Friederich
Conradi (*1668-1729), die eerste Conradie wat
in Suid-Afrika aangekom het, was afkomstig uit die dorp Marburg in
Duitsland.
Hy was die seun van Johann Henrich Conradi (*1631-1690), 'n Lutherse
predikant
in die gemeentes van Cölbe en Wehrda, digby Marburg.
Die
Marburger Sippenbuch 1500-1850 verskaf
vir ons die volgende persoonlike inligting oor Johann Henrich Conradi:
-
Johann
Henrich
Cuntz is onder dié naam
gebore in Marburg op 7 Augustus 1631. Hy
was die derde kind van Heinrich Cuntz (*1605-1653), 'n bakker van
beroep, wat voor 1627 van Allendorf na Marburg gekom het en daar in die
Ledergasse gewoon het. Hy was lid
van die Lutherse kerk. Sy
ma
was Catharina Braun wat voorheen met ene Johann Wildner getroud was.
- Johann
Henrich Cuntz was ook 'n lid van die Lutherse kerk. Hy het
in 1657 aan die gimnasium in Marburg gematrikuleer. Hy het volgens
beskikbare
bronne sy van verander na Conradi tydens sy graagverkryging in teologie
aan
Marburg in 1662. In
die
katalogus van Marburg graduandi word die naam Ioannes Chunradi vermeld
wat in
1662 graad ontvang het en uit Eyerhaussen (?) afkomstig was.
-
Hy is op 22
September 1667 in Marburg
getroud met Anna Elizabeth Schneider van die dorp Kirchhain naby
Marburg. Sy
was die dogter van Friedrich Schneider. Hulle het sewe kinders gehad
waarvan
die eerste kind Friederich Conradi was, die stamvader van die Conradies
in
Suid-Afrika.
-
Johann
Henrich Conradi was van 1669 tot 1688 Lutherse predikant in
Cölbe
en Wehrda,
twee dorpies digby Marburg wat nou deel van die stad is.
Die
St Martins
kerk in
Wehrda bestaan vandag nog alhoewel dit meermale verbou is.
- Die
huidige
skip van
die kerk in Wehrda is rondom 1775 gebou. Die kerktoring is teen die
einde van die
13de
eeu gebou en daar is ’n kunstige altaarstuk wat rondom 1500 gedateer
kan word. (Hierdie
inligting is
ontleen uit korrespondensie met Prof Dr Hans
Schneider,
dosent in kerkgeskiedenis aan die Fakulteit Teologie in Marburg.)
Die
kerk in
Cölbe bestaan nie vandag meer nie. Beide hierdie kerke het
destyds
onder die
gemeente van Gossfelden, die naam van ’n naburige dorp, geresorteer.
- 'n
Mens sou natuurlik graag meer wou weet
van die Johann Henrich Conradi. Wat kan ons
te
wete kom
oor sy lewe, sy werk, die uitdagings waarmee hy te make gehad het, sy
lewensuitkyk
en sy nalatenskap? Is daar meer inligting beskikbaar oor sy studies aan
die
Marburgse universiteit of oor sy werk as predikant in Cölbe en
Wehrda? Het hy
dalk iets skriftelik nagelaat? Spesifieke inligting hieroor is
natuurlik nie
altyd beskikbaar nie. Dit
is
egter wel moontlik om met 'n bietjie historiese rekonstruksie meer oor
die tyd
waarin hy gelewe het te wete te kom. Een moontlike
beginpunt is om te probeer vasstel watter
soort
teologiese opleiding hy aan die Philipps-Universität te
Marburg
sou gehad het
in die jare tussen 1657 en 1662. Hieroor is daar wel heelwat inligting
beskikbaar.
