda' gegee het. Piet Conradie BELLVILLE 14.1.1999