Die
Philipps-Universität van Marburg is in 1527 gestig deur die
bemiddeling
van Philip die Grootmoedige, die Landgraaf van Hessen met fakulteite
van
teologie, lettere, regte en medisyne. Die
Universiteit het van die begin af 'n sterk Lutherse inslag gehad en was
trouens die eerste protestantse universiteit wat na die Lutherse
reformasie tot
stand gekom het. Die stigting
van die
universiteit is
voorafgegaan deur korrespondensie met Luther en Melanchton in
Wittenberg. Van
die eerste dosente was
ook afkomstig
uit Wittenberg alhoewel die vroeë aanstellings (uit Erfurt)
ook 'n
sterk
humanistiese invloed weerspieël het. Hierdie
Lutherse
inslag het voortgeduur na Philip die Grootmoedige se dood in 1567 toe
sy
grondgebied onder sy seuns verdeel is. Die tydperk van 1567-1605 was
die tyd
van die Katolieke teen-reformatoriese beweging wat weer gelei het tot
pogings
om die Lutherse teologie daarteen te handhaaf. Die
Fakulteit Teologie te Marburg was trouens 'n
bastion van die Lutherse ortodoksie. Dosente soos Georg Sohn (1574-1584) en
Aegidius Hunnius (1576-1591) het die
Lutherse leer verdedig, ook waar nodig téén die
gereformeerde teologie soos
verteenwoordig deur Johannes Calvyn.
In
1605 het Moritz, 'n afstammeling van
Philip die Grootmoedige, die landgraaf van Hessen-Kassel geword. Sy
regeringstyd is steeds gekenmerk deur godsdienstwiste
tussen
Katolieke, Lutherane en gereformeerdes (Calviniste). Die
rede hiervoor was die wydverspreide beginsel
dat elke grondgebied 'n eie godsdienstige inslag gehad het. Politieke,
ekonomiese en godsdienstige twiste het mekaar dus wedersyds
beïnvloed. Moritz se
beleid was een van
bemiddeling tussen Lutherane en
gereformeerdes. Met
die doel
het hy 'n hervorminsgplan vir die Universiteit van Marburg opgestel. Sy pogings
tot bemiddeling het egter misluk. Toe hy 4
Lutherse dosente
inroep en eis dat hulle die plan moes ondersteun, het hulle geweier. Hulle
het toe na Giessen uitgewyk wat
steeds deel van die groter gebied van Hessen was, maar waar die
Lutherse inslag
gehandhaaf is. As gevolg hiervan het die Fakulteit Teologie in Marburg
spoedig
'n meer gereformeerde oriëntasie verkry. Kontak
met die
gereformeerde kerk in Nederland is in die tyd versterk en dosente soos
Georg
Cruciger (1605-1620) het aan die beroemde sinode van Dordt (1618-1619)
deelgeneem. In die tyd is die beroemde Johannes Crocius
(1617-1624,1653-1659)
ook in Marburg aangestel.
Die
dertigjarige oorlog het in 1618 uitgebreek. Dit
was 'n lang, uitgerekte, bloedige en
verwoestende oorlog waarin godsdienstige, politieke en ekonomiese
oorwegings
almal 'n rol gespeel het. Die stad
Marburg was
ook in
hierdie konflik vasgevang. Die stad is meermale geplunder; daar was
hongersnood, pes en alle vorms van menslike ellende. Toe Marburg in
1624 onder
die heerskappy van Darmstadt oor die hele Bo-Hesse gekom het, het die
universiteit in 1625 nuwe statute aanvaar. Daaronder het van die
Lutherse
professore soos Johannes Winckelmann (1592-1605, 1624-1626) en
Balthasar
Mentzer (1596-1605, 1624-1627) na Marbug teruggekeer. In die oorlogstyd
kon die
Universiteit van Marburg egter kwalik goed funksioneer. In Desember
1647 is
Marburg nog eens deur die keiserlike korps geplunder. Die
Vrede van Westfale (1648) het voorlopig 'n
einde gemaak aan die dekades van oorlog en godsdienstwiste.
Na
afloop van die oorlog is die Universiteit van Marburg weer in 1653
oopgestel. Johannes Crocius is as rektor aangestel. Hy
was van gereformeerde oortuiging, was vir meer
as 40 jaar die woordvoerder van die Landskerk van Hessen-Kassel, was
betrokke
in strydgesprekke met ortodokse Lutherane soos Hoë von
Hoënegg en met Jesuïte,
maar het as rektor nietemin 'n beleid van groter kerklike
verdaagsaamheid
voorgestaan. Crocius en
Sebastian Curtis
(1653-1684) was
die eerste dosente in teologie na die heropening van die universiteit. Laasgenoemde
het in Marburg, Strassburg,
Zürich, Basel en Leiden gestudeer en die suiwere gereformeerde
leer verdedig,
by name die infralapsariese beskouings soos geformuleer by die Sinode
van
Dordt..
Die
dekade of wat na die dertigjare oorlog het daarom in die teken van
die gereformeerde ortodoksie gestaan. Die
klem het in die tyd op die oorlewering, verdediging en absolute
geldigheid van die "regte" leer (orto-doksie) geval. Heterodokse
opinies is nie geduld of geleer nie. Persoonlike
vroomheid
en geleerdheid (pietatis et sapiens) is beklemtoon. Die biblioteek van
die universiteit
was slegs een keer per week oop vir twee uur lank en dan slegs vir die
professore! Die studente moes dus aantekeninge maak van die professore
se
voorlesings. Landgraaf
Wilhelm VI het 'n godsdiensgesprek oor
die verskille tussen protestantse rigtings georganiseer wat van 1-9
Julie 1661
in Kassel plaasgevind het. Dosente in teologie in Marburg
soos
Sebastian Curtius en Johannes Hein
(1661-1686) het aan hierdie godsdiensgesprek deelgeneem en die
gereformeerde
leer daar verdedig teenoor Lutherane soos Masäus en Henichen.
Ten
spyte van die
sterk klem op die suiwerheid van die gereformeerde
leer was
daar tog ook 'n
aksent op die gemeenskap van gelowiges oor die grense van kerklike
dogma heen
en 'n soeke na die duursame eenheid van die onderskeie konfessies.
In
die dekades wat hierop gevolg het, is die klem op gereformeerde
ortodoksie gehandhaaf maar die dringendheid van die konfessionele
politiek het
tog getaan. Dosente soos Georg Stannarius (1660-1670), Johann Georg
Crocius
(1661-1674) en Heinrich Duysing (1670-1691) is beïnvloed deur
Johannes Cocceius
(1603-1669) se federale teologie. Hierdie
teologiese rigting was ’n poging om die gereformeerde ortodoksie
van die dag te versag deur die verhouding tussen God en mens as ’n
persoonlike
verbond met wedersydse verantwoordelikhde voor te stel. Dit
het
later bygedra
tot die opbloei van die piëtisme en sou tot aan die einde van
die
18de eeu die
dominante teologiese denkrigting in die teologiese opleding aan Marburg
wees.
Ander dosente in teologie aan Marburg was Reinhold Pauli (*1674-1682),
Samuel
Andreae (1683-1699) en Philipp Johann Tilemann (1685-1708). Die debatte
het in
die tyd elders heen verskuif, byvoorbeeld na polemiek met Socianisme en
Rennaissance humanisme. Daar was in hierdie dekades 'n sterk klem op
evangeliese vroomheid, gebedsoefening en barmhartigheid. Die
invloed van die
pietisme van Philipp Jakob Spener (*1635-1703) wat rondom hierdie tyd
in
Frankfurt en Halle op gang gekom het, was veral merkbaar.
Hierdie
mense het dus in Marburg gewerk in die laaste studiejare van
Johann Henrich Conradi en in die tyd waarin hy as predikant in
Cölbe en Wehrda
werksaam was. Hoewel
daar nie
spesifieke historiese inligting beskikbaar is nie, sou 'n mens kon
aanneem dat
Johann Henrich Conradi se lewe en denke deur hierdie konteks
beïnvloed is.
Daar
is egter nog 'n faktor waarmee 'n
mens rekening moet hou ten opsigte van die denkklimaat wat in Marburg
geheers
het in hierdie dekades, naamlike die moderne, meer rasionalistiese
denke van
René Descartes (1600-1650). Descartes se
volwasse lewe is
oorheers deur die dertigjarige oorlog. Hy
was ook 'n oorlogskorrespondent in hierdie tyd. 'n Mens sou kon
sê dat
Descartes op soek was na 'n nuwe grondslag waarop die Europese
samelewing
gestruktureer kon word. Die godsdienstige twiste het klaarblyklik
daarop gedui
dat spesifieke godsdienstige oortuigings nie so 'n basis kan verleen
nie. Dit het
Descartes daartoe gelei om aan
alles te begin twyfel. Die
enigste punt van sekerheid wat hy kon vind was in die menslike rede. Dit
is verwoord in sy beroemde stelling:
Ek dink daarom is ek (cogito ergo sum). Om dit eenvoudig te stel: die
moderne
denkklimaat, wat deur Descartes ingelui is, het daarvan uitgegaan dat
'n nuwe
grondslag vir die samelewing gevind kan word as almal net hulle gesonde
verstand gebruik, krities oor alles nadink en nie bloot die waarheid
van
oorgelewerde kerklike oortuigings sonder meer aanvaar nie. Hoewel mense
met
mekaar oor godsdiens kan verskil, deel alle mense dieselfde basiese
redelike
vermoëns. Altans, so het die moderne denkklimaat veronderstel.
Die
eerste tekens van die invloed van Descartes aan die Universiteit
van Marburg is reeds in die universiteit se nuwe statute van 1653 te
bespeur.
Hierdie statute beklemtoon die gereformeerde oriëntasie van
die
universiteit.
Die geldigheid hiervan moes in alle fakulteite en ook teenoor
filosofiese
strominge gehandhaaf word. Deur
die toedoen van Dauler is 'n anti-Cartesiaanse klousule in die statute
bygevoeg. Hiervolgens
mag Descartes se
beskouinge nie aan
die universiteit geleer word nie aangesien dit net tot verwarring sou
lei. Dit
het natuurlik vrye navorsing
en
meningswisseling geïnhibeer. Dit het ietwat later egter ook 'n
beweging téén
binding aan kerklike norme en vir kritiese denke in Marburg wakker
gemaak – iets
waarvan die Universiteit van Marburg eeue later juis bekend geword het.
Na die
herroeping van die Edik van
Nantes in 1686 het die teoloog
Thomas Gautier (1687-1709) en die filosoof Denis Papin (1688-1695),
twee Franse
Hugenote na die gereformeerde stad Marburg toe gevlug. Gautier was van
Dauphine
afkomstig, is vervolg in Frankryk en het later na Geneve en
Zürich
uitgewyk.
Hulle het aanstellings aan die Universiteit van Marburg bekom en veral
Papin is
deur die denke van Descartes beïnvloed. Dit
het gelei tot 'n openbare gesprek tussen Papin en
Gautier wat in 1692
gehou is. Die invloed
van die modernisme en die
Verligting
in die Fakulteit Teologie het egter eers veel later met die aanstelling
van
Daniel Wyttenbach (1756-1779) werklik sigbaar geword.
'n
Mens sou dus hieruit kon aflei dat die
lewe en arbeid van Johann Henrich Conradi afgespeel het in 'n tydperk
van
gereformeerde ortodoksie tussen die godsdienstige twiste van die
dertigjarige
oorlog (waartydens hy grootgeword het) en die koms van die modernisme
wat
spoedig op sy dood sou volg.
Bronne
Birt,
Theodor 1914. Catalogus
studiosorum Marpurgensium 1653-1830.
Marburg.
Falckenhainer,
Wilhelm 1904. Personen-
und Ortsregister zu der
Matrikel und den Annalen der Universität Marburg 1527-1652.
Marburg.
Habicht,
ME & Diehl, W 1927. Suchbuch
für die marburger Universitätsmatrikel von 1653 bis
1830.
Darmstadt: Verlag
Hess Chronik.
Heppe,
Heinrich 1873. Geschichte
der Theologischen Facultät zu
Marburg. Marburg.
Hermelink,
H & Kähler, SA
1927. Die
Philipps-Universität zu Marburg 1527-1927. Marburg:
N.G.
Elwert’sche
Verlagshandlung.
Schneider,
Hans 1991. Marburg,
Universität. TheologischeRealenzyklopaedie
Vol 22, 68-75.
Zeller,
Winfried 1970. Die
Bedeutung der Universität Marburg für die
Geschichte der Theologie. In Jaspert, B (hrsg): Frömmigkeit
in
Hessen.
Beitr. zur hessischen Kirchengeschichte. Marburg.
Ernst
M. Conradie
(ab1c1d8e3f3g4h2i4j2)
Departement
Godsdiens en Teologie, Universiteit van
Wes-Kaapland
9/12/2003